Die Evangelie volgens Lukas: Jesus se optrede in Jerusalem (Luk 19:28-21:38) – Francois Malan
Hiervandaan volg Lukas oorwegend Markus as sy bron. Hy gebruik die vierde blok in Markus 11:1-13:37. Hier en daar word ander oorlewerings ingevleg. Hier is drie afdelings: gebeurtenisse wat met die intog saamhang, gesprekke en verduidelikings, en die toekomsrede.
Die intog in Jerusalem (Luk 19:28-40)
19:28 Na Jesus se optrede in Jerigo en sy gelykenis oor sy wederkoms, is Jesus weer op die pad waar hy vir Saggeus in die boom sien sit het. Hy loop doelgerig voor die skare die 28 kilometer oor die berge en deur die dale na Jerusalem om deur die Jode verwerp te word, te ly, te sterf en op te staan (vgl. sy drie groot aankondigings daaroor in Lukas 9:22, 44; 18:31-33). Daar staan ‘Hy het opgegaan na Jerusalem,’ 800 meter bo seespieël in die Noord-Suid bergreeks, vanaf Jerigo 213 meter onder seespieël in die Jordaanvallei, dit wil sê 1013 meter hoër as Jerigo. Maar daar sal Hy ook aan die kruis verhoog word om almal na Hom toe te trek (vgl. Joh 12:32-33).
19:29-30 Van Jerigo af kom hulle eers by Betanië aan die oostekant van die Olyfberg, daarna by Betfage aan die westekant van die Olyfberg (Lukas volg Markus 11:1 se onduidelike volgorde van eers Betfage en dan Betanië; vanuit Jerusalem sien ‘n mens eers Betfage en dan Betanië). Van Betfage stuur Jesus twee van sy dissipels om die vul te gaan haal (volgens Mark 11:2 ’n donkievul). Sagaria 9:9 lui: ‘Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is ’n oorwinnaar (Die Griekse vertaling, die Septuaginta: ‘verlosser’), hy is nederig en hy ry op ’n donkie, op die hingsvul van ’n donkie.’ Jesus kom om dié profetewoord te vervul. Hy is die koning, met die Heilige Gees gesalfde (Messias/Christus; Luk 3:22), die regverdige (1 Joh 2:1; vgl. Matt 27:19; Luk 23:47); oorwinnaar/verlosser wat die sonde oorwin en ons daarvan verlos (Luk 2:11), nederig (Matt 11:29). Niemand het nog ooit op die donkievul gesit nie, ongeskonde rein vir gebruik deur die Here, soos die paaslam sonder liggaamsgebrek (Eks 12:5), soos Moses se rooi koei vir die sondeoffer (Num 19:2) en die Filistyne se melkkoeie wat die ark moes terugbring (1 Sam 6:7). Jesus kom uit die nageslag van Juda vir wie Jakob geseën het as die oorwinnaar met ’n donkie as rydier (Gen 49:10-11). Teenoor die trotse perd as oorlogsdier, is die nederige donkie teken van sy koms in vrede.
19:31 As iemand daaroor navraag doen moet hulle sê: ‘Die Here (ho kurios) het hom nodig.’ Jesus het konstant van Homself gepraat as ‘Die Seun van die Mens,’ ’n ware mens, maar verwys nou na Homself as ‘Die Here.’ So gaan Hy Jerusalem in, om as ware mens en ware God vir die sonde van die mensdom te sterf.
19:32-34 Hierdie Here beskik oor al die diere op duisende heuwels (Ps 50:10) en die eienaars van die donkievul aanvaar sy seggenskap (die eienaars, hoi kurioi; die woord word gebruik vir eienaars, here, konings en vir die Here; Lukas speel hier met die twee woorde om Jesus se goddelikheid te beklemtoon teenoor die ander eienaars. Die ander Evangelies praat nie van ‘die eienaars’ nie). Jesus is die eintlike Eienaar van alles. Dat Hy die Here is word deur Lukas beklemtoon. Markus 11:3 het nog ’n belofte dat die donkie dadelik teruggestuur sal word. Matteus praat van ’n donkie en ’n vul, en dat die eienaar die twee dadelik vir die Here sal stuur (Matt 21:2-3). Johannes 12:14-15 het net die verwysing na Sagaria 9:9.
