Die Handelinge van die Apostels: Tabernakel en tempel deur Jesus vervang (Hand 7:42-50) – Francois Malan
7:42 In vers 39 het Stefanus gesê ons vaders is in hulle harte omgedraai (passief van die werkwoord strefō) na Egipte toe. Hier sê Hy God het Hom van hulle af weggedraai (aktiewe vorm van strefō). God se swaarste straf op die mens is om hom aan homself en sy eie begeertes oor te gee (vgl. Rom 1:24,26,28). Hy los mense nie passief uit nie, maar gee hulle aktief aan die gevolg van hulle sonde oor om hulleself te vernietig. So het Hy die vaders oorgegee aan hulle geliefde afgode, die leërskare van hemelliggame, ’n Joodse spreekwoord vir die sterre aan die hemel (vgl. Rom 1:23). ‘Die boek van die profete’ verwys na die boekrol van die 12 klein profete. Hieruit word aangehaal uit Amos 5:25-26 volgens die Septuaginta. Die Here het gevra of Hy van Israel tydens hulle woestynreis offers verwag het. Die Septuaginta verander dit in die Here se aanklag dat die huis van Israel nie vir Hóm tydens hulle woestynreis offers gebring het nie, maar vir hulle stergode.
7:43 Amos tree twee jaar voor die aardbewing van ongeveer 760 v.C. op (Amos 1:1; Sag 14:5). Hy het eintlik in Amos 5:25-26 voorspel dat hulle die beelde van die Assiriese god Saturnus sal dra. Die Assiriërs het twee name vir Saturnus gehad, Sikkut en Kijjun. In die Septuaginta is die name verander na Molog, die Kanaäniete se afgod waarmee hulle die son en die sterre aanbid het, en Refan, moontlik die Egiptiese god Saturnus, wat ook die ou Italianers se god was en deur die Romeine vereer is as die vader van Jupiter (Mattheus 2:2 se ‘ster van die koning van die Jode’ volgens die sterrekyker uit die Ooste, kon verwys na ’n konjunksie van Saturnus, die ster van die Jode, en Jupiter, die ster van die konings in 7 v.C.).
Amos voorspel dat die Here vir Israel, die tien stamme, in ballingskap sal laat wegvoer verby Damaskus:
‘Dra dan Sikkut julle hoofgod (mêlêk, koning of hoofgod) julle beeld vanjulle stergod Kijjun wat julle vir julleself gemaak het’ (Amos 5:26).
Die Septuaginta se weergawe daarvan lui:
‘Julle het die tent (skênê in Grieks, sakkut in Hebreeus vir Sikkut) van Molog (molêk vir mêlêk koning/hoof) en die ster van julle god Refan (vir Kijjun) opgetel en gedra, die afbeeldings (tupoi) daarvan, wat julle vir julleself gemaak het.
In 722 v.C. is die tien stamme van Israel in Assirië versprei. Stefanus het egter die ‘verby Damaskus’ toegepas op die wegvoering van die twee stamme van Juda, tot anderkant Babilon in 596 en 584 v.C. (vgl. Jer 7:18; 19:13 vir die Jode se afgode). Die Romeine het die Jode van 66 tot 70 n.C. weggevoer verby Damaskus en in die Romeinse ryk versprei. Telkemale gebeur dit omdat die vaders die Here verwerp het. In Moses se tyd, toe hulle harte aan die kalwerbeeld verbind was, moes hulle 40 jaar in die woestyn rondswerf; in Amos se tyd in Assirië, in Jeremia se tyd in Babilonië, ná Stefanus se dood het hulle in die Romeinse ryk verdwyn, omdat hulle Jesus as hulle Here verwerp het. Die Here sê: Ek sal julle laat wegvoer na waar julle wil wees.
7:44 Eers in Moses se tyd is die tent van getuienis in opdrag van die Here gemaak volgens die tupos, die afbeelding/model wat hy gesien het (vgl. Eks 25:9 en Eks 26; Hebr 8:5). Die ‘tent van getuienis’ is die getuienis van die Here se teenwoordigheid onder sy volk, en waarin die ark van die verbond was, met die wet van die Here op kliptafels, as getuienis van die Here se verbond met Israel. In die woestyn was die tent die tydelike voorloper van die tempel wat Salomo meer as 260 jaar later sou bou, wat deur die Babiloniërs 385 jaar daarna verwoes is, deur Serubbabel na die 70 jaar ballingskap in 517 v.C. opgebou is, en deur Herodus net voor Jesus se tyd vergroot en versier is, waaroor die Jode met Stefanus baklei. Maar die hemel is die ware heiligdom, waarvan die Here vir Moses ‘n voorbeeld laat sien het (Hebr 9:11,23-24; 8:5). In plaas van die afbeeldings (tupoi) wat die Jode van hulle afgode gemaak het, het Moses ’n afbeelding (tupos) van wat die Here hom laat sien het laat bou. Die tent was ‘n getuienis van die Here se teenwoordigheid by hulle.
