Die Handelinge van die Apostels (1:1 – 5) – Francois Malan

image_pdfimage_print

1:1 Die boek Handelinge begin met ’n verwysing na ‘die eerste berig’  (logos woord, boodskap, verhaal, boek, berig) wat ook aan Theofilus opgedra is, naamlik die Evangelie volgens Lukas (vgl. Luk 1:3). Daarom is die skrywer van Handelinge dieselfde persoon as die skrywer van die Evangelie, soos later ook afgelei kan word van die dele in Handelinge wat in die eerste persoon meervoud geskryf is (die ‘ons gedeeltes’ vgl. bv. 16:11-17; 20:5; 27:2,15; 28:1,11,16). In Kolossense 4:14 verwys Paulus na Lukas die geliefde dokter wat by hom is; in 2 Tim 4:11 ‘Net Lukas is nog by my.’ Volgens die kerklike tradisie is Lukas die skrywer van die twee boeke wat oorspronklik sonder die naam van die skrywer in die vroeë gemeentes gelees is.

Wanneer ’n werk aan iemand opgedra is, soos aan Theofilus, was die verwagting dat dié persoon verantwoordelik sal wees om kopieë te laat maak deur afskrywers met die oog op die verspreiding van die boekrol (vgl. die verwysing na ‘die boeke, veral die perkamente’ in 2 Tim 4:13 – boekrolle is destyds geskryf op papier van papirus gemaak of op perkamente van dierevelle gemaak. Alles is met die hand oorgeskryf. (Boekdrukkuns is eers in 1450 n.C. ontdek). Die twee boeke is in die algemene omgangstaal in die Romeinse ryk, nl. Grieks, geskryf vir die gemeentes wat deur Paulus gestig is in Griekeland en Klein-Asië en besoek is in Rome en Palestina. 

Luk 1:1-4 is eintlik ’n voorwoord tot albei die boeke. Dit handel oor Lukas se navorsing vir die boeke en die doel van altwee die boeke, sodat Theofilus vir seker kan weet dat die onderrig wat hy oor hierdie gebeure ontvang het, ‘betroubaar is’ – ook vir vandag.                                                                                                                                                                                                                                           

Die boodskapvan die twee boeke is onderskeidelik in Lukas ‘alles wat Jesus begin doen en waaroor Hy onderrig gegee het’  met die implikasie dat Handelinge die voortsetting is van Jesus se werk en onderrig op aarde, vanwaar Hy sit aan die regterhand van God die Almagtige (Luk 22:60) om oor die ganse skepping in liefde te regeer. 

Lukas-Handelinge is langer as al Paulus se briewe saam, en beslaan ’n kwart van die hele Nuwe Testament.

1:2 ‘…tot die dag dat Hy opgeneem is’ – die dag van Jesus se hemelvaart is die einde van sy aardse bediening en die begin van sy bediening op aarde vanuit die hemel. Daarom word die hemelvaart aan die einde van Lukas 24:50-51 genoem as die afsluiting van sy werk op aarde, maar dit word aan die begin van Handelinge 1:6-11 uitvoeriger vertel as die begin van die voortsetting van sy werk.

Voor sy sterwe, opstanding en hemelvaart het Hy reeds, ná ’n nag van gebed tot God, twaalf van sy dissipels uitgekies en hulle apostels genoem, dit wil sê as sy gesante (Luk 6:13). Aan die elf, wat ná sy kruisiging en opstanding nog teenwoordig was (sonder Judas Iskariot), het Hy deur die Heilige Gees opdrag gegee (enteilamenos  om spesifieke opdragte te gee, met die implikasie van gesag wat gegee word met offisiële sanksie, vgl. die Engelse woord entailment). Met die opdrag het Jesus, deur die Heilige Gees, hulle aangestel en bekragtig as getuies en verteenwoordigers van Jesus Christus as Persoon om sy boodskap van verlossing van sonde uit te dra (Hand 13:37 ‘deur hierdie man – Jesus – word die vergewing van sondes aan julle verkondig, en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word’ – geregverdig beteken dat elke gelowige se verhouding tot God deur Jesus reggestel word). Sy gestuurdes getuig van Hom met hulle woorde en lewenswyse.

Die woord ‘apostel’ word agt-en-twintig maal in Handelinge gebruik, telkens as ’n verwysing na die twaalftal, met Mattias wat Judas vervang (1:26); met die uitsondering van 14:4,14, waar ‘apostel’ ook vir Barnabas en Paulus gebruik word.

In Lukas en Handelinge gaan dit om Jesus Christus se Middelaarswerk tussen God en die mens. Hierdie boek bevat nie ’n volledige kerkgeskiedenis nie, maar beskryf persone en insidente wat tipies aandui wat Christus deur sy Gees in en deur sy kerk besig is om te doen en te leer in elke eeu en jaar en dag.

1:3 Jesus se opstanding uit die dood is die vaste fondament van die apostels se geloof. Dit word  hier onderstreep met die verwysing na die baie ‘oortuigende bewyse’ (tekmêriois wat iets bekendstel as getoets en bevestig – die enigste keer dat die woord in die Nuwe Testament gebruik word; wel ook in twee Ou Testamentiese apokriewe boeke). In die Afrikaanse vertalings word verwys na ‘vele tekens’ waardeur Jesus ná sy lyding aan sy dissipels getoon het dat Hy leef, toe Hy oor ’n tydperk van veertig dae aan hulle verskyn het. In sy opsomming in Lukas 24:50-52 het Lukas slegs gesê ‘Daarna het Jesus hulle na Betanië gelei….. en is in die hemel opgeneem.’  Hier word ‘daarna’ (‘en toe’) uitgespel as 40 dae ná sy opstanding. Sy opstanding en hemelvaart is nóú aan mekaar verbonde. Die opgestane Here regeer wel vanuit die hemel, maar steeds as die teenwoordige Koning in sy koninkryk op aarde.

