12 Oktober: Moenie weghardloop nie… jy’t werk. – Jan van der Watt
1 Tim 4:1-16 (fokus 4:1-5)
Party Christene is super weghardlopers. Hulle is vir alles bang. Jy mag nie dit nie en jy mag nie dat nie en daarheen mag jy nie gaan nie, en so gaan hulle aan. Ons kry dit van vroeg af in die godsdiens al. Askete was sulke mense wat niks met niemand te doen wou hê nie, omdat hulle dalk iets verkeerd mag doen… Daarom het hulle eenkant in ‘n bos gaan sit of hulleself in ‘n afgeleë huis gaan toesluit. So ontneem hulle hulleself aan ten minste twee goeie dinge wat die Here aan ‘n mens gee: die geleentheid om in hierdie wêreld ‘n positiewe invloed uit te oefen en die reg om sy hele skepping voluit te geniet.
Christene hardloop nie weg nie, veral nie van dinge af weg wat God s’n is nie. Hierdie wêreld is deur God gemaak en Hy het ons daarin gesit om te lewe en dit moet ons voluit doen. Om te lewe beteken om alles met dankbaarheid te geniet wat die Here vir ons gegee het, of dit nou kos nie, musiek, die natuur, selfs rykdom en voorspoed. Ons moet dit geniet, want die duiwel het dit nie gemaak nie. Dis die Here s’n.
En die weghardlopers, aan wie laat hulle God se skepping oor? Dit is dan dat die sonde ook iewers ‘n houvas begin kry en dit wat God mooi gemaak het skeef draai. Ons moet keer dat dit nie met God se skepping gebeur nie. Daarom moet ons as gelowiges wakker wees vir die manier waarop die aarde gebruik word, ons omgewing besoedel word, ons wêreld bestuur word. As dinge skeefloop moet ons nie weghardloop en onsself iewers gaan toesluit asof dit ons nie aangaan nie. Nee, ons moet ons deel doen om te sorg dat God se skepping reg gebruik word. Dit is hoe ons ons dankbaarheid kan wys vir alles wat Hy ons gegee het.
Moenie weghardloop nie, want jy’t werk in die skepping en jy’t baie om te geniet.