Die Handelinge van die Apostels: Stefanus se toespraak (Hand 7:1-53) – Francois Malan
Stefanus se toespraak is eintlik nie ’n direkte antwoord op die aanklag teen hom nie, maar ‘n frontaanval op die manier waarop die Joodse leiers deur die eeue die profete wat die Here na hulle gestuur het, verwerp het. Dit eindig in verse 44-50 met sterk argumente teen die tradisionele Joodse houding oor die tempel. In die loop van die toespraak word die twee hoofpunte van die klag in 6:13 indirek beantwoord, naamlik oor die ‘heilige tempel’ en oor die ‘Wet van Moses.’
Stefanus herinner sy hoorders dat God aan Abraham verskyn het buite die heilige land, voordat Hy die wet gegee het en voordat die tempel bestaan het (7:2-8). Hy herinner hulle dat die Jode dwarsdeur hulle geskiedenis konstant die persone wat God na hulle gestuur het, verwerp het, soos byvoorbeeld vir Josef (7:9-16) en Moses (7:17-43). En dat hulle, die huidige leiers en die volk vir Jesus verwerp het, die man wat God na hulle gestuur het. Deur hulle toewyding aan die tempel het hulle God nie herken toe Hy met hulle in die persoon van Jesus Christus gepraat het nie.
7:1 Die hoëpriester vra vir Stefanus: ‘Is dit regtig so?’ Daarmee verwys hy na die klagtes wat teen Stefanus gelê is in 6:13-14, naamlik dat hulle gehoor het Stefanus sê dat Jesus die heilige plek sal afbreek, en die gebruike wat Moses aan hulle oorgelewer het sal verander. Dit gaan nie oor die meriete van die uitsprake nie, maar of Stefanus dit gesê het.
Die geskiedenis van Abraham (Hand 7:2-8)
7:2 Stefanus begin sy toespraak eerbiedig met: ‘Manne broers en vaders, luister:…’ Anders as Jesus wat op sy aanklagte voor die Raad net stilgebly het, het Stefanus ’n lang toespraak om sy getuienis oor Jesus te verduidelik. Deurgaans verwys hy na sy en hulle voorouers as ‘ons vaders’ se geskiedkundige hardnekkigheid en sluit hom by hulle in (verse 11,15,19,38,44), en in vers 51 ‘julle vaders’ toe hy sy preek op die Raadslede toepas.
Die benaming ‘die God van heerlikheid’ (kabōd doksa) kom uit Ps 29:3 (1983 vertaling: die magtige God). Die heerlikheid onderskei die Here van alle ander gode en beskryf die volheid van sy deugde soos dit geopenbaar word in sy beheer oor die hele skepping – iets van die heerlikheid van God is weerspieël op die aangesig van Stefanus (6:15). So het Moses en Elia in die hemelse glans op die berg van Jesus se verheerliking verskyn (Luk 9:31). In Hand 7:55 het Stefanus die heerlikheid van God aanskou. Die God van heerlikheid het aan Abraham verskyn in Ur van die Galdeërs, in die suide van Mesopotamië (Gen 11:31; 15:7; Neh 9:7), toe hy waarskynlik nog ’n heidense maanaanbidder was (Die maan as die vader van die son is in Babilonië, en veral in Ur en in Haran in die noorde van Mesopotamië as god aanbid). Die verskyning van die God van heerlikheid aan Abraham het die hele geskiedenis van die wêreld verander, en die heerlikheid van God is die grondslag van Israel se bestaan as volk. Stefanus wil wys dat hy self juis die God van die verbond met Abraham vereer en verkondig. Die openbaring van God aan Abraham het in die heidense land geskied. God se teenwoordigheid en sy verering is nie aan ’n tempel gebonde nie. Die wet kom ook meer as 400 jaar na Abraham se roeping.
7:3 Genesis 12:1 word hier aangehaal. Met die bevel om sy land en familie te verlaat het die Here van Abraham ’n vreemdeling gemaak in die land wat Hy aan hom sal aanwys. Die tema kom weer in die toespraak voor: Abraham se nageslag sou 400 jaar lank vreemdelinge in Egipte word (7:6), Jakob sou as vreemdeling in Egipte sterf (7:15), Moses word ’n vreemdeling in Midian (7:29), Israel word later vreemdelinge in Babilon (7:43). Vir Abraham het die opdrag van die Here beteken dat hy in geloof en vertroue op die Here die vreemde moes in, en hom moes oorgee aan die daaglikse leiding van die Here. Sy familie het skynbaar later weer afgode begin dien of bly dien, soos spreek uit Laban se afgodsbeeldjies in Genesis 31:19.
