‘n Sondige lewe en vergifnis – Hermie van Zyl
Vraag Ek het in ‘n huis groot geword met ‘n oop Bybel. Is 40 jaar gelukkig getroud, dienswerker en pa van ‘n pragtige dogter. Ek is bi-seksueel en het met die koms van internet begin om fisiese kontak met mans te hê. Ek het ook gereeld na pornografie op internet gekyk. Het altyd baie skuldig hieroor gevoel, maar net voortgegaan. Nou is ek met blaaskanker gediagnoseer en ewe skielik besef ek dat elke mens ook net soveel genade kan ontvang. Ek het Sondag vir Sondag vroom in die kerk gesit, en dan huis toe gegaan en net met my sondige lewe voortgegaan.
Ek glo dat Christus ook vir my sondes gely en gesterf het, maar het toegelaat dat die versoekings van die wêreld my lewe regeer. Nou het ek berou en wil wegbreek van my verlede, pleit vir vergifnis, en ‘n nuwe begin maak. Ek voel egter dat ek die vergifnis nie verdien nie, want nou eers dat die dood my in die gesig staar, wil ek ewe skielik ‘n ommekeer maak. Het ek nie die onvergeeflike sonde gepleeg teen die Heilige Gees nie? Is God se genade so groot dat ek wat behoorlik in die varkhokke van die wêreld geploeter het, vergifnis kan kry?
Antwoord
Die kort antwoord op ons vraagsteller se vraag is ‘n onomwonde en oortuigende: “Ja, God se genade is vir seker so groot dat ons vraagsteller ook vergifnis kan kry!” Maar kom ons brei bietjie hierop uit.
Die probleem met ‘n leefstyl wat opsigtelik nie in ooreenstemming met God se wil is nie, is dat dit jou vervreem van God. Dit gevolg is die opstapeling van skuldgevoelens wat later soos ‘n berg tussen jou en God staan. Mens voel dat God jou op geen manier kan vergewe nie. En so beland mens in ‘n geestelike doodloopstraat. Dan vat die oortuiging ook pos dat jy nie vergifnis verdien nie; jy het te ver gegaan; jou sonde het net te veel en te groot geword. Maar dis nou juis die opspraakwekkende van die evangelie, die goeie nuus van God se genade. Niemand verdien vergifnis nie. Paulus sê baie duidelik in Romeine 3:23-24: “Almal het gesondig en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.” Niemand verdien dit om van ‘n ontsaglike en onbetaalbare skuld wat ons by God het, vrygespreek te word nie.
Hierdie punt word treffend geïllustreer deur die gelykenis van die onbarmhartige amptenaar (Matteus 18:23-35). Die man het ‘n onbetaalbare bedrag wat hy sy baas skuld en word dan alles kwytgeskeld. Wat verder gebeur, is natuurlik laakbaar – dat die man dit toe nie oor sy hart kon kry om sy mede-amptenaar, wat hom ‘n geringe bedraggie geskuld het, ook so te vergewe nie. Maar die punt is, ons is almal tot ons ore toe by God in die skuld, daar is geen manier waarop ons God se vergifnis kan verdien nie, en tog skeld Hy ons alles vry omdat Iemand anders klaar daarvoor betaal het – Jesus Christus. Vergifnis is dus per definisie iets wat jy nie kan verdien nie; daar is niks wat ons eers iets kan doen of ‘n “handjie wat ons moet bysit” om dit vir God “makliker” te maak om ons te vergewe nie. Indien God eers ‘n teenprestasie van ons sou verlang, dan was genade nie meer genade nie. Nee, God se genade is radikaal en onverdiend. Hy vergewe omdat Hy genadig is, en ons kan dit alleen in die geloof aangryp en daaruit lewe. Dus, die oomblik as jy naak voor God staan en jy voel jou sonde is te groot om vergewe te word, dan is jy by die regte adres. God spesialiseer daarin om groot sondes te vergewe. Luister wat sê Hy in Jesaja 1:18: “Al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol” (1933/53 Vertaling). En Jesaja 55:7: “Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan … hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees; … Hy vergewe altyd weer.” En lees gerus die hele Ps 103 om God se hart te beluister. Wat hier uitstaan, is dat God ons sondes van ons verwyder omdat Hy barmhartig en genadig is, lankmoedig en vol liefde. Hy weet maar te goed dat ons broos en stof is, daarom ontferm Hy Hom oor ons.
‘n Mens hoef dus nooit te voel dat jy te sleg is vir God nie. God se hart is oop en Hy ontvang jou net soos jy is. En van daar af begin Hy weer ‘n pad met jou loop om van jou ‘n nuwe mens te maak. Ja, God jou aanvaar net soos jy is, maar Hy los jou nie soos jy is nie. Hy wil van jou uiteindelik iemand maak wat Hom liefhet, van harte dien, en volgens sy wil lewe, uit dankbaarheid vir die groot verlossing wat Hy jou deel gemaak het.
