Geloofsvrae: Liefdeloosheid

image_pdfimage_print

Geloofsvrae: Liefdeloosheid – Adrio König

Die wese van die sonde

4. Liefdeloosheid

As ons besluit om as eerste grondvorm of kernbegrip van sonde na liefdeloosheid te kyk, pas dit logies in by ons siening van God, en van die mens wat op ons siening van God gebou is. God is eintlik liefde, en die mens is geskape as die beeld van God wat beteken dat ons iets van die wese van God – dit is sy liefde – moet weerspieël. Dit klop daarmee dat Jesus die hele wil van God vir ons lewe kan saamvat in twee liefdesgebooie.

In hierdie lig is sonde wesenlik liefdeloosheid. Liefde is ‘n verhoudingsbegrip. Liefde bind individue en groepe aan mekaar sodat God en mens, en mense onderling, in liefdesverbondenheid moet leef. Liefdeloosheid verander ons verbondenheid in slegte gebondenheid aan God en aan mekaar sodat ons in slegte verhoudings leef.

Omdat liefde aan mekaar bind, skep dit vertroue. Liefdeloosheid verbreek hierdie vertrouensverhouding. Om God nie meer te vertrou nie, beteken ongeloof. En as ons Hom nie meer vertrou nie, gehoorsaam ons Hom ook nie meer nie. So bring liefdeloosheid ontrou, ongeloof, en ongehoorsaamheid voort.

Ons het God lief omdat Hy ons eerste liefgehad het. Ons het Hom dus lief oor dit wat Hy is, en daarom is ons liefde ook dankbaarheid teenoor Hom. Immers selfs net die feit dat Hy ons gemaak het, is al ‘n vorm van sy genade (21.3). As ons Hom dus nie liefhet nie, is dit ook ondankbaarheid teenoor Hom. Só bring liefdeloosheid as ‘n grondvorm van sonde die een konkrete sonde na die ander voort.

Dit is daarom nie vreemd nie dat ‘n mens omtrent alle vorme van sonde met liefdeloosheid in verband kan bring, net soos ‘n mens byna alle deugde met liefde in verband kan bring. Die twee lyste in Gal 5:19ev en 22ev is goeie voorbeelde.

Die lys van die vrug van die Gees begin nie verniet met liefde nie. Trouens as Paulus in 1 Kor 13 die vrug van die Gees behandel as die atmosfeer waarin die gawes van die Gees moet funksioneer om tot opbouing van die gemeente te dien, begin hy nie net met die liefde nie, maar sonder dit uit as die belangrikste deel van die vrug, en lei al die ander uit die liefde af. In die lys in Galasiërs is dit sonder meer duidelik dat liefde ‘n mens blydskap en vrede gee; as ‘n mens liefhet, kan jy geduldig en vriendelik en goedhartig wees – trouens goedhartigheid is niks anders as ‘n vorm van liefde nie; ‘n mens sal getrou en nederig wees teenoor die persoon wat jy liefhet; en dit is juis as jy ‘n ander liefhet, dat jy jou terwille van die ander sal beheers.

Netso kan ‘n mens al die sondes in `die praktyke van die sondige natuur’ uit liefdeloosheid aflei. Die lys begin met ‘n aantal seksuele sondes (onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid) wat net voorkom waar liefde ingeruil word vir hartstog; dan volg twee sondes teen God (afgodsdiens en towery) wat eenvoudig beteken dat ons God nie meer liefhet nie; die lang lys wat dan volg (van vyandskap tot afguns) ontspring almal uit ‘n gebrek aan naasteliefde, en iemand wat dronk is en aan uitspattighede deelneem, breek juis alle liefdesverbondenheid af.

Liefdeloosheid is in ‘n sekere sin onmoontlik. Ons is gemaak om lief te hê en daarom sal en moet ons liefhê. As ons nie liefhet wie en wat ons moet liefhê nie (God, ander mense, die natuur), sal ons eenvoudig onsself liefhê omdat ons gemaak is om lief te hê. Daarom is selfliefde die agterkant van liefdeloosheid. Ons kan dus nie die bespreking van liefdeloosheid afhandel sonder om selfliefde te bespreek nie.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...