Die Evangelie volgens Lukas: Petrus se verloëning aangekondig (Luk 22:31-34) – Francois Malan
22:31 Die twee inleidende verse, 31-32, kom slegs in Lukas voor. Jesus waarsku Petrus met ’n dubbele aanspreking van sy naam Simon om die erns van die saak en die swakheid van die mens te beklemtoon (nie die ‘rots’naam wat Jesus hom gegee het nie, Luk 6:14; vgl. Matt 16:18; maar wat Jesus wel in vers 34 gebruik). ‘Kyk, Satan (die aanklaer) het daarop aangedring (eksaiteomai om iets te vra en te ontvang wat jy gevra het) om julle soos koring te sif.’ Hoewel die Satan soos ’n weerligstraal uit die hemel geval het (Luk 10:18; Openb 12:10) sit hy sy werk op die aarde met groot woede voort (Openb 12:12). Maar ook hier kan hy nie optree sonder die toestemming van God nie (vgl. Job 1:12; 2:6). Die gelowiges oorwin die aanklaer op grond van die bloed van die Lam en van hulle getuienis (Openb 12:11).
‘…om julle soos koring te sif.’ Die dissipels moet verwag dat die verleier, Satan, hulle in die besonder sal toets en sal verlei om die verkeerde te doen. Met Judas, aan wie die geldbeurs van Jesus en die apostelgroep toevertrou was, het Satan dit reeds reggekry. Die volgende op sy lys is die leier onder die apostels, Petrus. Satan wil nie dat daar enige koring oorbly nie, maar dat julle soos kaf uitgesif word – die Satan het toestemming gekry om ‘julle’ te sif (vgl. Luk 3:17).
22:32 Satan is die dissipels se teenstander; ‘maar Ek het vir jou gebid’ (deomai om dringend te vra i.v.m. ’n behoefte, te pleit). Jesus staan aan Petrus en die dissipels se kant. Hy sê Hy het reeds ter wille van (epi) Petrus by die Vader gepleit ‘sodat jou geloof (in Jesus, 18:8) nie sal ophou nie – sodat hy nie sal ophou om (op Jesus) te vertrou nie (pistis verwys na geloof en na vertroue). In Luk 18:8 het Jesus reeds sy bekommernis uitgespreek: ‘Die vraag is net: Sal die Seun van die Mens, wanneer Hy kom, geloof op aarde vind?’ Want dit is waarvoor Hy na die wêreld toe gekom het. In Luk 7:50 het Hy vir die slegte vrou wat sy voete met haar trane gewas en met haar hare gedroog het, gesê: ‘Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede;’ ook vir die vrou wat bloedvloeiing gehad het en aan sy soom geraak het (8:48); en vir die Samaritaanse melaatse wat teruggekom het om God te dank vir sy genesing (17:19); en vir die blinde by Jerigo wat aanhou roep het na Hom (18:42). Jesus het gekom om mense te red uit hulle sonde, maar die mense moet in Hom bly glo om daaraan deel te hê.
Jesus is seker dat sy gebed verhoor is. Hy sê vir Petrus: ‘En wanneer jy tot inkeer gekom het (epistrepsas omdraai, terugkom, tot geloof kom, tot God kom in berou), moet jy jou broers (medegelowiges) versterk’ in hulle geloof. Dit verwys seker na Petrus se berou na sy verloëning van Jesus en sy herstel in sy amp volgens Joh 21:15-17. Na sy ondervinding van sy eie swakheid kan hy sy medegelowiges, wat ook moontlik kan struikel, beter versterk in hulle geloof en vertroue op Jesus. Lees wat hy later in 1 Petrus 1:6-9 oor die egtheid van geloof in Jesus Christus skryf.
22:33 Die gesprekke van verse 33-34 kom in al vier Evangelies voor. Lukas verkort die berig drasties en gebruik sy eie woorde. Seker van homself, verklaar Petrus dat hy gereed is om saam met Jesus tronk toe te gaan en tot in die dood. Hy glo nie hy sal ’n bekering terug na geloof in Jesus nodig hê nie.
22:34 Teenoor Petrus se versekering van sy trou aan Jesus, antwoord Jesus met die aankondiging van sy verloëning deur Petrus: ‘Petrus, die haan sal vandag nie kraai nie, voordat jy drie maal heftig ontken het dat jy My ken.’ Die Joodse dag begin die vorige aand met sonsondergang. Die Joodse Pasga hou gewoonlik aan tot middernag. Die derde Romeinse nagwaak, van middernag tot 3vm, word ook genoem ‘hanekraai’ (Mark 13:35).
Die woord aparneomai ‘heftig ontken’ in Lukas, Markus en Mattheus, is sterker as Johannes 13:38 se arneomai ‘ontken.’ Hier gebruik Jesus die naam Petrus (rots) waarop Jesus sy kerk gaan bou (Matt 16:18). Die rotsman van Jesus gaan verbrokkel voor die vyande van Jesus, nie een maal nie, maar drie maal in een nagwaak van dieselfde dag as die paasmaal.
Volgens Lukas, Markus en Mattheus het Jesus en sy dissipels die Donderdagaand, wat met sonsondergang Goeie Vrydag geword het die paasmaal gevier. Tydens die maaltyd het Jesus vir Petrus gewaarsku. Om middernag het hulle na die tuin by die Olyfberg gegaan, waar Jesus gevange geneem is. Toe het Petrus vir Jesus verloën voor die einde van die hanekraainagwaak wat teen 3vm. eindig. Dit gebeur buite die ampswoning van die hoëpriester waar Jesus die nag verhoor is, langs die vuurtjie van die soldate wat vir Jesus gevang het. ‘Petrus, die haan sal vandag (Goeie Vrydag van Jesus se kruisiging, wat reeds Donderdagaand aangebreek het) nie kraai nie, voordat jy drie maal heftig ontken het dat jy My ken.’