28 Oktober: Geen wonder ons kniel voor Jesus nie. – Jan van der Watt
Hebreërs 2:1-18 (fokus 2:14-18)
As ‘n mens mooi daaraan dink, kan dit vreemd klink dat Christene ‘n mens, Jesus, aanbid. Sjoe, ons val voor ‘n Jood wat in die stofstrate van Palestina geloop het neer en sê ons sal alles vir Hom doen. Vir buitestaanders moet dit snaaks klink.
Natuurlik is Jesus ook God, maar waarom het Hy dan mens geword? Kon Hy nie maar as God sommer alles afgehandel het sonder om mens te word nie? God kan mos alles doen.
Die skrywer van Hebreërs verduidelik dat Jesus nie bang was om in die doodskuil van die duiwel in te stap nie. As Hy die duiwel wou oorwin, moes Hy hom in sy hart oorwin, daar waar sy krag vandaan kom (14-15). Die duiwel se krag lê in die feit dat as ‘n mens eers dood is, is jy dood. Daar kan jy nie uitkom nie. Vir Jesus om te wys dat Hy die krag het om die mag van die duiwel te breek, moes Hy in daardie doodskuil instap… en weer ander kant uitstap. Om dit te kon doen, moes Hy mens geword het. As mens het Hy ingestap en uitgestap, en as mense sal ons ook kan instap en uitstap.
Maar daar is nog meer. In die doodskuil van die duiwel het Jesus gevoel hoe dit is om mens te wees. Die duiwel het Hom van alle kante af aangeval, Hom probeer versoek, Hom laat swaarkry, laat ly… ja, al sy geheime toertjies van misleiding waarmee hy mense so maklik uitvang het hy met Jesus probeer, maar sonder sukses. Jesus was die sterker een, ook as mens.
Ja, as ‘n mens mooi daaraan dink, moes dit iets geweldigs gewees het vir Jesus om so in die doodskuil in te stap, met al die gevare en risiko’s. En dit vir ons, ja, nie vir Homself nie, maar vir ons. Geen wonder ons kniel voor Hom nie.