Die Evangelie volgens Lukas: Jesus sterf (Luk 23:44-49) – Francois Malan
23:44 Lukas plaas drie wondertekens bymekaar. Die drie tekens wys na die betekenis van Jesus se sterwe: die duisternis wys na God se oordeel oor die sonde. Die skeur van die voorhangsel verwys na God se sluiting van die tempel met hande gemaak en staking van die offers by die tempel, as die plek om God te ontmoet vir aanbidding en vergifnis van sonde. Jesus se derde kruiswoord en uitblaas van sy asem is sy oorgawe van Homself as die offer aan sy Vader vir die sonde van die mensdom (Hebr 9:23-10:18).
Die Pasga word elke jaar met volmaan gehou en dan is daar geen sonsverduistering tydens die fees moontlik nie. Sonsverduisterings vind slegs met nuwemaan plaas. Maar op die dag van Jesus se sterwe het dit in die hele land (gê land of aarde) donker geword om twaalfuur die middag (die Joodse sesde uur van die dag) tot drie-uur die middag (die Joodse negende uur). Die negende plaag met Israel se verlossing uit Egipte was drie dae duisternis (Eks 10:22). Vir die Jode was duisternis die teken van die oordeel en straf van die Here (vgl. Amos 5:8 oor die Dag van die Here, wanneer die Here God die son helder oordag sal laat ondergaan en dit op die aarde donker maak terwyl dit nog ligdag is; vgl ook Joēl 2:10,31; 3:15). So word dit die eerste teken van die oordeel van God oor die sonde van die mensdom wat deur Jesus gedra is (Mark 15:34 en Matt 27:46 het teen die negende uur Jesus se uitroep: ‘my God, my God, waarom het U My verlaat’ as die onbegryplike offer van God vir die vergifnis van die sonde van die wêreld, vgl. Joh 1:29).
23:45 Die inleiding tot hierdie vers kom slegs in Lukas voor en bind die drie tekens saam. ‘Terwyl die son opgehou het’ – om te skyn (eklipontos ophou) gebeur die volgende twee tekens terselfdertyd. Al drie die tekens gebeur gelyktydig. Die laaste twee kom aan die einde van die wonderbare drie uur duisternis, wat die teken is van God se straf op die sonde van die mensheid. In die duisternis skeur die voorhangsel in die tempel middeldeur.
Die tempel het drie afdelings gehad: die Voorportaal, die Heilige, en die Allerheiligste (vgl. 1 Kon 6). Ná die Babiloniese ballingskap was die Allerheiligste sonder die ark wat die twee kliptafels met die wet in gehad het, en sonder die gerubs van 1 Konings 8. Die drie afdelings is met twee voorhangsels van mekaar afgeskei. Die voorhangsel wat geskeur het is waarskynlik die een tussen die Heilige en die Allerheiligste waar die hoëpriester eenmaal per jaar op die Versoendag ingaan met bloed om te offer vir homself en die sondes wat die volk onwetend gedoen het (Hebr 9:7; vgl. Eks 30:10; Lev 16:2,11-15).
Die tweede teken van die geskeurde voorhangsel wys vooruit na die vernietiging van die tempel in 70 n.C. deur die Romeine, maar ook dat die Here die tempel verlaat. Deur die Jode se verwerping van Jesus, het die tempel sy betekenis verloor. Daarom het God die tempel verlaat en het die bedekking van die Allerheiligste oopgeskeur. Jesus se offer gee nou buite die tempel vrye toegang tot God vir elkeen wat glo. Hebreērs 10:19-20 sê, Jesus het vir ons die nuwe lewende weg geopen deur die tempelgordyn heen, dit is deur sy liggaam. Jesus se liggaam aan die kruis vervang die tempelgordyn waaragter versoening gedoen is vir die sonde van die volk. Jesus vervang die tempel
(vgl. Joh 2:19-21; 4:21-24). In geloofsgemeenskap met Jesus en in sy Naam, dit is sy Persoon en werk, het ons vrye toegang tot God (Hebr 10:19-20), gemeenskap met God en aanbid ons God in gees en waarheid (Joh 4:21-24).
