Die Evangelie volgens Lukas: Die twaalfjarige Jesus by die tempel (Lukas 2:41-52) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Die storielyn van Lukas loop van die baba (brefos, 2:12,16) deur die Kindjie (paidion, ’n verkleinwoord, 2:27,40) tot die Kind (pais, 2:43); van die gebruik van die naam ‘God die Allerhoogste’ (hupsistos) deur die engel in 1:32,35, en in Sagara se loflied in 1:76 tot ‘Vader’ in die eerste woorde wat Jesus in hierdie Evangelie praat (2:49).

2:41 Soos die wet voorskryf, gaan Josef en Maria elke jaar vir die Paasfees na Jerusalem. Dit is die fees waar die gesin die Here se verlossing van Israel uit die slawehuis met die uittog uit Egipte herdenk (Eks. 12; vgl. Deutr 16:16 vir die drie jaarlikse feeste. Soms was dit moeilik vir mense wat ver bly om al drie die feeste by te woon).

2:42 Toe Jesus twaalf jaar oud was gaan Hy oudergewoonte saam, maar nou om ondersoek te word oor sy kennis van die wet van die Here. Tot op 12 jaar was ‘n Joodse pa verantwoordelik om sy seun touwys te maak in die wet van die Here. Maar voor hy 13 word, wat beskou is as die tyd van geslagsrypheid, word hy ’n bar-mitzvah (seun van die wet). Van nou af is hy self verantwoordelik vir sy lewe voor die Here volgens die Here se riglyne, en is hy lid van die sinagoge.

2:43 Na afloop van die weeklange fees (Eks 13:6), vertrek Jesus se ouers sonder Hom, en sonder om dit agter te kom. Die jonger kinders stap gewoonlik saam met hulle moeders en die ouer kinders saam met die vaders. Saans oornag een dorpie se groep gewoonlik op ’n voorafbepaalde plek. Die kinders loop ook in groepe saam. Die saamstap is ook ’n beveiliging teen aanvalle op pad. Josef en Maria het groot vertroue in hulle voorbeeldige Kind dat Hy sal wees waar Hy behoort te wees. Toe hulle egter tot ruste kom, vind hulle tot hulle konsternasie dat Jesus nie by die groep familie en vriende is nie.

2:45-46 Op die derde dag vandat hulle uit Jerusalem vertrek het (een dagreis ver, een terug, en een om Hom te soek en te vind) vind hulle Hom in die tempel tussen die leermeesters van die Woord. Hy is besig om te luister en vrae te vra. In die sale op die tempelterrein is die leermeesters met gesprekke besig om die wet en die toepassing daarvan te deurvors en onderrig daaroor te gee. Jesus is ’n leerder aan hulle voete (Hand 22:3 soos Paulus aan die voete van Gamaliël). Die lering het gewoonlik met vrae en antwoorde geskied om opvattings te toets, reg te stel en vas te lê, om so die leerder se gees op te skerp. Jesus se antwoorde en vrae toon ’n ywer om te leer.

2:47 Jesus se vrae bewys sy insig in die Woord. Saam met sy antwoorde op wedervrae, is al die hoorders daaroor uit die veld geslaan (eksistamai soos deur die donderweer) en uitermate verbaas. Jesus is tuis in die tradisies van sy volk en is nie teen die leermeesters nie. Dit kom eers later. Die toets of Hy ’n bar-mizvah kan word, word met verbasing oor sy kennis en rypheid geslaag.

2:48 In dié omstandighede kry sy ouers Hom en hulle is oorstelp van verbasing (eksplessomai). Maria spreek Hom aan as Kind (teknon); die woord word ook as troetelnaam gebruik: my liewe Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Jou pa en ek het vreeslik bekommerd (odunaomai) na jou gesoek. Die swaard het reeds begin om deur Maria se siel te gaan (Luk 2:35).

2:49 Jesus kom vir die eerste keer in Lukas aan die woord met twee retoriese vrae: Waarom het julle na My gesoek? Het julle nie geweet dat Ek in die dinge van my Vader moet (deī) wees nie? Hy moet wees waar God teenwoordig is, in sy Huis en in sy Woord. Met sy eerste woorde in hierdie Evangelie noem Hy God sy Vader. So openbaar Hy Homself by implikasie as die Seun van God, soos die engel aan Maria gesê het (Luk 1:35), hoewel Maria na Josef verwys as ‘jou pa.’  Jesus moet Hom begin losmaak van Maria en Josef ter wille van sy taak op aarde. Hy moet besig wees met die dinge van sy Vader, sy kennis van sy Vader, die openbaring van sy Vader, en sy diens aan sy Vader. Dit is sy prioriteit waaraan sy intieme aardse verhoudings ondergeskik moet wees. Ook dit is deel van Maria se via dolorosa.

2:50 Sy ouers kon egter nie begryp wat sy unieke verhouding met sy hemelse Vader is nie, en dat die vyfde gebod, om vader en moeder te eer, ondergeskik is aan die eerste gebod om die Here jou God alleen te dien.

2:51 Jesus se band met sy Vader het egter nie die band met sy ouers verbreek nie, want ook die vyfde gebod kom van sy Vader af. ‘En Hy was gehoorsaam aan hulle.’ Nederig onderwerp Hy Hom aan hulle, maar sy toekomstige weg, wat Hom uit sy ouers se huis sal neem, begin deurskemer (vgl. Luk 4:16-30). Soos in 2:19 bewaar Maria al hierdie dinge gelowig in haar hart. Na Jesus se hemelvaart is sy deel van die dissipelgroep (Hand 1:14). Maria het nie verstaan nie, maar wel gelowig onthou.

2:52 Wat in 2:40 van die Kindjie gesê is, word in 2:52 uitgebrei oor die jongman Jesus (soos van Samuel in 1 Sam 2:26). Die jongman neem toe in wysheid en in liggaamlike gestalte, ook in guns by God en onder mense (vgl. Spr 3:3-4).  Soos 2:40 ’n opsomming is van Jesus se eerste 12 jaar, is hierdie vers ’n opsomming van sy ontwikkeling in sy ouerhuis vir die daaropvolgende 18 jaar, totdat Hy, omtrent 30 jaar oud, in die openbaar begin optree (Luk 3:23). Wat in dié tyd gebeur het, word nie uitgespel nie. Markus 6:3 vertel van sy vier broers en van sy susters, en dat Hy ’n skrynwerker was. Waarskynlik het Hy vir Josef gehelp en ná Josef se dood die rol van voorsiener van die gesin saam met sy broers oorgeneem. Volgens Mat 4:13 het Jesus, nadat Johannes die Doper in hegtenis geneem is, Nasaret verlaat en in Kapernaum gaan woon (vgl. by die huis, in Mark 2:1). Sy moeder en broers is saam daarheen (Joh 2:12), want in Markus 6:3 word slegs gesê dat sy susters nog in Nasaret woon.

Die Bybel sê Hy was sonder sonde (2 Kor 5:21; Hebr 4:15; 7:26; 1 Petr 1:19; 2:22). Vandaar sy toename in guns by God en onder mense. Hy sê self ‘Ek is sagmoedig en nederig van hart’ (Mat 11:29), wat reeds wys in sy gehoorsame onderwerping aan sy ouers (2:51).

image_pdfimage_print

You may also like...