Die Handelinge van die Apostels: Die reaksie van die Raad en van die apostels (Hand 5:33-40) – Francois Malan
5:33 Toe die lede van die Raad die aanklag en getuienis van die apostels oor God se genade hoor was hulle woedend (diapriomai om deurgesaag te word, word hier figuurlik gebruik vir woedend kwaad word) en hulle wou die apostels doodmaak (soos Herodus briesend opdrag gegee het om al die seuntjies tot 2 jaar oud in Betlehem dood te maak, Matt 2:16). Jesus en sy getuies moet uit die weg geruim word – dit is die reaksie van die ongelowige wêreld op God se soort verlossing sedert die slang Eva en Adam verlei het om nie aan God gehoorsaam te wees nie (Gen 3:6, vgl. die teken wat Johannes gesien het in Openb 12:9,12,17).
5:34 Soos die Here iemand voorsien het om die radelose Raad te vertel dat die apostels wat hulle soek in die tempel is, stuur die Here weer ‘iemand’ om die siedende 70 Raadslede tot bedaring te bring. Die ‘iemand’ staan in die Sanhedrin op teen die geweldige emosie van die raadslede. Dié keer nie ’n ongenoemde iemand nie, maar ’n baie gesiene lid van die Raad, ’n Fariseër by name Gamaliël (sy naam beteken ‘God se vergelding’), ’n onderwyser in die Wet van die Here van 25-50 n.C. Hy is die eerste rabbi wat ’n Raban geword het, wat sy hoë posisie aandui, kleinseun van die beroemde gematigde rabbi Hillel en onderwyser van Paulus (Hand 22:3). Hy was geëer en gerespekteer deur die hele volk vir sy kennis van die Skrif, sy insigte en voorbeeldige lewe. Hy gee met gesag opdrag dat die apostels vir ’n wyle uit die raadsaal geneem word. Hy wil die woedende Raad tot bedaring bring om na rede te luister en ’n oorwoë besluit te neem.
5:35 Hy spreek die Raad aan as ‘Manne Israeliete/mede-Israeliete’ – As een van hulle, nie verhewe bo hulle nie, spreek hy hulle aan as lede van die volk van Jakob met wie God by Pniël ’n verbond gesluit het en sy naam na Israel verander het (Gen 32:28): dink by julleself goed na oor wat julle met hierdie manne wil doen. Hy begin met ’n vermaning tot besinning en versigtigheid. Hy wil eers die gemoedere tot bedaring bring om nie uit hulle woede-emosie ’n besluit te neem nie, maar ná beredeneerde nadenke. Waar hulle net gedink het hoe om die apostels stil te maak, vra hy dat die Raad nie ’n besluit neem wat vir hulleself tot nadeel sal wees nie. Dit beteken egter nie dat hy simpatie het vir die apostels nie, maar hy wou die aansien van die Raad nie laat skade ly nie.
5:36 As verduideliking van sy vermaning verwys Gamaliël in verse 36-37 na twee voorbeelde van ’n valse leer met leiers wat aanspraak gemaak het dat hulle die verwagte Messias-bevryders is en ’n groep volgelinge gekry het. Wanneer die leier sterf kwyn die groep weg, wat bewys dat dit slegs van menslike oorsprong is.
‘want voor hierdie dae…’ voor die koms van Jesus, ‘het Teudas (’n verkorting van Theodosius ‘gawe van God’) opgestaan en gesê dat hy self iets besonders is…’ (Gal 2:6 ‘…God slaan nie ag op die aansien wat ’n mens het nie’). Hy het waarskynlik gesê dat hy ’n verlosser is, soos Moses, wat Israel destyds uit die Egiptiese slaweskap uitgelei het, en dat die Here beloof het dat Hy vir Israel weer ‘n profeet soos Moses sal stuur, (Deutr 18:15,18). In ‘hierdie dae’ het die mense van Jesus gesê dat Hy ’n Profeet soos Moses is (Joh 6:14) en nou het sy volgeling Petrus dit ook van Jesus gesê (Hand 3:22). Destyds het ongeveer 400 mans Teudas gevolg, en daar is nou ’n groep wat Jesus volg. Toe Teudas omgekom het (anaireō onthoof, tereggestel word), is almal wat hom gevolg het, verstrooi (dialuō almal gaan in verskillende rigtings) en die beweging het in die niet verdwyn. Jesus is nou doodgemaak, en sy beweging kan ook in die niet verdwyn.
