Die Heilige Gees – vroeë kerk en vandag – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Willie vra:

Die invloed van die Heilige Gees op die Christene van die vroeë kerk het ongetwyfeld groot veranderinge in mense se lewens teweeg gebring. (Na aanleiding van Galasiërs 3 waar Paulus hulle uittrap omdat hulle so gou begin dwaal het nadat God groot wonders by hulle gedoen het.) Dit lyk of die Heilige Gees nie vandag ook dieselfde effek het in die kerk nie. My vraag is hoekom dit nie so is nie en wat ons dan doen om in ons lewens ‘n struikelblok te veroorsaak vir dit wat by die vroeë kerk gebeur het?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Vanuit ‘n sekere hoek gesien, is dit inderdaad so dat die beeld van die vroeë kerk een is waarop vandag se kerk nogal jaloers kan wees. Byvoorbeeld, as ‘n mens die Handelinge-verhaal lees, word vir ons ‘n prentjie geteken van gelowiges wat mededeelsaam is en mekaar van harte ondersteun, van wonders wat gereeld voorkom, en waar die getalle voortdurend uitbrei (vgl Hand 2:41-47; 4:32-35; 5:11-14). In die Romeinebrief praat Paulus juis van die bedeling van die Gees wat aangebreek het en dat ons nou nie meer deur ons ou natuur beheers word nie, maar deur die Gees (Rom 8:1-17, vgl veral v4,9-11). En 1 Korintiërs vertel van die besondere werking van die Gees in dié gemeente, in so ‘n mate dat Paulus waarsku dat mense nie hoogmoedig moet word hieroor nie. Dis nie net diegene wat in tale praat wat die Gees ontvang het nie; nee, die Gees manifesteer op verskillende maniere en as verskillende gawes, en elkeen hiervan is belangrik vir die opbou van die gemeente (1 Kor 12; 14). Maar die punt is dat hierdie gemeente in ‘n hoë mate die werking van die Gees beleef en gemanifesteer gesien het.

Maar ons moenie dink dat alles in die vroeë kerk getuig het van die besondere werking van die Gees in hulle midde nie. In die einste Korintiese gemeente het daar ook baie uitwasse voorgekom. Paulus kon nie met hulle praat soos met volwasse Christene nie omdat afguns en partyskappe aan die orde van die dag was onder hulle (1 Kor 3:1-9); onsedelikheid het voorgekom (1 Kor 5:1); gelowiges het mekaar onnodig hof toe gesleep (1 Kor 6); daar was ernstige meningsverskil oor die eet van vleis wat aan afgode geoffer is (1 Kor 8); ensovoorts. In die Hebreërgeskrif word weer vertel van die traagheid in geloofsvolharding in die gemeente, in so ‘n mate dat totale afval gedreig het en die skrywer moes waarsku dat ‘n mens wat totale afval ondergaan het, nie weer tot bekering vernuwe kan word nie (Heb 5:11-6:8). En soos ons vraagsteller opmerk, die Galasiërs word as “sonder begrip” uitgebeeld (Gal 3:1). Hulle het die volle evangelie van genade by Paulus gehoor en ervaar, maar kort voor lank was hulle weer aan die terugval in hulle ou weë. Hulle het klaarblyklik terugverlang na die veiligheid en struktuur wat die wet van Moses aan hulle lewe gegee het.

Alles was dus nie so voortreflik in die vroeë kerk soos ons soms dink nie. Die punt wat ek probeer maak, is dat ‘n mens nie die vroeë kerk moet idealiseer nie. Ja, hulle het die gawe van die Heilige Gees ontvang, en ook die vrug daarvan gelewer. Maar so het die sonde ook nog sy tol geëis. Want dit moet ons weet: solank ons op aarde is, sal ons nie aan die suigkrag van die sonde ontkom nie. Tog word ons deur die Gees in staat gestel om nie slawe van die sonde te wees nie, nie toe te laat dat ons daardeur beheers word nie; nog meer, ons kan nou die vrug van die Heilige Gees begin voortbring in ons aardse lewe.

Struktureel gesproke is daar dus geen verskil tussen die vroeë kerk en die kerk van ons eie tyd nie. Die vroeë kerk was nie beter af as ons nie; hulle lewe was nie op ‘n hoër geestelike peil ons s’n nie. En al voel dit soms so – net omdat ons eerstehandse ervaring van ons eie tyd het en die vroeë kerk net “op papier” ken – is die kerk se geestelike lewe vandag nie noodwendig van ‘n slegter standaard as destyds nie. Soos bostaande oorsig toon, lewe beide vroeë en eietydse kerk in die bedeling van die Gees, waar God se krag in ons vrygelaat word. Maar ons het beide ook te doen met die stryd teen die sonde, wat maar altoos dreig om van ons lewe besit te neem. Iemand wat vandag die kerk in Suid-Afrika – of in watter deel van die wêreld ook al – moet beskryf, sal ‘n soortgelyke prentjie kan skilder as wat die Nuwe Testament van die vroeë kerk doen. Enersyds is al die tekens daar dat die Gees werksaam is. Daar is pragtige projekte wat deur die kerk aangepak word wat wys dat die Gees ons sensitief maak vir die nood van die wêreld waarin ons leef. ‘n Mens moet maar net jou oë en ore oopmaak en hoor en lees van al die wonderlike dinge wat die Here in en deur sy kerk besig is om te doen; dis niks minder as wonderwerke nie. Dieselfde oortuiging, toewyding en oorgawe is daar as in die vroeë kerk. Maar andersyds is ons ook pynlik bewus van ons tekortkominge en sonde – dinge wat in die kerk gebeur waaroor ons skaam is en wat ons met pyn moet bely aan die Here en teenoor mekaar. Ons het nog nie gearriveer nie. Maar dat ons noodwendig sleg afsteek teen die eerste kerk, is ek nie van oortuig nie, nie as mens die bladsye van die Nuwe Testament noukeurig en eerlik lees nie. Want laasgenoemde is nie net ‘n onvermengde verhaal van oorwinning oor die sonde en ‘n lewe in die krag van die Gees nie; dis ook ‘n prentjie van sonde en mislukking. Trouens, die Nuwe Testament is in hierdie opsig ‘n spieël waarin ons kan kyk om ons onsself te herken – as mense wat draers is van die Gees, maar wat terselfdertyd worstel met die sonde.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...