Salwing van ‘n huis – Hermie van Zyl
Leser vra:
Ons huur ‘n huis, die huis se nommer is 6. Daar is op 3 plekke die nommer 6 aangebring. Die huis binne en buite lyk of iemand kos teen die mure gegooi het. Ek kry vandag die gevoel om van nader te kyk. Op party plekke lyk dit of daar ‘n kruis was, maar dat die kruis doodgemaak is, ook met olie. En van die olie lyk soos ‘n plusteken, en dit lyk ook of daar trane is soos van die olie geloop het. Ek voel skielik baie ongemaklik. Moet ons dalk die huis laat salf?
Antwoord
Prof Hermie van Zyl antwoord:
Soos ek die situasie lees, is ons vraagsteller bekommerd daaroor dat die huis wat hy tans huur dalk aan okkultiese bedrywighede blootgestel is, nog erger: dalk “vervloek” is. Hy voel nou baie ongemaklik oor die huis en wonder of dit nie eers nodig is om die huis te laat “salf” voordat hulle met veiligheid en gerustheid daar kan woon nie.
‘n Mens moet natuurlik heel eerste bo alle twyfel probeer vasstel of daar wel sulke okkultiese of Satanistiese praktyke in die huis plaasgevind het. Die getal 6 wat aangebring is, die kos teen die muur, die kruis wat doodgemaak is met olie, die plusteken – al hierdie simbole kán dui op sulke bedrywighede, maar dit kan ook gewoon vandalistiese dade wees wat eintlik niks “beteken” nie, behalwe dat dit kan dui op sommige mense wat uit pure kwaadwilligheid allerlei dinge sal aanvang om ‘n huis onbewoonbaar te maak. Dalk was die vorige huurders kwaad vir die eienaar en wou hulle hom op hierdie manier “terugkry” – sy eiendom beskadig sodat hy slegs met groot moeite en koste alles weer leefbaar sal kry. Gesonde verstand en gesonde suspisie is soms al wat nodig is om ‘n situasie te “lees” en te beredder. Met ander woorde, ‘n mens moenie met die eerste beste interpretasie op loop sit nie.
Maar kom ons aanvaar dat hier wel okkultiese praktyke betrokke is, of ten minste: dat iemand met opset die huis so bemors het om dit te laat lyk asof die plek nou “getoor” of “vervloek” is. Wat maak jy dan; wat is ‘n mens se plan van aksie dan om met ‘n redelike mate van gerustheid in die huis te woon?
In die Christelike literatuur en kerklike praktyk vind mens nogal uiteenlopende maniere om die okkulte mee te beveg. Ek stel eers die twee uiterste pole van hantering, en sluit dan af met ‘n eie standpunt, wat nie net my eie is nie maar aansluit by ‘n breë stroom van denke hieroor.
Aan die een kant is daar wat mens “rasionele terapie” kan noem. Dit is om uit te gaan van die veronderstelling dat die Satan nie bestaan nie en dat daar gevolglik nie iets soos demone of die okkulte is nie. Die okkulte hou hom besig met die verborge of duistere dinge van ons bestaan, soos die oproep van dooies, die dien van Satan en sy demoneryk, heksery, sterrewiggelary, of die manipulering van demone deur middel van okkultiese rituele. (Die woord “okkulte” kom van die Latyn occultus – “verborge”, “klandestien”, “geheim” – en dui op die manifestering van buitengewone en paranormale verskynsels, waar Satan en sy demone altyd op een of ander manier figureer.) Rasionele terapie neem sy vertrekpunt in tekste soos 1 Korintiërs 8:4 (“… ons weet dat daar geen afgod in die hele wêreld is wat iets beteken nie …”); 1 Korintiërs 10:19-20 (‘n afgod het nie enige betekenis nie); en Galasiërs 4:8 wat praat van “nikswerd afgode”. Die logiese afleiding uit hierdie tekste is dat Paulus hom nie vreeslik gesteur het aan afgode of sogenaamde gode nie. Vir hom het hulle nie bestaan nie en vir alle praktiese doeleindes het hy in sy bediening glad nie met hulle rekening gehou nie. Vir hom was daar net één God, die God en Vader van Jesus Christus.
Rasionele terapie beteken dan om vir iemand wat bedreig voel deur die okkulte te sê dat dié dinge glad nie bestaan nie en dat mens enige bedrywigheid wat daarmee verband hou bloot as “nonsens” kan ignoreer. Daar is net een God, en dit is die lewende God, en as mens Hom aanbid, dan het jy niks van enige ander sogenaamde mag te vrees nie.
Prakties gesproke sal ons dus vir ons vraagsteller vanuit hierdie benadering bloot kan sê: Moet jou nie steur aan wat vroeër in die huurhuis gebeur het nie; dit kan geen invloed op jou lewe uitoefen nie. Verf die plek mooi uit, gooi die gemors weg, en gaan aan met jou lewe. Die huis sal soos enige ander een bewoonbaar wees.
