28 Augustus: ‘n Rusbank-Christen verstaan iets nie mooi nie. – Jan van der Watt
Gal 2:15-3:5 (fokus 2:15-21)
Daar kom eendag ‘n ou met wortels in sy ore en ertjies in sy neus by die dokter aan. “Dokter, wat is verkeerd met my?” vra hy. “Ek dink jy eet verkeerd,” sê die dokter.
Ons kan partymaal op godsdienstige vlak net sulke eienaardige dinge doen. Ons kan die regte goed op die verkeerde plek sit. Ons dink ons moet God se werk vir hom doen en verwag dikwels dat Hy ons werk vir ons moet doen. Ons dink byvoorbeeld dat ons maar kan leef soos ons wil, want die genadige God sal alles agter ons regmaak. Aan die ander kant dink ons dikwels ons moet onsself red terwyl God “werkloos” eenkant staan.
Paulus wil hê ons moet oor een ding nie onseker wees nie: ons kan en hoef onsself nie te red nie. Ons hoef nie vir onsself plekke in die hemel te verdien nie (2:21). Dit doen die Here. Daarvoor het sy Seun sy lewe aan die kruis opgeoffer (2:20).
Ek moet nie probeer om self vir my ‘n plekkie in die hemel oop te werk nie. Dit is net te veel gevra. Ek sal dit nooit maak nie. Daarom moet gelowiges die balans in hulle lewens regkry, anders val hulle soos dronk mense gedurig om. Hulle moet gelowig dankbaar wees: gelowig dankbaar, omdat hulle glo Jesus het hulle deel van God se familie gemaak en daarvoor kan ‘n mens net dankie sê. Maar hulle moet ook dankbaar gelowig leef. Hulle moet wys hoe dankbaar bly hulle is om deel van God se familie te wees deur gelowig soos ‘n egte familielid te leef. Daarmee kan die wet hulle wel help deur vir hulle die rigting te wys waarin hulle moet leef.
Christene moenie deurmekaar raak soos die pasiënt hierbo nie. Ons hoef nie God se werk te probeer oorneem nie. Gaan vra God liewer in geloof om jou te red. Maar moenie dink jy kan in die familie van God heeldag op die rusbank lê terwyl God jou werk moet doen nie. Nee, as gelowige moet jy jou roeping as kind van God voluit nakom.