U, Here, is tog ons Vader (Jesaja 63:7-14) – Francois Malan
Die oorwinningslied in 63:1-6 straal Israel se vertroue in die Here uit, dat Hy sy volk gaan verlos. Maar hier word dit skielik afgebreek met ‘n klaaglied waarin Israel hulle huidige ellendige toestand bekla en dit ten spyte van die Here se beloftes. Hier word gefokus op die geweldige verskil tussen geloof en omstandighede. Die hoë verwagtings van Israel op grond van die beloftes van die Here het nog nie wonderlik uitgewerk nie, en vandaar hierdie klagtes en versoeke.
63:7-14 Hulle onthou die Goeie Ou Dae.
Die huidige ellende is hulle klagte teen God en hulle gebed om verlossing deur Hom word gestel teen die agtergrond van die Here se genade in die verlede, wat die bron van Israel se lewe was. Israel se ryke verlede stel die kontras tussen die genadige regering van die Here in die verlede en Israel se huidige akute nood.
63:7 Die troue liefdesdade (chasedim getroue bewyse van lojaliteit en solidariteit) van die Here sal ek in herinnering roep (deur dit te verkondig): sy roemryke dade, die rykdom van sy goedheid, wat Hy bewys het volgens sy barmhartighede, en die oorvloed van sy troue liefdesdade (chasedim) aan die begin en einde omsluit die lys – dit gaan alles oor die Here se trou aan sy verbond met die huis van Israel, sy buitengewone gee van Homself aan ons, soos die eerste en laaste woord van die teks sê, aan die nageslag van die man wat 1200 jaar tevore teen God en teen mense ‘n stryd gevoer het en dit end-uit volgehou het (Gen 32:28). Israel word hierdeur aangespreek om dit alles te onthou – onthou speel ‘n belangrike rol in hierdie gedig (vgl. Jesus se woorde by die instelling van die nagmaal wat bedoel is dat ons sy kruisdood vir ons 2000 jaar gelede, sal onthou, Luk 22:19).
63:8 Die Here het Hom aan hulle verbind en ‘n goeie reaksie van hulle verwag. Húlle is immers sy volk, kinders wat nie sal lieg nie/nie vals sal optree nie, en Hy het vir hulle ‘n Verlosser geword. ‘n Verbond word gebou op wedersydse vertroue. Die Here was getrou aan sy verbond (v1) en het verwag dat Israel nie ontrou daaraan sal word nie, maar ‘te lewe volgens my verbond’ (Jes 56:4,6). Sy verbond is juis: Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees (Gen 17:7-8; Jer 31:33; Eseg 26:28).
63:9 Hy was nie vir hulle ‘n vyand nie, Hy self was die engel wat hulle gered het (letterlik: en die engel van sy gesig/teenwoordigheid; die Septuaginta lees: dit was geen boodskapper/engel, maar sy teenwoordigheid wat hulle gered het, soos in Eks 32:34; 33:14-16 beskryf ). Die Here se sorg word beskryf met vier woorde: red, verlos, optel, dra, en dit met sy teenwoordigheid, liefde en ontferming deur al die jare. Sy uitredding was nie eenmalig nie, maar ‘n daaglikse optel en dra van hulle, uit liefde vir hulle.
63:10 ‘Die engel van sy gesig’ en ‘heilige Gees’ is terme vir die Here se teenwoordigheid en die agente van leiding, verlossing, redding en van die Here se goedheid, wat Israel teengestaan het, waarteen hulle gerebelleer het met hulle verharde harte (vgl. Jes 1:2 hulle het teen My in opstand gekom; 30:1 rebelse mense; 30:9 ‘n weerbarstige volk; 65:2 en 66:3 ‘n opstandige volk wat hulle eie kop gevolg het);
Hulle het die Here se Heilige Gees bedroef, vir die Here as Persoon (vgl. Hand 7:51; in Mark 3:5 was Jesus diep bedroef oor die Fariseërs se verhardheid wat nie ‘n man se gebreklike hand wil laat genees op die Sabbat nie; Ef 4:30 waarsku: moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag; maar in die Ou Testament was daar nog nie kennis van die Drie-eenheid wat Jesus aan ons kom openbaar het nie).
Die vers laat die terugblik op die genadedade van die Here in die verlede uitmekaar spat. Israel se optrede gaan lynreg in teen die Here se goedheid. Van die begin af het Israel dit moeilik, onmoontlik? gevind om hulle lewe aan die heerskappy van die Here toe te vertrou. Daarom het die Here teen hulle gedraai, hulle vyand geword, wat teen hulle veg. Die Here se persoonlike betrokkenheid by Israel is positief in sy leiding, en negatief in sy oordeel.
64:11-14 Toe dit met hulle sleg gaan ná hulle terugkeer uit die ballingskap, toe onthou sy volk (Israel) die ou dae van Moses (letterlik: en hy het onthou dae van die oudheid Moses sy volk – is dit die Here wat die ou tyd van Moses onthou het of die volk?) – en deur die eeue het Israel met twyfelvrae oor die Here gereageer op slegte tye: Waar is Hy wat hulle deur die see gebring het, herder en sy kudde? Waar is Hy wat sy Heilige Gees in sy (Moses of Israel se?) midde geplaas het?
12 Wat met die regterhand van Moses sy arm/krag verheerlik het, die waters voor hulle gesigte gekloof het om vir Hom ‘n ewige Naam te maak…. (Eks 14:16,21,31) en v13 deur hulle woestynreis, v14 en intog in Kanaän.
As dit sleg gaan met Israel onthou hulle tog wat die Here vir hulle in die verlede gedoen het. Maar die vraag lui: waar is Hy? Dit is ‘n vraag na die betroubaarheid van die Here. Dit laat hulle terugdink en aan Hom dink. Maar hulle het geen idee nie, dat dit juis húlle verset teen sy wil en leiding is wat die Here van hulle vervreem, en ‘n onderbreking bring in die seën van die Here oor hulle. Daarom is die lys van sy dade in die verlede ook die aanklag teen die Here: Waar is Hy nou as Hy nodig is?
In verse 10-14 word driemaal verwys na die Gees van die Here, as die mag wat die bestaan van Israel dra en inspireer. En nou is daardie krag nie aan die werk in hulle lewe as ‘n volk soos in die verlede nie. En daarom is
daar ‘n krisis.
Twee maal word ook daarna verwys dat die Here se reddingsdade met die uittog uit Egipte en die deurtog deur die woestyn vir die Here ‘n Naam gemaak het in Israel en onder die volke, en nou word die roem van die Here deur hulle en die volke betwyfel met hulle vraag ‘waar is Hy.’ Daarmee wil hulle Hom oorhaal om hulle weer te lei en te red (soos Moses gedoen het na die goue kalf-episode, Eks 33:2-3; 15-16.
14b word ‘n gebed waar die Here self aangespreek word: so het U u volk gelei…
Skrywer: Prof Francois Malan