Bostaande rasionele benadering is egter vir baie gelowiges te min gesê en gedoen. Hulle sal vir jou gou daarop wys dat Jesus wel die bose magte “erken” het, demone uitgedryf het, en dat sy volgelinge dieselfde gedoen het. Die einste Paulus het, ten spyte daarvan dat hy hom nie aan afgode gesteur het nie, klaarblyklik tog die Bose “erken” en by geleentheid selfs ‘n waarsêersgees uit ‘n slavin gedryf (Hand 16:16-18). En Efesiërs 6:12 sê ook dat ons stryd in die wêreld nie teen vlees en bloed is nie, maar teen elke bose gees in die lug. (Daar is natuurlik ‘n verskil tussen die erkenning van afgode, enersyds, en die erkenning van die Bose, andersyds, maar dit is ‘n onderwerp op sy eie; vir alle praktiese doeleindes hang dié twee sake nóú saam.)
Dus, aan die ander kant van die spektrum is daar gelowiges wat nie tevrede is met ‘n bloot rasionele benadering teen die okkulte nie. Hulle sal eerder praktyke en rituele daarstel waarmee die Bose aktief beveg kan word. Dit word dan amper ‘n soort teenpool vir okkultiese rituele, om laasgenoemde te “neutraliseer”. Dis dan dat ‘n mens praktyke kry soos gebedskettings waar mense opgekommandeer word om in skofte 24 uur aaneen in gebed te verkeer ten einde die mag van die Bose te bind, of waar ‘n huis met “heilige olie” gesalf word om dit teen bose magte te beskerm, of waar gelowiges opgeroep word om “laer te trek” om ‘n huis deur rondom die huis te stap en gebedsformules te prewel waardeur die bose geeste dan besweer sou word.
Persoonlik dink ek die antwoord lê êrens tussen bogenoemde twee uiterste pole. ‘n Mens hoef nie die bestaan van die Bose te ontken nie, maar jy hoef ook nie duiwelbehep te wees nie. Hoe minder aandag ‘n mens aan die Bose skenk, hoe beter is dit vir jou gemoedsrus. Want jy kan later so fokus op die duiwel dat hy eintlik al jou aandag en energie in beslag neem. En natuurlik, die Satan hou daarvan, want hoe meer aandag jy aan hom skenk, hoe meer tevrede is hy. Maar die beste manier om die duiwel te beveg, is om Christus-gefokus te lewe, jou toe te wy aan Hom en sy koninkryk, in die wonderlike wete dat Hy klaar die Bose oorwin het. Jy hoef nie jou eie klein geveggie elke keer aan te knoop om die bose bedrywighede van die duiwel en sy trawante buite werking te stel nie. Wie dus sy of haar lewe wy aan Christus het eintlik nie tyd oor om nog die bose met allerlei praktyke aktief te bestry nie. Trouens, die soort oorlogvoering teen die Bose waartoe Efesiërs 6 ons oproep is myns insiens nie om allerlei rituele en programme daar te stel om die werk van die Bose te neutraliseer nie, maar gewoon om – soos dit daar staan – met die waarheid, die evangelie van vrede, geloof, en die verlossing in Christus elke dag in jou hart te lewe. Dis voldoende beskerming teen enige bose mag of gees se vurige pyle.
My raad aan ons vraagsteller sou dus wees om hom nie te vreeslik moeg te maak oor wat die simbole in sy huurhuis alles mag beteken, wat alles daar gebeur het, en hoe om dit met allerlei rituele te neutraliseer nie. Selfs al sou ‘n mens iemand kry om die huis te “suiwer”, moet jy altyd onthou dis nie die rituele wat die reiniging doen nie, maar die Een waarna die rituele verwys, naamlik Christus wat die Bose oorwin het. Die rituele werk nie outomaties, op ‘n soort magies toweragtige manier nie, maar hulle is bloot simbolies van wat Christus reeds gedoen het. Daar is niks in die olie – of wat ook al gebruik word om die huis mee te salf – wat die suiwering kan doen nie. Dis slegs wanneer jy deur die geloof aanvaar dat Christus klaar – eens en vir altyd – die Bose ontmagtig het, dat die rituele vir jou enige betekenis sal hê, want Hy is die Een wat sterker is, Hy is die Een wat die sterk man (die Bose) se huis binnegegaan en onttroon het (Matt 12:28-29). Óns kan dit nie doen nie. Trouens, ek wil so ver gaan om te sê dat as ons net op die salwingsrituele vertrou, kom dit neer op “Christelike towery”; ons stel dit dan in die plek van Christus se oorwinningswerk, en dít is niks anders nie as ‘n mosie van wantroue in Hom; die rituele is dan vir ons belangriker as Christus self. Maar as jy die rituele bloot sien as simbolies van wat jy in elk geval glo, naamlik dat Christus jou bewaar, dan is dit seker aanvaarbaar, dan werk die rituele amper soos met die doop en die nagmaal. Van die sakramente glo ons ook dat dit nie die blote gebruik daarvan is wat red nie. Nee, ons gebruik dit in die geloof dat dit as versterking en verseëling simbolies heenwys na Christus se verlossingswerk wat ons red.
Dus die heel belangrikste wat ons vir ons vraagsteller moet sê, is dit: Glo dat Christus saam met julle daar intrek en saam met julle die huis bewoon. Dan is die huis klaar gesalf. Leef elke dag uit sy oorwinning, eien dit deur die geloof vir julle toe, en woon in vrede.
Skrywer: Prof Hermie van Zyl