23:46 Met die derde teken wat die betekenis van Jesus se sterwe aandui, beskryf Lukas Jesus se laaste woorde voor Hy sy laaste asem uitgeblaas het: Met ’n harde stem, sodat al die omstanders dit duidelik kon hoor, het Jesus uitgeroep:’Vader, in u hande gee Ek my gees oor!’ (paratithemai vertrou Ek my gees toe / Ek gee Myself aan U sorg oor). Volgens Markus 15:33 was dit om 3nm., die tyd van die aankondiging van die aandoffer (vgl. 1 Kon 18:36) in die tempel waar die voorhangsel pas geskeur het en die toegang tot God oopgegaan het vir alle mense. Die woorde van Jesus se gebed uit Ps 31:6 was ook die gewone aandgebed van ‘n Joodse kindjie. In Luk 18:17 het Jesus gesê: ‘Amen, Ek sê vir julle: Wie die koninkryk van God nie soos ’n kind ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.’ Met dié kindergebed gaan die nederige Jesus ook die koninkryk van God in. In Ps 31:6 word die Here God nie as ‘Vader’ aangespreek soos hier nie. Die Ou Testament ken God nie as Vader nie, maar Jesus het ons kom leer om God ‘Vader’ te noem. Hier dui dit op Jesus se ewige Seunskap van God, aan wie Hy sy menslike lewensasem teruggee (die lewensasem wat van Adam ’n lewende wese gemaak het, Gen 2:7). ‘Vader’ is die aanspreekvorm van sy gebed vir Homself in Getsemane (Luk 22:42), ook met sy eerste kruiswoord in Lukas, sy gebed vir die mense wat Hom kruisig (Luk 23:34), en van die gebed wat Jesus sy dissipels geleer het (Luk 11:2), ook in sy eie gebede (Luk 10:21). Dit is ’n aanduiding van die innige verhouding van liefde tussen Jesus en sy Vader, en van die verhouding wat daar tussen gelowiges en die Vader behoort te bestaan, deur ons lewe aan Hom oor te gee.
Nie een van die Evangelies sê letterlik dat Jesus gesterf het nie. Markus en Lukas gebruik ekpeneusen Hy het die laaste asem uitgeblaas. Dit is figuurlike taal vir sterf. Mattheus sê afêken to pneuma Hy het die gees weggestuur; ’n idioom vir sterf. Johannes sê paredōken to pneuma Hy het die gees oorgegee; ook ’n idioom vir sterf. Daarmee dui hulle aan dat Jesus se dood iets besonders is, sy selfoorgawe in die dood. Hy, die Woord van God, het vir Adam, die mens, gesê: ‘die dag as jy van die boom van kennis eet, sterf jy.’ Die dood is die straf van God op die sonde van die mens. Hier gee God Homself oor in die doodstraf wat Hy op die sonde van die mens gelê het. Markus en Mattheus beskryf dit met sy woorde aan die kruis ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’ Paulus skryf dat Hy wat in die gestalte van God was, Homself prysgegee het en Hom verneder het tot die dood toe, ja, die dood aan die kruis (Filip 1:6-8). Dit is die toppunt van sy liefde vir die mens. God dra self sy straf op ons sonde. Dit is die evangelie, die blye boodskap van God se genade. Jesaja 25: sê: die Here God sal die dood vir ewig vernietig. Romeine 15:54 verwys na Jesaja se voorspelling: ‘die dood is verslind in die oorwinning.’ Dit is die oorwinning van God se liefde oor die dood van die mens: God bewys sy liefde vir ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Rom 5:8).
23:47 Die eerste van die drie reaksies op Jesus se dood wat Lukas aanteken, is dié van die Romeinse bevelvoerder oor 100 soldate, wat ’n groep van sy soldate gelei het om die drie persone te kruisig. Markus 15:39 sê: toe die bevelvoerder Hom sy asem so sien uitblaas, het hy gesê: ‘Waarlik hierdie man was die Seun van God.’ Mattheus 27:54 sê: toe die bevelvoerder en dié wat met hom Jesus bewaak het die skudding en die dinge wat gebeur het sien, was hulle vreesbevange en het gesê: ‘Waarlik, Hy was God se Seun’ – waarskynlik oor sy gebed tot sy Vader.