Waar begin ‘n mens weer die drade met God optel, ná ‘n lewe van sonde, soos ons vraagsteller bely? Jy begin waar jy berou het oor jou sonde, soos wat die verlore seun ervaar het toe hy daar in die ver land tussen die varke gesit en verlang het na sy vaderhuis (Lukas 15:18-20). Hy het opgestaan en teruggegaan en vir sy pa gesê: “Pa, ek het gesondig teen God en teen pa, en is nie meer werd om pa se seun te wees nie.” En wat gebeur toe? Die pa het hom innig jammer gekry (= was hom genadig), en het hom met ope arms verwelkom en weer as seun in sy huis herstel. So werk God se genade. God is nie haatdraend of verwytend nie. Hy gaan jou nie voor stok kry oor jy nou dat jy swaarkry jou ewe skielik tot God wil bekeer nie, maar toe dit goed gegaan het en jy die sonde “geniet” het, toe het jy jou rug op God gekeer. Al wat God raaksien, is ‘n opregte hart en opregte berou en ‘n opregte begeerte om Hom weer te dien. Daarom kon Jesus selfs vir die geharde misdadiger aan die kruis wat sy hele lewe weggesmyt het in misdaad, sê: “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” Hierdie man het ter elfder ure tot inkeer gekom, maar God het hom nie verwyt en gesê dat dit nou te laat is nie. Vir God is dit nooit te laat om redding te gee nie.
Ons vraagsteller is verder bekommerd dat hy dalk die sonde teen die Heilige Gees begaan het. Hy hoef hom egter nie daaroor te bekommer nie. Die blote feit dat hy berou het oor sy sonde, wys al klaar dat hy nie die sonde teen die Heilige Gees gepleeg het nie. (Hierdie sonde word ook soms die “onvergeeflike sonde” [Matteus 12:31] of “sonde tot die dood” [1 Joh 5:16-17] genoem.) Hierdie sonde gebeur egter net wanneer iemand uit moedswilligheid die werk van die Gees aan die werk van die duiwel toeskryf (Matt 12:22-32) of wanneer iemand volhardend die Here verwerp en so die Gees se werking in sy lewe uitblus (Efesiërs 4:30; 1 Tessalonisense 5:17; Hebreërs 4:4-6; 10:26-31). Maar ons moet die kontekste waar hierdie uitsprake voorkom, deeglik in ag neem. Hierdie uitsprake is in die eerste plek waarskuwings aan gelowiges om nie ligtelik met God se genade in Christus om te gaan nie. Dis nie beskuldigings dat hierdie sonde reeds tot stand gekom het by die lesers nie. En in elk geval, dis nie vir ons om te bepaal wanneer iemand die sonde teen die Heilige Gees gepleeg het nie. Niemand van ons weet wanneer iemand in sy of haar lewe daardie punt van verharding of van geen-omdraai-meer bereik het waar jy nie eens meer omgee of jy gered is of nie. (Want dis die gevolg van die sonde teen die Gees.) Dis nie vir ons om vas te stel nie. Net God, die hartekenner, weet dit. Ons as mense kan alleen maar die evangelie verkondig en waarsku teen totale afval. En dit is duidelik dat ons vraagsteller kennelik nie daar is waar hy nie meer omgee of hy vergewe word of nie, want hy het berou oor sy sonde en het die verlange om weer met God verenig te lewe.
Om dit nog eens te beklemtoon: Die sonde teen die Heilige Gees gaan oor ‘n besondere soort sonde. Alle sonde bevat ‘n element van opsetlikheid en moedswilligheid, maar hierdie sonde gaan daaroor dat mens die enigste manier waarop God kan red, verwerp, of dat jy die offer van die Seun van God bespotlik maak (Hebreërs 6:6), of die Gees hardvogtig oor ‘n lank tyd weerstaan, op so ‘n manier dat God nie toegang tot jou hart kry nie. Want onthou, die enigste manier waarop God jou hart kan sag maak, is deur die werking van sy Gees. Verder, daar is geen ander offer vir redding as die een wat Jesus gebring het nie. As hierdie heilsmiddele verwerp word, dan kan selfs God jou nie vergewe nie, nie omdat Hy nie wil nie of omdat jou sonde te groot is nie, maar omdat jy Hom nie toelaat om dit te doen nie. Jy wil nie sy “medisyne” vir jou sonde aanvaar nie. En God dwing niemand teen sy of haar wil nie. Hy kom altyd met die sagte aanslag van die liefde. Wie hierdie liefdesaanslag volhardend verwerp, word dan later immuun teen God se liefde en wil dan ook geen genesing meer hê nie. Maar, soos reeds gesê, ons as mense moet ons daarvan weerhou om uitsprake oor ander se geestelike gesteldheid te maak. Net God kan daaroor oordeel.
Dit is duidelik dat ons vraagsteller die vergifnis van God begeer. Hy hoef dus nie te vrees dat hy die sonde teen die Heilige Gees begaan het nie. Solank mens nog God se vergifnis wil hê, is jou hart ontvanklik vir sy redding en kan jy sy vergifnis in die geloof omhels en aanvaar.
Skrywer: Prof Hermie van Zyl