Spreek in tale – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Jan vra:

Op die Pinksterdag toe die Heilige Gees uitgestort is, sê Hand 2:5: “En daar het in Jerusalem Jode gewoon, godsdienstige manne, uit elke nasie wat onder die hemel is.” Die getal is ongeveer 16 verskillende tale. En hulle het gehoor hoe die ontvangers van die Heilige Gees elkeen in sy “eie taal” spreek oor die groot dade van God. “Is almal wat daar spreek dan nie Galileërs nie” (vers 7).

As die toeskouers dan in Jerusalem gewoon het, hoekom sou hulle nie Hebreeus as taal gehad het nie en hoe het dit dan gebeur dat soveel tale betrokke kon wees as hulle hulself van die vreemdetaal-praters distansieer met die woorde: “Is hulle wat daar spreek dan nie nie Galileërs nie?”

Dan kom Paulus in 1 Kor 12 en hy noem allerhande tale en uitleg van tale as deel van die gawes van die Heilige Gees. In hoofstuk 14 moedig hy die mense aan om liewer te profeteer want hy wat in ‘n taal spreek, spreek nie tot mense nie want niemand verstaan dit nie maar deur die Gees spreek hy verborgenhede tot God. Iemand wat in ‘n taal spreek stighomself, behalwe as hy dit wat gesê is, kan uitlê.

Dan sê Paulus verder in vers 18: “Ek dank my God dat ek meer in tale spreek as julle almal”.

By die uitstorting van die Heilige Gees praat die ontvangers in bekende tale, maar in Paulus se konteks praat hy ‘n taal wat net deur God verstaan kan word.

Was die hoorders destyds besoekers aan Jerusalem om daar te gaan aanbid of het hulle daar gebly soos aangedui? Hoe bring mens die verskil in tale bymekaar, met ander woorde bekende tale en ‘n taal wat net deur God verstaan kan word?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die sogenaamde spreek intale is een van die tekens of manifestasies van die uitstorting van die HeiligeGees op die Pinksterdag in Jerusalem. Die ander tekens was: Die skielike gedruis soos van ‘n sterk stormwind, en tonge soos van vuur wat bo elkeen sigbaar was. Al hierdie begeleidende tekens van die uitstorting van die Gees het ‘n ryk agtergrond vanuit die Ou Testament. Wat wind betref: Dit is meermale in die Ou Testament ‘n teken van die teenwoordigheid van God (vgl 2 Sam 5:24;  Ps 104:4). Die woord vir “wind” en vir “Gees” is in die oorspronklike Grieks dieselfde, naamlik pneuma. Dis daarom geen wonder dat Johannes 3:8 die werk van die Gees met die wind vergelyk nie. En vuur: Ook di­t is in die Ou Testament ‘n simbool van God se heerlikheid en teenwoordigheid(vgl Eks 3:2;  13:21). Reeds Johannes die Doper het voorspel dat die Messias met die Heilige Gees en vuur sal doop (Luk3:16-17), om daarmee die reinigende en bemagtigende werk van die Gees te verwoord.

Wat die spreek in tale betref, word dit meermale in die Nuwe Testament vermeld as teken van die bemagtiging deur die Gees. In die boek Handelinge kom dit naas hoofstuk 2:1-13 ook in 10:45-46 en 19:6 voor. Die interessante is egter dat daar ‘n verskil is tussen die talewonder van Handelinge 2, enersyds, en 10 en 19 andersyds. In Handelinge 2 het ons klaarblyklik met bestaande en verstaanbare tale te doen, want die omstanders sê hulle hoor die gelowiges in hulle “moedertaal” en “eie tale” praat. Hoe moet ons dit verstaan? Die volgende stukkie agtergrond sal dit duidelik maak.

Sedert die dae van die Babiloniese ballingskap in die sesde eeu vC, het die Jode oor die hele destyds bewoonde wêreld versprei.  Nie almal het na die ballingskap na Palestina teruggekeer nie. Hoewel hulle volledig ingeburger geraak het onder die volkewaar hulle gewoon het, het die meeste aan die lewende God getrou gebly. Sommige het hulle mettertyd weer in Jerusalem gevestig (veral teen die aand van hulle lewe), waarskynlik omdat hulle geglo het dat wanneer die Messias sy verskyningmaak, dit op die Olyfberg sal gebeur. Dit is van sulke vrome Jode dat ons in Handelinge 2:5 lees.

