Die Evangelie volgens Lukas: Die geboorte van Jesus word aangekondig (Luk 1:26-38) – Francois Malan
Matteus bskryf die aankondiging van Jesus se geboorte aan Josef. Lukas vertel van die aankondiging aan Maria. Die twee se geslagsregisters verskil ook vanaf Salomo. Die aankondiging aan Sagaria en aan Maria vertoon baie ooreenkomste, terwyl die een aan Maria die een aan Sagaria oortref. Johannes en Jesus word in die Ou Testamentiese volk van God gebore, maar Johannes kondig die koms van God in Israel aan, terwyl God self in die Messias Jesus na sy volk toe kom. Terwyl Johannes in die moederskoot vervul word met die Heilige Gees (1:15), word Jesus deur die krag van die Heilige Gees in die maagd Maria verwek. Om die mens Jesus reg te verstaan moet Hy as ‘God met ons’ verstaan word (Immanuel Mat 1:23).
1:26 In die sesde maand van Elizabeth se swangerskap stuur God die engel Gabriël na die klein geminagte dorpie Nasaret in Galilea van die heidene (Jes 8:23; Mat 4:15). Die Jode wat in Galilea woon is daarom beskou as onrein weens hulle kontak met die heidene. Nasaret lê 115 km noord-oos van Jerusalem. Hierdie keer is die verskyning nie in die heilige vertrek in die tempel in Jerusalem tussen die priesters, soos met die Doper nie, maar by die gewone eenvoudige mense op die platteland (Joh 1:46; 7:52). Anders as die aankondiging aan Sagaria wat ’n verduideliking het oor wie Gabriël is, word hier slegs verwys na Gabriël opdrag. Sy verduideliking van sy opdrag word beklemtoon.
1:27 Gabriël is deur die Here gestuur na ’n meisie (parthenos) wat verloof is aan ’n man met die naam Josef, uit die geslag van Dawid. Volgens Joodse reg was Josef deur die verlowing beskou as haar man, maar omdat die seremonie, waar hy haar na sy huis toe kom haal, nog nie voltrek is nie, het sy nog nie met ’n man gemeenskap gehad nie (1:34) en daarom kan die Griekse woord parthenos hier met ’n maagd vertaal word. Die verlowing het gewoonlik ’n jaar geduur, en was net so bindend soos die huwelik, en kon alleen ontbind word deur ’n egskeiding, en as die man sou sterf is sy as ’n weduwee beskou (vgl. Deutr 22:13-29). Sy word reeds verbind met die geslag van Dawid deur haar verlowing aan Josef (vgl. die Here se belofte aan Dawid in 2 Sam 7:12-13). Die naam van die maagd is Mariam, die Septuaginta LXX se weergawe van die Hebreeuse Miriam (‘rebellie,’ wat saamhang met Mara, ‘bitter’).
1:28 Gabriël groet haar met ‘Gegroet begenadigde (vgl. die woordspel in Grieks chaire kecharitamene; die Hebreeuse groet sjalom: ’heil aan jou wat heil ervaar’), die Here is met jou.’ Sy is deur die Here begenadig, uitgekies vir sy besondere diens. Vir dié diens is die Here met haar is, om haar by te staan. Die Hebreeuse naam Jahweh-Here (Eks 3:14) ‘Die Ek is’ beteken dat Hy persoonlik aktief teenwoordig is (vgl. by Moses, Jos 1:9; by Gideon, Rigt 6:12). Daar is ’n lang lys van die latere manuskripte wat 1:42 hier byvoeg: ‘geseënd is jy onder die vroue (waarvolgens die Ave Maria ‘Gegroet Maria’ geskryf is). Die groet van die engel wys op die groot dinge wat hierop volg, vgl. 1:30-33. Dit was nie die Jode se gebruik dat ’n man ’n vrou met ‘n groet aanspreek nie (vgl. by Joh 4:9); die rabbi’s het gesê dit is verbied – vandaar Maria se reaksie in 1:29.
1:29 Maria is ernstig verward (diatarasso) deur die woorde van die engel, meer intens as Sagaria by die verskyning van die engel (tarasso, 1:12). Sy het gewonder wat die groet tog kon beteken, maar sy vra nie uit nie.
1:30-33 Soos by Sagaria (1:13) stel die engel Maria gerus: ‘Moenie vrees nie!’ Die woord ‘begenadigde’ word verduidelik: ‘want jy het genade by God gevind’ (teenoor sy woord aan Sagaria: ‘jou gebed is verhoor’). Daardeur word haar verrassende verkiesing deur die Here duidelik. Waarvoor sy uitgekies is, word in verse 31-33 uitgespel, telkens met tweeledige sinne:
31 Kyk! (let fyn op): Jy sal swanger word en ’n seun baar – en jy moet hom die naam Jesus gee.
Soos by Sagaria gee die Here self die naam van die kind. Jesus is die Griekse vorm van die Hebreeuse Jehosjua (‘die Here verlos’).