Lukas sê slegs: Toe die owerste oor honderd sien wat gebeur, het hy God geloof en gesê: ‘Waarlik, hierdie man was regverdig (dikaios regverdig, in die regte verhouding tot God, wat Hom ‘Vader’ kan noem).’ Hy bevestig wat Pilatus drie maal bevind het, dat Jesus as die Regverdige gely en gesterf het. Lukas sê, met hierdie woorde het die owerste God geloof. Die Joodse leiers dryf die spot met Jesus en beskou hulleself as regverdig (Luk 23:35). Hierdie heidense soldaat prys God oor die Regverdige Man wat gesterf het. Met sulke voorbeelde wil Lukas sy lesers lei om God te loof oor Jesus se lewe en sterwe (vgl. ook die lof aan God in Luk 5:8 deur Petrus by die groot visvangs; 7:16 deur die mense van Nain by die opwekking van die jongman; 9:43 deur die skare by die genesing van die seun met die stuiptrekkings; 13:13 deur die kromgetrekte vroutjie; 17:15 deur die Samaritaanse melaatse; 18:43 deur die blinde by Jerigo; 19:37 deur die skare op Palmsondag; Hand 3:8 deur die verlamde by die tempel). Die Romein is die eerste getuie van Jesus se dood en Lukas sluit hom in onder die mense wat God geloof het oor Jesus.
23:48 Die tweede reaksie in Lukas op Jesus se dood, kom van die hele skare wat vir hierdie skouspel (theōria skouspel, ongewone gesig) bymekaar gekom het (vgl 23:27). Toe hulle sien wat gebeur, het hulle teruggegaan terwyl hulle op hulle borste slaan, as uitdrukking van hulle rou (vgl. Luk 18:13, die tollenaar se berou oor sy sonde). In Handelinge 2:41 word ongeveer 3000 mense op die Pinksterdag gedoop. Moontlik was daar van die mense uit die skare wat uit nuuskierigheid Jesus se kruisiging kom aanskou het, wat Jesus se woorde aan die weeklaende vroue gehoor het (23:28-31), ook sy gebed vir die mense wat vir sy kruisiging verantwoordelik was (23:34) en sy belofte aan die misdadiger (23:43), die duisternis beleef het (23:44), Jesus se kinderlike vertroue op sy Vader gehoor het (23:46) en met seer harte die Kopbeenplek verlaat het. Dit is die tweede groep getuies van Jesus se dood.
23:49 Lukas se derde reaksie op Jesus se dood beskryf al Jesus se vriende wat veraf bly staan het, ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het om die dinge te aanskou/te beleef. Die woord gnōstoi kan kennisse of vriende aandui en is die manlike vorm daarvan. Die woord word ook in Luk 2:44 gebruik. makrothen ‘ver, veraf, op ’n afstand’ verwys ook na die vervulling van Ps 38:12 ‘My teistering veroorsaak dat my geliefdes en vriende op ’n afstand bly staan, wie na aan my is, staan ver van my af.’ (Ps 88:9,19 verwys ook na bekendes en vriende). Waarskynlik is dit uit vrees vir die Romeine en die Joodse leiers dat hulle veraf staan. Met ‘almal’ sal die dissipels wat gevlug het ook ingesluit wees. Na dié vroue word ook in Luk 8:2-3 verwys. Tipies van Lukas se verwysing na vroue het hy hier ook die teenwoordigheid van die vroue saam met die mans wat by die kruis was. Soos die kruisiging begin het met die vroue van Jerusalem wat langs Jesus se lydensweg Hom beween het, sluit vroue uit Galilea sy kruisiging af met hulle simpatieke aanskouing van sy sterwe. Die werkwoord se voltooide verlede tyd eistêkeisan beteken dat hulle daar bly staan het, waarskynlik tot na die skare van vers 48 reeds terug is stad toe. Die werkwoord horaō ‘sien/aanskou’ het ook die betekenis om iets te beleef. Die groep het die kruisiging van Jesus van ’n afstand af beleef. Hulle is Lukas se derde groep getuies van Jesus se dood. (Joh 18:25 sê dat Jesus se moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en ook Maria Magdalena by die kruis gestaan het).