Die Handelinge van die Apostels: Jesus roep Ananias om vir Paulus te sê wat hy moet doen (Hand 9:10-19a) – Francois Malan
9:10 Lukas stel Ananias (‘Die HERE – Jahweh – is genadig’) aan sy lesers voor as ’n dissipel (volgeling van Jesus). In 9:13 beskou Ananias homself as een van die Here se ‘heiliges’ – wat aan die Here toegewy is. In Paulus se verweer voor die Joodse volk in Hand 22:12 beskryf Paulus hom as ’n vroom man wat volgens die wet lewe en ’n goeie naam onder die Jode het (Daar is drie persone in Handelinge met die naam Ananias – die bedrieër in 5:1; hierdie vroom man (ook in 22:12 genoem) en die hoëpriester in 23:2 voor wie Paulus aangekla is na sy derde sendingreis.
Die Here Jesus het in ’n visioen Ananias op sy naam geroep en hy het homself direk tot die beskikking van die Here gestel: ‘Hier is ek, Here.’ Hy herken Jesus in die visoen en is dadelik bereid om na Hom te luister as die Here aan wie hy homself oorgegee het, en wat die seggenskap oor sy lewe het.
9:11 Reguitstraat was destyds die hoofstraat wat oos-wes deur Damaskus geloop het, met ’n poort van pilare aan elke kant. Die huis van Jason in die hoofstraat skep die vermoede dat dit ’n herberg was waar Paulus se metgeselle hulle blinde leier gelos het (vgl. Luk 10:34). As inwoner van Damaskus sou Ananias die huis geken het. Saulus word hier vir die eerste keer deur sy geboortestad Tarsus geïdentifiseer om hom te onderskei van ander met die naam Saulus wat dikwels voorgekom het. ‘Want kyk!’ Luister mooi! Die belangrikste omtrent die man is dat hy op die oomblik in afhanklikheid besig is om soekend met Jesus te praat (proseuchomai om met God te praat, jou versoeke tot God te rig). Sy gebed is die bewys van die egtheid van sy bekering om Ananias gerus te stel.
9:12 Ook Saulus het ’n visioen gehad, soos Ananias. Daarom moes Ananias besef dat Jesus met Saulus besig was. Met die visioen aan Ananias het Jesus die pad na Saulus vir Ananias oopgemaak. Hy verwag Ananias as gestuurde van die Here om hom die hande op te lê om hom weer te laat sien. Ananias kan weet die man is tans hulpeloos blind en wag op die Here se antwoord op sy gebed. Hy sal Ananias as God se bode ontvang. So berei die Here die twee voor vir die ontmoeting wat Hy reël.
9:13 Ten spyte van die Here se verduidelikings bly Ananias skrikkerig vir die man van wie hy by baie mense gehoor het watter bose dinge hy met die Here se mense in Jerusalem gemaak het en hy sien op teen sy opdrag. Daarmee word ook onderstreep hoe sleg Saulus die gelowiges behandel het(vgl. Moses in Eks 3:11 en Jeremia in Jer 1:6 se opsien teen die Here se opdrag aan hulle). Saulus se naam is al in Damaskus bekend onder die gelowiges. Ananias gebruik die benaming ‘u heiliges’ vir Jesus se volgelinge. Die woord heilig het die betekenis van toegewy aan God. ‘U heiliges’ is mense wat aan Jesus toegewy is deur hulle geloof in Hom en deur hulle lewenswandel volgens sy woord (vgl. 1 Kor 1:29 ‘Deur God is julle in Christus Jesus, wat vir ons die wysheid geword het wat van God kom: regverdiging sowel as heiliging en bevryding.’
9:14 Ananias is ook ingelig oor Saulus se opdrag van die Joodse Raad om Jesus se mense te kom arresteer. Hy noem hulle ‘al die Here se mense.’ Dit was die onderskeidingsteken tussen Jode wat aan hulle ou godsdiens toegewy was en mense wat die naam Jesus gebruik het, die naam wat die Joodse Raad wou uitwis (Hand 4:18; 5:40; 7:55-57). Letterlik staan hier ‘almal oor wie u Naam uitgeroep word’ – die passiewe werkwoord van die idioom word die beste weergegee met ‘om die mense van die Here te wees.’ Later word hulle Christene genoem as mense wat aan Christus behoort (Hand 11:26).