7:45 Die tent wat gebou is volgens die model wat die Here aan Moses gewys het, wat ons vaders van die Here ontvang het, het ons vaders saam met Josua ingebring in die land wat hulle in besit geneem het van die nasies wat God voor ons voorouers uitgedryf het. Die tent is gebruik tot in die dae van Dawid. Die sin beskryf die geskiedenis van die tent van getuienis van die tyd toe die priesters die verbondsark deur die Jordaan gedra het (Jos 3:6), en die tent van ontmoeting later by Silo opgerig het (Jos 18:1) tot die tyd van Dawid 250 jaar later. Gedurende daardie lang tyd was daar nog geen tempel waaroor die Raad nou so uitvaar nie, maar was die tent die plek van ontmoeting met die Here. Daar is ’n stukkie ironie in die Griekse vertaling van die naam Josua (Hebreeus: Jehosjua‘ – ‘Jahweh red/die Here is die Redder,’ Grieks: Jesus).
7:46 Dawid het guns in die oë (enōpion) van God ontvang en daarom het hy die ingewing van God gekry ‘Om te pleit om ’n woonplek vir die huis van Jakob te verkry.’ Soos die sin letterlik geskryf staan, lyk dit of Dawid pleit om ‘n land vir die Israeliete (die huis van Jakob) te verkry waar hulle kan woon. Die Westerse teks het, ‘pleit vir ’n woonplek vir die huis van Jakob’ vervang met ‘pleit vir ’n woonplek vir die God van Jakob,’ soos 2 Samuel 7 en Ps 132:5 dit beskryf. Volgens Salomo het die Here vir Dawid gesê: ‘Dit is goed dat jy die voorneme het om vir my Naam ’n tempel te bou…’ (2 Kron 6:8). Die woord ‘woonplek’ (skênōma) het die gedagte van tydelikheid. Die tempel is finaal afgebreek nadat Jesus se liggaam die tempel geword het (Joh 2:19-21), en ons die Vader in Gees en waarheid kan aanbid (Joh 4:23-24). Deurdat die Heilige Gees in ons kom woon, word ons liggame die tempel van die Heilige Gees (1 Kor 7:19). Die gemeente het ook die tempel van die Heilige Gees geword (1 Kor 3:16-17; 1 Petr 2:5; Ef 2:20-22). So het Jesus ‘hierdie heilige plek’ in Jerusalem afgebreek en die gebruike verander wat Moses oorgelewer het (Hand 6:14; vgl. Luk 5:36-38).
7:47 Dit was toe Salomo wat vir die Here ’n huis gebou het, 480 jaar nadat die Israeliete uit Egipte getrek het (1 Kon 6:1-2; 8:20). Daarmee is die tydelike tent vervang met ’n permanente tempel, wat nou vir die Jode ’n struikelblok geword het om Jesus te aanvaar as God, wat vol genade en waarheid, onder ons kom woon het (Joh 1:14).
7:48-50 Met die inwyding van die tempel het Salomo gebid: ‘Sou God werklik op die aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het …’ (1 Kon 8:27). Nou stel Stefanus dit radikaal in woorde: ‘Die Allerhoogste (Hupsistos Hoogste) woon nie in (huise) wat met hande gebou is nie…’ Die teenstelling ‘Allerhoogste’ en met ‘hande gemaak’ is absoluut, en verklaar die tempel as nie geskik vir die Skepper van die ganse heelal as woning nie. Dit is die hoogtepunt van Stefanus se konklusie oor die waarde van die tempel, in ooreenstemming met die woorde van die Here in Jesaja 66:1-2 ‘Die hemel is my troon en die aarde die rusplek vir my voete. Hoe moet die huis dan wees wat julle vir My bou, die plek waar Ek kan woon? Ek het alles gemaak en so het alles ontstaan.’ Johannes 1:3 sê van Jesus as die Woord van God: ‘Alles het deur Hom ontstaan en sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie.’ Selfs die hemel is nie die Here se woonplek nie, maar, waar die Here is, is dit die hemel. Dat die hemel sy ‘troon’ is, is ’n simbool van sy gesag om oor sy hele skepping te heers, en Hy heers met genade. Hebreërs 4:16 ‘Laat ons dan met vrymoedigheid die troon van genade nader, sodat ons ontferming en genade kan ontvang om op die regte tyd gehelp te word.’ ‘Voetstoel vir my voete’ (hupopodion tōn podōn) verwys hier na die aarde wat in die volle beheer van die Here staan. As dit dan so is, ‘Watter soort huis sal julle vir My bou,’ sê die Here. ‘…of watter plek van russal julle vir my bou?’(van rus – katapausis beteken eintlik ‘ophou werk’ – die Here hou nie op werk nie, vgl. Joh 5:17) – Die Here is nie aan ’n plek gebind soos die afgode nie. ‘Het my hand dan nie al hierdie dinge gemaak nie?’ Die vraag suggereer die antwoord ‘ja, U hand het die hemel en die aarde alles gemaak.’Dit het Salomo al verwoord met die inwyding van die tempel wat hy laat bou het: ‘Die hemel, selfs die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het?’ (1 Kon 8:27). Daarmee het die Here die belangrikheid van die tempel en van Jerusalem in perspektief gestel. Die grote God heers oor die heelal en kan nie aan ’n tempel of tot ’n plek beperk word nie, nie in Salomo se tyd, of in Jesaja se tyd nie, en ook nie in Stefanus se tyd nie. Jesus het gesê: ‘…wat hier is, is groter as die tempel…Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie,’ (Matt 12:6). Hy het gekom om die tempel, met al die offers wat deur die eeue daar gebring is, te vervul en te vervang deur sy liefdesoffer van Homself aan die kruis. Sy liggaam is die ware tempel (Joh 2:19-21).
Skrywer: Prof Francois Malan