Seën en vervloeking (65:8-16)- Francois Malan

image_pdfimage_print

65:8 Die tweede uitspraak van die Here (‘So sê die Here’) verander skielik van ‘n veroordeling na ‘n versekering van verlossing: ‘soos nuwe wyn in druiwe gevind word en iemand sê: moenie dit verwoes nie (vgl. die titel van Ps 57-59), want daarin is seën…’ – die eerste druiwe word gewoonlik uitgesny omdat dit nie die beste wyn lewer nie, maar wyn van die eerste trossies word aan die Here gewy as dankoffer vir die oes (vgl. Num 18:12).  ‘…so sal Ek ter wille van my dienaars nie die hele (volk) uitroei nie.’ Die oordeel is bedoel om ontslae te raak van die opstandiges teen die wil van die Here, maar ter willle van die enkele getroues wat aan die Here toegewy lewe, word die hele volk nie uitgewis nie (vgl. Jesus se gelykenis van die onkruid tussen die koring, Mat 13:29-30; Gen 18:26). Hulle is die ‘oorblyfsel’ van Jes 1:9; 10:21,22; 11:11,16 die stomp van Jes 6:13.

65:9 Die vers is vol van die belofte van die land aan Abraham en Jakob en hulle saad/nageslag, van die land wat hulle sal kry, hier genoem die bergland na aanleiding van die bergreeks of hoogland wat van noord na suid in Palestina strek. Hier word gepraat van ‘saad’ en ‘erfenis’ en ‘woon’ wat hulle sal erf; en van die Here se uitverkorenes en dienaars. Die ou beloftes wat nog in Israel se verbeelding draal, is nog steeds van krag na meer as ‘n millennium na Abraham en Jakob, al het sommiges tydens die ballingskap en daarna besluit dat die beloftes verval het.

65:10 Die belofte in vers 9 word hier uitgespel: Saron is die vlakte tussen die bergreeks en die see, Israel se westelike grens, en die Agorlaagte is die vallei tussen die bergreeks en die Jordaanrivier, Israel se oostelike grens. Saron verteenwoordig voorspoed en landbou-oorvloed (Jes 35:2; Hooglied 2:1) en die Agorlaagte (Agor hang saam met ‘die dood oor ons gebring’), waar Akan deur die hele Israel met klippe doodgegooi moes word na sy diefstal van  goed wat aan die Here gewy is (Jos 7:11,25-26),  maar word in Hosea 2:14 deur die Here ‘n poort na ‘n nuwe toekoms met wingerde gemaak. Die twee valleie weerskante van die hoogland verteenwoordig die land wat die Here gee aan dié wat Hom gesoek het (1983-vertaling: wat vra na sy wil; Hos 2:1: wat weer sy liefde beantwoord).

Dié gedig met sy oordeel en verlossing wys dat dit geskryf is aan ‘n gemeenskap wat diep verdeeld is tussen soekers om die wil van die Here te doen, en hulle wat nie daarna soek nie, maar hulle eie kop volg, teen die wil en weg van die Here, soos uit Esra en Nehemia blyk. In 65:1 het die Here gesê: Ek het my laat vind deur mense wat my nie gesoek het nie – die Here laat hulle sy oordeel oor hulle vind. Maar aan dié wat Hom soek gee Hy sy vrugbaarheid en voorspoed, anders as Baäl, die afgod van vrugbaarheid.

65:11 Die ander deel van Israel het die Here (Jahweh die Ek is) verlaat en die berg van sy heiligheid vergeet – hulle het die Here prys gegee en na ander gode toe gegaan vir hulle geluk en voorspoed, en op berge en heuwels gaan offer (v7) omdat hulle die berg waarop die tempel staan vergeet. Gad (geluk) is die god van geluk (soos in ‘n dobbelspel) wat geluk sou bring, en Meni (noodlot) die god wat die lotsbestemming/ wat die noodlot bepaal. Israel dek die tafel vir ‘n fees om die god van geluk se guns te wen in plaas van die jaarlikse offers vir die Here; en vul die bekers vir die drankoffers aan die god van die lotsbestemming om hom gunstig te stem, in plaas van die drankoffer wat hulle stamvader Jakob by Bet-el vir die Here uitgegiet het (Gen 35:14), of die daaglikse drankoffer vir die Here by die heiligdom (Num 28:7).