9:15 Jesus laat Ananias uitpraat en dan herhaal hy sy opdrag: ‘Gaan!’ en gee vir Ananias ’n kykie in sy planne met Saulus. Deur die Here se onbegryplike verkiesing het Hy Saulus, die vyand van Jesus uitgekies om sy instrument te wees om juis die Naam Jesus, wat Saulus wil uitdelg, uit te dra;‘Want juis hy is vir My ’n uitverkore werktuig om my Naam te dra’ (bastázō ónoma, ’n idioom, letterlik ‘dra ’n naam,’ om informasie oor ’n persoon wyd te versprei). Jesus maak van sy doodsvyand sy bruikbare werktuig (skeuos voorwerp, ding, instrument, word figuurlik gebruik vir ’n persoon vir ’n spesifieke taak). Jesus gaan hom stuur na heidene, en ook na konings, en die kinders van Israel – Jode en nie-Jode, hooggeplaastes en gewone mense. Die heidene kom eerste in die lys en hy beskou homself eerstens as die apostel na die heidene toe (Rom 1:13; 1:14; Gal 1:16; Ef 3:1, ens.). Hy het voor koning Agrippa getuig (Hand 25;13,22; 26:2) en voor goewerneurs (Hand 13:6). Paulus het gewoonlik eers in die Joodse sinagoge gepreek en as hulle die evangelie verwerp, dan na die heidene gegaan (vgl. Hand 9:20; 13:44-46; 17:1-2; 18:4,6). Om sy Naam uit te dra behels die bekendstelling van Jesus as die Seun van God wat vir ons sondes kom sterf het, uit die dood opgestaan het om vir ons die pad na die ewige lewe oop te maak, en aan die regterhand van God oor die ganse skepping regeer en dit onderhou.
9:16 Van die onwaarskynlikste man, vervolger van Jesus se volgelinge, sê Jesus: ‘En Ekself sal aan hom toon hoeveel hy ter wille van my Naam moet ly’ – Hoe sleg (hósa kakà) Saulus die Here se mense behandel het (8:13), word gebalanseer met hoeveel hy moet ly (hósa dei pathein) ter wille van die Here se Naam. Die vers begin met ’n beklemtoning deur die Here: ‘Ek, Ek sal aan hom bekendmaak…’ Soos Jesus moes ly om ons verlossing te bewerk (Luk 24:26,46; Hand 17:3) moet Jesus se volgelinge ter wille van die evangelie ly (1 Kor 4:9-13; 2 Kor 1:5-7; Flp 1:29-30; 3:10; Kol 1:24). Jesus se lyding is vir ons ’n voorbeeld, soos Paulus se lyding ook vir die gemeentes wat hy gestig het ’n voorbeeld was om te volhard in baie ontberings om in die koninkryk van God in te gaan (Hand 14:22).
9:17 Ananias wat in opdrag van die Here moes kom, kom die huis binne. Die blinde Saulus word aan hom bekendgestel deurdat hy sy hande op Saulus lê, soos Saulus in die visioen gesien het (9:12). Hy sê ook vir Saulus dat die Here hom gestuur het – die Jesus wat aan hom verskyn het op die pad waarmee hy gekom het – sodat hy weer kan sien, soos Jesus aan Saulus in sy visioen gesê het. Daaruit is dit vir Saulus duidelik dat Ananias alles weet wat met hom op die pad gebeur het. Ananias spreek hom in sy moedertaal aan as ‘Saul,’ en voeg daaraan toe ‘broer’ wat beteken dat hy Saulus in die gemeente verwelkom as ’n mede-broer in Christus (vgl. Hand 1:15). Met die handoplegging word die Here se belofte vervul dat hy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul word. Met die Heilige Gees wat in Saulus kom woon verbind die Here Hom aan Saulus en neem Hy hom in diens as sy dienskneg en getuie, sy gestuurde apostel (vgl. Hand 22:14-15; 26:16-18; Rom 1:1; 1 Kor 1:1; 2 Ko 1;1; Gal 1:1; Ef 1:1; Kol 1:1; 1&2 Tim 1:1; Titus 1:1). Saulus is die Latynse naam vir Saul, sy Hebreeuse naam.
9:18 Onmiddellik val daar iets van sy oë af, soos vliese (wat sy oë teen die verblindende lig beskerm het?), of soos die skubbe van ’n vis of die skilfers van jou vel (lepís ’n skub of ’n skilfer) en hy het weer gesien (vgl. Luk 4:18) – na drie dae se duister waarin hy tot stilstand moes kom, sy opstand teen God bely het (vgl. 1 Kor 15:9-10; 1 Tim 1:13-14), sy woede teen die Jesus-gelowiges moes aflê en hy anders oor Jesus en sy volgelinge moes begin dink. Die man wat dreiging en moord in- en uitgeasem het (Hand 9:1), het later gelowige eienaars vermaan om hulle dreigemente teen hulle slawe te staak omdat hulle altwee dieselfde Here in die hemel het, wat niemand volgens die uiterlike beoordeel nie (Ef 6:9). Dit was drie dae vir besinning en aanvaarding van Jesus as die verwagte Messias van Israel en as die Here ook van sy lewe. Hy het opgestaan en is deur Ananias gedoop as die seël op sy kindskap van God. 9:19a Na drie dae se vas (9:9) eet Saulus weer en het hy sy liggaamlike en geestelike kragte herwin. Hy het later gesê: ‘As iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword. En dit alles kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen het en aan ons die bediening van die versoening gegee het…’(2 Kor 5:17-18).
Skrywer: Prof Francois Malan