Aangetrek deur die geluid van wind, drom hulle op die plek saam.  En dan gebeur die wonder:  elkeen hoor hoe die gelowiges in die tale van die volke waaronder hulle oorspronklik grootgeword het, begin praat.  Hieroor is hulle uitermate verras.  As inwoners van Jerusalem was hulle bekend met die gebeure rondom Jesus en herken hulle sy dissipels uit Galilea.  En Galileërs kan tog nie al die tale praat nie. Vandaar hulle reaksie: “Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs. Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal?” (Hand 2:7-8).

Dit is ook ‘n vraag of ons hier met ‘n spreek- of hoorwonder te doen het. Het die dissipels werklik in die vreemde tale begin praat (spreekwonder) of het hulle gewoon hulle eie moedertaal, Aramees, gepraat maar die hoorders het dit as hulle onderskeie moedertale gehoor (hoorwonder). Handelinge 2:4 wil laat dink dat dit ‘n spreekwonder was, maar 2:10 neig weer in die rigting van ‘n hoorwonder. Uiteindelik maak dit nie regtig saak na watter kant toe ‘n mens die wonder interpreteer nie, punt is dit was bekende, verstaanbare tale van destyds wat gepraat of gehoor is.

Lukas berig verder uit watter volke en streke die Jode oorspronklik gekomhet.  Dit was destyds omtrent al die nasies onder die son (kyk die kaart by Hand 2 van die 1983-Afrikaanse Vertaling). En dis presies wat Lukas wil sê:  hierdie Jode verteenwoordig al daardie nasies.  In hulle is die hele wêreld teenwoordig wanneer oor die groot dade van God op die Pinksterdag vertel word.

Op ‘n voorlopige manier word op een dag die evangelie tot in die uithoeke van die wêreld verkondig (vgl Hand 1:8). Van nou af neem die wêreldsending ‘n aanvang; wat hier op een dagvoorlopig gebeur, is profeties van wat voortaan ‘n werklikheid sou word in die hele wêreld onder die geklank van God se Woord! Handelinge 2 se tale wonder beklemtoon dus veral die getuieniskarakter van die Heilige Gees se werk. Verder, die Gees bring hier diverse taalgroepe byeen wat lank tevore met die spraakverwarring by die toring van Babel verstrooid geraak het oor die aarde(Gen 11:1-9). Nou kan mense mekaar weer verstaan en kan hulle verenig onder dieverligtende werking van die Gees.

Teenoor die bekende tale van Handelinge 2 het ons in 10:45-46 en 19:6 egtermet ‘n ander soort spreek in tale te doen. Hier word gepraat van “ongewonetale of klanke” waarmee God geprys en sy boodskap verkondig word. Dit wil lyk of ons hier eerder met die spreek in tale-verskynsel te doen het waarvanook in 1 Korintiërs 12 en 14 sprake is. Dit word nie in Handelinge 10 en 19 insoveel woorde gesê dat die tale onverstaanbaar is nie, maar dit wil so voorkom.In 1 Korintiërs 14:4 word egter pertinent gesê dat die tale onverstaanbaar is vir gewone mense; daarom moet daar iemand wees wat dit uitlê (1 Kor 14:13-19). Hierdie tale of tongespraak is meer gemik op die opbou van die individu as wat dit bedoel is vir die gemeente se opbou, want die gemeente kan dit nie verstaannie, tensy iemand dit uitlê (14:4-5).

Hoe bring mens nou die twee soorte “spreek in tale” bymekaar “die een meer ‘n soort onverstaanbare tongespraak (ook glossolalie genoem) en die ander ‘n praat in verskillende bekende tale? Vanuit die oorspronklike Grieks is daar nie ‘n verskil in betekenis nie; albei word as spreek in ‘n(ander) tong of taal aangedui. (In Grieks is “tong” en”taal” dieselfde word “ glossa“.Engels behou nog hierdie verband deur van “mother tongue” te praat.) Albei is dus gawes van dieselfde Gees. Die verskil lê meer in die funksie vandie gawe. In die een geval gaan dit oor die getuienislewering van die Gees(Hand 2); in die ander gevalle gaan dit oor ‘n uiterlike teken van Geesvervulling en opbou van die individuele gelowige (Hand 10; 19; 1 Kor 12;14). Elkeen het sy plek en funksie, en dit is dieselfde Gees wat die gawes gee.

Verder moet ons ook byvoeg dat 1 Korintiërs 12 duidelik sê dat die een gawe nie teen die ander afgespeel mag word nie. Daar is nie net een gawe nie, maar’n verskeidenheid, en almal kom van dieselfde Gees. Daar mag dus nie ‘n wedywering onder gelowiges om die meer “skouspelagtige” gawes wees nie, soos wat blykbaar onder die Korintiërs voorgekom het. Elke gawe van die Gees is skouspelagtig, maak nie saak hoe “ordinêr” dit vir ander maglyk nie.

Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...