65:12 Die straf van die Here begin met die werkwoord bestem (Menah met dieselfde stam as Meni) : Ek sal jou bestem vir die swaard en julle sal almal kniel vir die slagtery. Swaard en slag beskryf hulle treurige vooruitsig op ‘n skielike dood. Die rede vir die harde oordeel is Israel se onverskilligheid teenoor die Here. Hulle het nie geantwoord en nie geluister nie, maar was ongehoorsaam en het die Here mishaag (twee negatiewe en twee positiewe aanklagte). Die Here wat sê: ‘Hier is Ek’ (v1), kan dit nie sê vir dié wat Hom nie soek of Hom antwoord of na Hom luister nie. Wat hulle gekies het is boos en krenk die Here.  Die eie-wil wat vir God wil dwing om vir hulle te doen wat hulle van Hom verwag, slaan orals deur.

65:13-14 Die sosiale en godsdienstige verdeling in die gemeenskap kom duidelik na vore. Dit is ‘n konflik tussen ‘my dienaars’ en ‘julle,’ die mense wat die afskuwelikhede van verse 2,5,11 beoefen, die opstandelinge teen die Here se wil. Die kontras word uitgespel met vier eweredige stellings wat ‘n weerklank is van Deutr. 28 se seëninge en strawwe. Die digwerk wil elke aspek van die lewe onder  die Here se seën of vervloeking bring (vgl. Mt 25:31-46). Elke stelling word ingelei met die oproep: Kyk! wat dramaties die aandag vra: my dienaars sal deur die Here geseën word om te kan eet/drink/bly wees/sing; maar ‘julle’ sal gestraf word met  honger/dors/skreeu van pyn/huil. Dit raak die materiële bronne van die lewe (hulle liggame), en die sosiale morele toekoms van insluiting en uitsluiting uit die Here se seënende teenwoordigheid (soos Jesus se gelykenis van die 10 jongmeisies wat wag op die bruidegom (Mt 25:1- 13).

65:15 Die simmetriese stellings in verse 13-14 word verder verduidelik in verse 15-16. Julle (die opstandelinge teen die Here se leiding) sal ‘n kenmerk en ‘n leuse word vir die Here se dienaars om iemand te beskryf wat hulle rug op die Here gedraai het (‘n rugsteker word bv. ‘n Judas genoem) of hulle sal vir ‘n teenstander iets sê soos: mag dit met jou soos met die mense van Sodom gaan. Teenoor vers 8 se belofte dat die Here nie die toegewydes sal vernietig nie, sal die Here almal wat daarin volhard om Hom te verwerp, vernietig. Die dienaars van die Here word hier sy uitverkorenes genoem, wat aan hulle die goedkeuring deur die Here se verkiesing gee, teenoor die Here se afkeer van die pad wat die ‘julle’ gekies het (65:12b). En Hy sal hulle met ‘n ander naam noem, soos Jerusalem en Israel nuwe name sal kry (64:4,11). Dit beteken ‘n nuwe identiteit, ‘n nuwe verhouding en ‘n nuwe toekoms vir die gelowiges.

65:16 Dit is ‘n oorgangsvers van die negatiewes en vernietiging van die vorige verse, na die wonderlike beloftes in die volgende verse, en sluit aan by die Here se uitverkore dienaars in vers 15,  ‘(elke dienaar) wat homself in die land (op die aarde?) seën (1983 verduidelik: wat om voorspoed bid) sal homself  met die God van getrouheid seën, en wat in die land (op aarde) sweer, sal sweer by die God van getrouheid…’ Die gedig verander en fokus net op die seën wat berus op God se absolute getrouheid selfs in tye van diepe krisis, ‘want die vorige moeilikhede sal vergeet wees, omdat hulle verberg sal wees vir my oë’ – Die Here vergeet van hulle sonde, teenoor sy onthou daarvan in hoofstukke 63-64 (Jes 31:24; 38:17 letterlik: U het al my sondes agter U gewerp; 43:25;  Jer 31:34; Ps 103:8-12). Die vertroubare God is die grond waarop Israel se daaglikse vertroue op Hom gebou word, ook in haglike en gevaarlike omstandighede.

Verse 1-16 is ‘n ernstige oproep tot die geloofsgemeenskap om te kies. Dié wat die Here soek, sal lewe en geseënd wees. Vir dié wat anders kies, bestem die Here die swaard (v12). Die gedig beklemtoon dat die Here die toekoms van Israel en hulle lewenswyse in sy hand hou.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...