5:37 Die tweede voorbeeld waarna Gamaliël verwys is ’n Judas wat as die Galileër bekend was (nie Judas Iskariot uit Judea nie). Galilea was beskou as die broeiplek van opstand teen die Romeine. Die volkstelling waarna Gamaliël verwys is waarskynlik die een wat in Lukas 2:1-3 genoem word, waartydens Jesus in Betlehem gebore is. Judas het blykbaar vir sy bevrydingstryd, wat hy teen die Romeine wou begin, die volk aangehits. Hy was ook teen die Sanhedrin se vrees en versigtigheid vir die Romeinse owerheid. Toe hy omgekom het (apollumi gewelddadigsterf) het sy volgelinge uitmekaar gespat (diaskorpizō). Hulle het daarna blykbaar nog in groepies of as enkelinge opgetree. Volgens Josefus was dit die begin van die Seloteparty, waaraan die een Simon van Jesus se apostelgroep moontlik behoort het (Luk 6:15). Die Selote het later so lastig geword dat die Romeine in 66 n.C. Galilea begin inneem het. Gamaliël sê nie dat Judas die Galileër se groep in die niet verdwyn het, soos Teudas se groep, nie.
5:38 Gamaliël sien net een uitweg uit die Raad se radeloosheid. Hy dra sy oplossing voor as ’n voorstel: Met twee voorbeelde stel Gamaliël aan die Raad voor: ‘Los hierdie mense uit en laat hulle gaan.’ Hy wil die probleem op die maklikste wyse oplos. Hulle leier is reeds doodgemaak en dieselfde lot as Teudas en Judas die Galileër se volgelinge sal waarskynlik Jesus se volgelinge ook tref. Hy gee die rede vir sy voorstel: ‘want as hierdie plan of onderneming uit mense sou wees, sal dit tot niet gaan (kataluō ophou bestaan) – die ‘as..sou wees’ (Grieks: ean êi konjunktief druk ’n moontlikheid uit). As die passiewe vorm van die werkwoord (kataluthêsetai) refleksief gelees word, suggereer dit dat die nuwe beweging vanself, van binne uit, sal doodloop. As die werkwoord passief gelees word, suggereer dit dat God dit sal laat doodloop, omdat dit bloot menslike planne en menslike werk sou wees.
5:39 Terwyl Gamaliël die eerste alternatief (uit mense) as ’n moontlikheid beskou het, is hy egter seker van sy tweede stelling: ‘Maar as dit uit God is..’ (ei estin aktief, druk ’n werklikheid uit) sal julle hulle nie tot niet kan laat gaan nie (katalusai laat ophou bestaan nie). Sy advies is deur die tweede moontlikheid bepaal: ‘Moenie dat dit blyk dat julle teen God veg nie!’ So het die koning Abia van Juda destyds vir Jerobeam en Israel gewaarsku: ‘Israeliete, moenie teen die Here die God van julle voorvaders veg nie. Julle kan nie wen nie’ (2 Kron 13:12). Gamaliël hou veel meer rekening met God wat, ten spyte van teenstand, sy saak sal deurvoer. Hy waarsku die Raad dat hulle op gevaarlike gebied beweeg. As dit sou blyk dat hulle teen God veg, is hulle in groot moeilikheid, want niemand kan teen Hom staande bly nie.In Jesaja 8:13 het die Here vir Jesaja gesê: ‘Julle moet die Here die Almagtige eer as die Heilige. Vir Hom moet julle vrees en vir Hom moet julle bang wees. Hy sal vir julle ’n veilige beskutting wees….’ Abia wat op die Here vertrou het, het met 400 000 man Jerobeam met sy 800 000 man verjaag (2 Kron 13:16; vgl. Hebr 10:31). ‘Die Raad is deur Gamaliël oortuig (peithō om iemand te oortuig om iets te glo en daarvolgens te handel). So het die Here aan die ‘iemand genaamd Gamaliël’ (5:34) die insig en woorde gegee om die Raad te oortuig om van hulle moordplanne af te sien (5:33). Die Raad het toe na Gamaliël geluister. So het die Here sy apostelgetuies beskerm en bevry.