Ook die woord vir ‘verskyn’ word slegs in Lukas gebruik; hoptanomai beteken om gesien te word of om sigbaar te wees, in die sin van binne die gesigsveld te wees. In Lukas 24:31 het Jesus, nadat die Emmausgangers se oë geopen is en hulle Hom herken het, ‘vir hulle onsigbaar geword’ – uit hulle gesig verdwyn (afantos). In Lukas 24:36 ‘staan Hy in hulle midde,’ en dit terwyl die elf en dié saam met hulle nog praat oor sy verskynings/dat Hy gesien is, ōfthê. Terwyl Jesus sedert sy opstanding oral onsigbaar teenwoordig is, kan Hy van tyd tot tyd Homself sigbaar maak.

Handelinge 1:3 sê verder dat Jesus gedurende die veertig dae besig was om met hulle te praat oor die koninkryk vanGod. Basileia tou Theou verwys na God se koningsheerskappy met volkome gesag oor die skepping, oor die lewens van mense, en in ’n besondere sin oor die lewe van elke gelowige en van gemeentes; spesifiek ook dat Hy heers oor die groepie apostels wat Hy nou uitstuur om die evangelie te gaan verkondig. As die Christus, die Gesalfde, is Hy die Koning in God se koninkryk, en is Hy die onderwerp van hulle verkondiging. Dit onderstreep ook dat Jesus self God is (Joh 1:1).

Gedurende die veertig dae het Hy aan die dissipels bevestig dat Hy leef, deur baie oortuigende bewyse  (paristêmi bewys verskaf dat iets waar is). Lukas 24:42-43 vertel dat Jesus ’n geroosterde stuk vis voor sy dissipels geëet het as bewys dat dit Hy is wat opgestaan het uit die dood. In Joh 20:20 wys Hy hulle sy hande met die spykermerke en sy deurboorde sy. In Joh 20:27 nooi Hy Thomas uit om sy vinger in sy wondmerke te steek en sy hand in sy sy. In Johannes 21:1-14 het Jesus Homself by die see van Tiberias sigbaar gemaak (efanerōsen) aan sy dissipels met sy opdrag om hulle visnet aan die regterkant van die boot uit te gooi vir ’n massa vis, en met ’n vuur waarop Hy vis en brood vir hulle braai op die strand. Jesus het duidelik self besluit wanneer en hoe Hy Hom aan sy volgelinge sigbaar en kenbaar gemaak het (vgl. Joh 20:11-16 met die noem van haar naam aan Maria Magdalena; Hand 9:3-5 met ’n skerp lig uit die hemel wat Paulus blind op die grond laat neerval; Hand 18:9 deur ’n nagtelike visioen om Paulus te versterk om in Korinthe aan te hou praat; Hand 23:11 deur in Jerusalem in die nag by Paulus te kom staan met die opdrag om oor Hom in Rome te getuig soos in Jerusalem). 

1:4  ‘Terwyl hulle bymekaar was…’ (sunalizō  beteken om te vergader of bymekaar te kom). Tydens ’n ete was Jesus saam met hulle en het Hy die volgende opdrag gegee.

Jesus se opdrag aan hulle is om in Jerusalem te bly wag op die vervulling van die Vader se belofte, naamlik dat Hy die Heilige Gees sal stuur om in hulle te kom woon. Jesus het die belofte van die Vader aan hulle oorgedra (vgl. Luk 24:49). Die belofte het die Here reeds in Joël 2:28-32 gegee (vgl. ook Sag 12:10; Jes 44:3; Eseg 11:19; 36:27).

Jesus verwys hier na die Vader wat agter die hele aksie van die kerk staan.Die Vader stuur die Heilige Gees om die kerk van Christus te lei en die lidmate toe te rus vir hulle dienswerk in God se koninkryk op aarde. Daarvan beskryf die boek Handelinge die begin van die kerk en van die aanvanklike uitbreiding van die kerk.  1:5 Jesus verwys hier na die doop van Johannes wat die belofte van vergifnis (afwassing, reiniging) van sonde deur Jesus se offer vir die sonde ingehou het (Luk 3:3 ‘doop van bekering met die oog op die vergewing van sondes’ – eis, met die oog op). Maar Jesus belowe hier: binnekort sal die dissipels met die Heilige Gees gedoop word. Die passiewe vorm ‘gedoop word’ sê eintlik dat Gód hulle sal doop met die Heilige Gees. Doop word hier figuurlik gebruik vir die wonder dat God self in die gelowige kom woon (Joh 14:16,17, 23). Die Heilige Gees lei mense om te glo in Jesus as die Seun van God wat ons reinig van alle sonde en goddelose gedagtes, woorde en dade. Hy is die Gees van waarheid in ons soos reinigingswater (Eseg 36;25-29; Joh 14:17; 16:8). God die Heilige Gees kom ons al meer verander om soos Jesus te word (2 Kor 3:18), vol liefde, goedheid, getrouheid, geduld, vrede, vriendelikheid, vreugde, nederigheid en selfbeheersing (Gal 5:22-23) deur ons al meer aan Jesus en sy woorde en dade te verbind. Die Heilige Gees is die krag van God en die karakter van die nuwe bedeling van God se heilsgeskiedenis.

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...