32a Hy sal groot wees – en die seun van die Allerhoogste genoem word.
Dit beteken die Allerhoogste sal hom as sy kind beskou en vir hom sorg. Waarin sy grootheid bestaan word verder uitgespel:
32b-33 Die Here God sal aan hom die troon van sy voorvader Dawid gee –
en hy sal vir ewig oor die huis/nageslag van Dawid regeer-
en aan sy koningsheerskappy sal daar geen einde wees nie.
Sy ewige koninklike heerskappy hang saam met sy seunskap van die Allerhoogste (vgl. Gen 14:18-20). Sy ewige heerskappy oor alles in die skepping vervang die verganklike tydelike heerskappy van die Dawidsgeslag. Johannes die Doper se amp gaan saam met die belofte oor Elia; so word Jesus se messiaanse koningskap gesien as die vervulling van die Here se belofte aan koning Dawid (2 Sam 7:16; Ps 89:30; Jes:9:5-6 oor Hiskia; Dan 7:13-14). Die seun met wie Maria swanger is, is die Jode se verwagte Messias. Hulle verwag ’n aardse verlosser-koning maar hierdie Kindjie sal ewig regeer as die ewige seun van die Allerhoogste.
1:34 Soos Sagaria, vra Maria hoe dit kan/sal gebeur, want sy is nog nie na Josef se huis toe kom haal nie. Maar anders as Sagaria vra sy nie om ’n teken nie (hoe sal ek dit weet? nie’); sy glo die woord en vra om verdere informasie, ‘hoe sal dit wees?’ op watter manier sal dit wees/gebeur?
1:35 Johannes kom uit die wonderbaarlike vrugbaar word van onvrugbare ouers; Jesus kom deur die skeppingswoord van God in plaas van ’n vader. By Johannes is die kindjie in die moeder se liggaam met die Heilige Gees vervul; Jesus is deur die Heilige Gees verwek, as die tweede Adam. Saam met die verduideliking van die rol van die Heilige Gees word die verhullende rol van die skeppingskrag van die Allerhoogste gestel. Daardeur word die teenwoordigheid van die skeppende God verhuld aangedui, soos die verskynings aan Israel in die woestyn met die wolk wat God se teenwoordigheid aandui sonder dat Hy gesien word (Eks 40:34; Num 9:15). In 1:17 word Gees en krag ook langs mekaar gestel.
Vir die eerste maal word die kind ‘heilig’ en ‘Seun van God’ genoem. In 4:34 noem die onreine demoon vir Jesus ‘die Heilige van God.’ In die Ou Testament kan die naam ‘seun van God’ verwys na die koning (2 Sam 7:14, na engele (Ps 29:1) of na Israel as die volk van God (Eks 4:22). Maar die heilige Seun van God wys na die ewige Seun van God wat in die Nuwe Testament vir Jesus gebruik word om sy unieke ewige verhouding met die Vader aan te dui (Mat 14:33; 16:16; Joh 17:24; Joh 1:1-14).
1:36-37 Aan Maria word ook ’n teken gegee saam met die onmoontlike wat God reeds gedoen het: ‘Kyk! (let noukeurig op) na Elisabet se swangerskap; sy wat die beskamende bynaam ‘Onvrugbare’ gekry het (1:25), se onvrugbaarheid is van haar weggeneem en is nou ses maande swanger. Die verwysing na Elisabet se swangerskap is ’n wenk wat die engel vir Maria gee om op te volg. Vir God is die vervulling van sy beloftewoord nie onmoontlik nie. God se woord is ’n werksame, skeppende woord (Gen 18:14; Sag 8:6; Jes 40:8). So versterk die Here Maria se vertroue op sy belofte. Lukas sien ‘n onlosmaakbare verwantskap tussen Elisabet en Maria, tussen Israel en die Christusgemeente (die name van Aäron se suster was Miriam en van sy vrou Elisaba, Eks 6:22; 15:20).
1:38 Maria se antwoord: ‘Kyk, die slavin van die Here; laat met my gebeur soos U gesê het’ – sy stel haarself volledig tot beskikking as slavin van die Here, wat doen wat haar Heer en Meester sê, nog voordat sy die wenk van ’n teken, wat die Here vir haar gee, opgeneem het. Sy het gehoor, geglo en gehoorsaam as voorbeeld vir elke Christusgelowige. Teenoor die verstommende strafteken aan die twyfelende man Sagaria (1:18) stel Lukas die onvoorwaardelike gelowige vrou Maria. Geloof is ’n kinderlike vertroue en oorgawe aan die wil van die Here, nie my wil nie, maar U wil geskied (Luk 22:42) wat dit ook al van my sal vra en vir my sal kos – soos Maria se skandeposisie voor haar verloofde en Jesus se opneem van die straf van die sonde van die ganse wêreld.
Die engel se vertrek laat Maria alleen om in geloof voort te gaan.