5:40 Die Raad laat die apostels weer voor hulle bring, maar voor hulle hulle vrylaat, laat hulle die apostels vir hulle ongehoorsaamheid aan die Raad eers gesel om so die Raad se vorige dreigement uit te voer (4:21). Geseling het behels dat hulle elkeen 39 houe kry, een minder as die 40 waartoe Deutr 25:3 lyfstraf beperk (vgl. 2 Kor 11:24). So is Jesus ook gegesel voor sy kruisiging (Luk 23:16; Mark 15:15; Joh 19:1); so ook sy volgelinge (vgl. Paulus se vyfmaal in 2 Kor 11:24). Die vorige verbod om nie in die Naam van Jesus te praat nie, word herhaal. Maar hierdie keer word na sy Naam Jesus verwys, ironies want die Naam Jesus beteken juis ‘die Here sal verlos’ (Luk 1:31; Matt 1 :21). Daarna is die apostels vrygelaat (apoluō).
5:41 Die apostels sien egter in die onterende behandeling deur die Raad dat God hulle so vereer het. Lukas stel dit in’n slim paradoks: deur ter wille van Jesus se Naam onwaardig gemaak te word voor mense, word hulle waardig voor God. ‘Toe het hulle met vreugde (chairō om gelukkig en goed te voel) van die Raad af weggegaan (letterlik: van die aangesig van die Raad af, ’n Semitiese idioom wat ’n plegtige en feestelike karakter aan hulle vertrek gee – hulle is eintlik deur die Raad verwerp), bly dat hulle (deur die Here) waardig geag was om skandelik mishandel te word vir die Naam’ (vgl. Jesus se vreugde-opdrag in Luk 6:22-23) Jesus het hulle vooraf gewaarsku dat hulle aan Sanhedrins oorgelewer sal word en in die Jode se sinagoges gegesel sal word om sy ontwil (Matt 10:17-18; vgl. Matt 23:34). Jesus het gesê ons moet bly wees as ons om sy ontwil beledig en vervolg en vals beskuldig word (Matt 5:11-12). Soos die Jode dit vermy om die Naam HERE (Jahweh) te gebruik, word Jesus se Naam hier deur Lukas vermy om daarme te kenne te gee dat Jesus God is. 5:42 Uit die vreugde oor hulle lyding ter wille van hulle getuienis van Jesus, gaan die apostels met onvermoeide ywer voort om elke dag Jode en Christene te onderrig en die vreugdeboodskap te verkondig (euangelizō om goeie nuus oor iets te kommunikeer). Hulle doen dit vir die Jode in die tempel waar hulle gegesel is, waar Jesus ook daagliks onderrig gegee het na sy intog in Jerusalem (Luk 19:47). Die apostels onderrig ook van huis tot huis waar die Christene bymekaarkom. Die inhoud van hulle vreugdeboodskap is dat Jesus die Christus is, die Messias wat die Jode as verlosser verwag het. Maar meer as dit, Hy is die Gesalfde wat deur God gesalf is as Koning wat oor die wêreld regeer aan die regterhand van God (Luk 22:69), as die Profeet soos Moses wat die woorde van God na die mensdom gebring het (Hand 3:22-23; Deutr 18:18) en as die Hoëpriester wat sy eie lewe vir die wêreld aan die vloekhout opgeoffer het (Hebr 4:15; 5:10; 6:20; 10:10 deur die offer van sy liggaam; vgl. die Kneg van die Here van Jes 53, Joh 1:29 die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem).
Skrywer: Prof Francois Malan