7:4 Die weergawe van Stefanus oor die roepingsgeskiedenis van Abraham verskil skynbaar van Genesis 11:27-32 se gebeure en jaartalle, maar dit is nie so duidelik ’n verskil nie. Tera was 205 jaar oud toe hy in Haran sterf (Gen 11:32). Op 70 het hy die vader geword van Abram, Nahor en Haran (Gen 11:27). Of Abram die oudste was, word nie gesê nie, maar vir die skrywer van Genesis was Abram die belangrikste van die drie seuns, en word daarom eerste genoem. Haran, die vader van Lot, het al in Ur gesterf toe Tera nog geleef het (Gen 11:28). Abram was 75 toe hy uit Haran weggetrek het (Gen 12:4). Indien Haran die oudste was, wat gebore is toe Tera 70 was (Gen 11:25), moes Haran 60 jaar ouer as Abram gewees het om Abram se vertrek uit Haran na sy pa se dood op 205 jaar te stel (70+60+75=205). Dit kan die teenstrydigheid verklaar, maar is onwaarskynlik. Die roeping van Abram word in Gen 12:1 genoem, direk na die berig oor sy pa se dood (Gen 11:32), wat aanleiding kon gegee het tot Stefanus se idee dat Tera al dood was met Abram se vertrek uit Haran. Die Joodse wysgeer Philo, wat in 50 n.C. gesterf het, het ook Abram se vertrek uit Haran ná Tera se dood gestel, moontlik om dieselfde rede. Dat Stefanus sê ‘die Here het Abram laat verhuis na die land waarin júlle woon’ impliseer dat Stefanus van die Raad vreemdelinge in die Here se land maak omdat hulle nie in Jesus as die Here van die land aan God se regterhand glo nie.
7:5 Die Here gee egter geen erfdeel in die land aan Abraham tydens sy lewe nie, nie eers ‘n voetstap nie (Griekse idioom vir ’n tree of ’n vierkante tree; hy koop later wel self die spelonk van Magpela as sy besitting vir ’n kerkhof; Gen 23:18), maar die Here belowe dat Hy die hele land aan hom en aan sy ‘saad’ saam met hom as besitting sal gee, hoewel hy op sy ouerdom nog geen kind gehad het nie. Al wat Abram gehad het toe hy as vreemdeling in Kanaän rondgeswerf het, is die Here se belofte van ’n groot nageslag en die besitting van die hele Kanaän (Gen 17:1-8). Dit was nog voor God die wet gegee het en die tabernakel in Moses se tyd laat oprig het, meer as 400 jaar na Abraham. Die soort vertroue op die Here en sy woord makeer egter by die Joodse Raad wat nie in Jesus as die ‘saad’ van Abraham glo nie.
7:6 Daarby belowe die Here vir Abraham se nageslag 400 jaar se slaweskap, as vreemdelinge in ander se land waar die ander mense hulle sleg sal behandel, soos die Here in Genesis 15:13 aan Abram gesê het (Eks 12:41 sê dit was presies 430 jaar, maar in 15:13 is die eerste paar jaar uitgesluit, toe dit met hulle goed gegaan het in Egipte onder Josef). Eers na hulle slawerny sal die Here se belofte vervul word en sou hulle die wet en die tabernakel van Hom ontvang. Deur die eeue word die volk van die Here geroep om in geloof in God en sy woord te lewe.
7:7 Die Here het aan Abraham belowe dat Hy die volk sou straf deur hulle slawe in Egipte te maak en dan sou die Here hulle verlos (Gen 15:14). Na hulle vertrek uit Egipte sou hulle die Here hier in dié plek, in die tempel in Jerusalem, in vryheid kom dien (Eks 3:12 verwys na die berg Sinai in die Here se belofte aan Moses; maar reeds in Gen 22:2,14
word Moria ‘die berg waar die Here voorsien,’ genoem, waar Salomo later die tempel gebou het, 2 Kron 3:1). Wat God sê, doen Hy op sy tyd.
7:8 Die Here het met Abraham ‘n blywende verbond gesluit om sy God te wees en die God van sy nageslag (Gen 17:7). Die Here het die besnydenis gegee as teken van sy verbond met Israel. Elke seun onder hulle moes op sy agtste dag besny word (Gen 12:11). Met die Here se gawe van sy verbond en die teken daarvan, moes Abraham se nageslag vir meer as 400 jaar in geloof en afwagting lewe voordat hulle die landsbelofte ontvang het. Op die agtste dag het Abraham vir Isak besny (Gen 21:4) en so ook Isak vir Jakob en Jakob vir die twaalf aartsvaders op hulle agtste lewensdag (die besnydenis van Jakob en sy twaalf word nie in die Ou Testament uitdruklik vermeld nie). Vir Stefanus berus Israel se sekerheid van God se seënende genade op die Here se verbond met Abraham en sy nageslag, nie op die tempel of die wet nie. Die tempel is al ’n slag verwoes deur Nebukadnesar, maar die Here se genadeverbond met Israel het bly staan. Die Here se verbond met Israel is die rede vir hulle bestaan en is ouer en belangriker as die tempel of die wet van Moses.
Skrywer: Prof Francois Malan