19:35-36 Jesus ry teen die Olyfberg af deur die Kedronspruit Jerusalem binne onder die mense se verering. Hulle sprei hulle klere op die donkie en op die pad, om ’n erepad vir Hom te maak, soos met Jehu se kroning (2 Kon 9:11-13). Markus 11:8 en Matt 21:8 het ook nog takke met blare op die pad (vgl. Ps 118:27); Johannes 12:13 praat van palmtakke waarmee hulle Jesus tegemoetgegaan het. Hulle laat Jesus op die donkie klim – epibibazō laat klim/ry op; dieselfde woord word in die Griekse vertaling van 1 Kon 1:33 gebruik. Jesus, Seun van Dawid (Luk 1:32), ry Jerusalem binne soos Dawid se seun Salomo op Dawid se muil Jerusalem binne gery het na sy salwing by die Gihonfontein in die Kedrondal. Daarmee is die belofte van die Here aan Dawid vervul: ‘Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd voortbestaan’ (2 Sam 7:16; vgl. Amos 9:11 dat die Here die vervalle hut van Dawid weer gaan opbou). In die nuwe bedeling word die vervalle hut van Dawid die koninkryk van God, met Jesus as die gesalfde nederige Koning.
19:37-38 Die skare wat saam met Hom teen die steil afdraande van die Olyfberg af beweeg sien Jerusalem en die tempel oorkant die Kedrondal voor hulle lê. Hulle roep entoesiasties die woorde van Ps 118:26 uit ‘Geseënd is Hy (die Koning – wat ook in Joh 12:13 bygevoeg is by Ps 118:26), wat kom in die Naam van die Here.’ Lukas voeg hier die woord koning in om geen twyfel te laat dat dit ’n kroningsprosessie is nie (Luk 13:35 het nie die byvoeging nie).
Ps 118:26 is die seëngroet waarmee die priester gewoonlik die pelgrims by die paasfees begroet. Daarby roep die skare: ‘Vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste.’ Jesus gaan met ’n groot skare vreugdevolle juigende aanhangers die stad binne. Hulle vreugde besing die Naam van die Here – sy genadige persoonlikheid (vgl. 18:43). Die rede vir hulle vreugdesange is die wonders wat Jesus al gedoen het, en waarvan hulle getuies is. Dit is voortekens van die komende koningskap van God wat hulle in Jerusalem verwag (o.a. op grond van Sagaria 14:4). Lukas voeg by: ‘vrede in die hemel,’ terwyl die engele ‘vrede op aarde’ gesing het (Luk 2:14) – vrede in die hemel verwys daarna dat God versoen is met die mensdom. Die skare verwag dat God se koningskap, wat in die hemel herstel is, deur Jesus vanuit Sion op die aarde kom aanvaar en bewerk. Ps 118:25 bid om verlossing. Jesaja 9:5 het Hom die Vredevors genoem. Lukas vervang die Hebreeuse woord ‘Hosanna’ in die ander Evangelies, met die Griekse word doksa (heerlike verstommende mag, verskyning in heerlikheid, eer, grootheid) ‘heerlikheid in die hoogste’ – met verwysing na God. Die atmosfeer is gelaai met die verwagting van die Messias en die entoesiasme van die skare ken geen perke nie.
19:39 Die Fariseërs in die skare, wat waarskynlik saam met die skare uit Galilea gekom het, was die leiers in die sinagoges in die dorpe. Hulle beskou Jesus as ’n leermeester (didaskalos) – nie as die verwagte Messias, die nuwe koning van Israel nie. Daarom sê hulle Hy moet sy leerlinge (mathêtai volgelinge, leerlinge, dissipels) bestraf (epitimaō bestraf, gedrag afkeur, dreig). Hulle moet ophou met die valse verering van hulle leermeester as die verwagte Messias. Daarby het Goewerneur Pilatus vanuit Sesarea gekom om vanuit die Burg Antonia ’n ogie te hou oor die fees, en sy soldate kan onder die volk inspring om ‘n oploop met geweld te onderdruk. Markus het nie hierdie reaksie van die Fariseërs nie, vgl. egter Matt 21:15-16 na die reaksie van die Sadduseër leierpriesters toe Jesus op die tempelterrein kom. Die priesters het die offers by die tempel in Jerusalem gebring; die Fariseër skrifkenners het die volk onderrig. Beide groepe was deel van die Joodse Raad van 70, die Sanhedrin; Johannes 2:19 vertel net van die Fariseërs wat moedeloos vir mekaar sê dat die hele wêreld agter Jesus aan loop.
19:40 In sy antwoord verwerp Jesus die Fariseërs se waarskuwing en bevestig Hy sy koningskap. As Jesus se koningskap verwerp word, sal dit deur die klippe se uitroepe gevolg word. Dit is ’n spreekwoord uit Habakuk 2:11 wat die Here se straf op die Galdeërs van Babel aankondig omdat hulle baie volke uitgeroei het: ‘Selfs die klippe in die mure skreeu oor wat jy gedoen het.’ Deur Jerusalem se verwerping van die proklamasie van Jesus se koningskap bring hulle die oordeel oor hulleself, wat op die vernietiging van hulle en hulle stad en sy mure gaan uitloop (vgl. Luk 13:35; 21:5-6). In 70 n.C. word die stad deur die Romeine ingeneem en verwoes. Dit word in die volgende verse uitgespel.