Die Handelinge van die Apostels: Nadraai van Petrus se vrylating (Hand 12:17-19) – Francois Malan
12:17 ‘Nadat Petrus vir hulle met die hand ’n teken gegee het om stil te wees het hy in besonderhede vertel (diêgéomai) hoe die Here hom uit die tronk uitgelei het.’ Hulle moes nie in vreugde begin jubel en skreeu en die hele omgewing wakker maak met hulle groot vreugde sodat die wagte sal kom ondersoek instel oor wat aangaan nie.
Die groep kry die opdrag om die hele storie aan ‘Jakobus en die broers/gemeente’ te vertel. Hierdie Jakobus is die broer van Jesus (Mark 6:3). Sy broers het eers nie in Jesus geglo nie (Joh 7:1-5). Maar na Jesus se hemelvaart sê Handelinge 1:14 dat sy broers deel was van die groep wat die tien dae tot die uitstorting van die Heilige Gees in gebed volhard het. In Galasiërs 2:9 sê Paulus dat Jakobus en Sefas en Johannes as die pilare (in die kerk) gereken is. In Hand 15:13-21 is Jakobus die leier wat die besluit van die vergadering in ’n besluit saamvat en Amos 9:11-12 aanhaal as Skrifgrond vir die besluit. Volgens Handelinge 21:17-25 is Jakobus duidelik die leier in die Jerusalem-gemeente. Volgens Galasiërs 2:11-13 is Petrus en Barnabas bang om aanstoot te gee aan die mense wat van Jakobus af gekom het as hulle sou voortgaan om saam met die heiden-Christene te eet. Dit skep die gedagte dat Jakobus streng volgens die wet bly lewe het en nog gereeld die tempel- en sinagoge-dienste bygewoon het nadat hy gelowig geword het, daarom in guns was by die Jode en kon aanbly in Jerusalem toe die ander apostels ook vir hulle lewe moes vlug. Hierdie Jakobus is ook die skrywer van die Brief van Jakobus, wat hy voor sy marteldood in 62 n.C. geskryf het (vgl. daaroor die aantekeninge by Hand 1:13-14).
[Josefus, die Joodse geskiedskrywer, vertel in Ant 20:9:1 (gepubliseer in 93/94 n.C) dat die hoëpriester Ananus die Joodse Raad byeengeroep het, ’n klag van oortreding van die wet gelê het teen Jesus Christus se broer Jakobus en ’n paar van sy metgeselle, en hulle laat stenig het.]
Nadat Petrus van sy ontsnapping uit die tronk vertel het, ‘het hy buitentoe gegaan en na ’n ander plek vertrek.’ Blykbaar het al die apostels wat nog in Jerusalem was, met Petrus se gevangeneming die stad verlaat omdat dit toe duidelik was dat die apostels in Herodes Agrippa se visier was om doodgemaak te word. In Handelinge 15:6-11 kom Petrus weer aan die woord in die vergadering van apostels en ouderlinge. Daarna is daar enkele verwysings na hom in die Bybel: Volgens Galasiërs 2:11 was hy in Antiogië. 1 Petrus 1:1 skep die indruk dat Petrus in Klein-Asië gewerk het in die provinsies Pontus in die noorde van die huidige Turkye, Galasië, Kappadosië, Asië, en terug in Bitinië in die noorde. In Korinthe in Griekeland was daar ’n groep aanhangers van Sefas (1 Kor 1:12). 1 Kor 9:5 impliseer dat Sefas sy vrou op sy reise saamgeneem het. Volgens Gal 2:7-9 het Jakobus, Sefas en Johannes veral na die besnedenes met die evangelie gegaan en Paulus en Barnabas veral na die heidene. Teen die einde van sy lewe sou Petrus ook na Rome in Italië gegaan het. Tydens die vervolging van die Christene onder keiser Nero, veral ná die groot brand wat die helfte van die stad Rome in 64 n.C. afgebrand het, sou hy volgens oorlewering daar gearresteer word en met sy kop na onder gekruisig word. Volgens oorlewering sou die gemeente in Rome vir Markus versoek het om die boodskap oor Jesus Christus, die Seun van God, soos Petrus aan hulle vertel het, op skrif te stel as die eerste Evangelie, wat ons ken as die Evangelie van Markus (vgl. Mark 1:1).
12:18 Met hierdie naspel getuig die wêreld indirek van die wonder wat God laat gebeur het. Eintlik spel die komiese gebeure van die geharde soldate se ‘nie kleine’ verleentheid ’n groue werklikheid. Toe dit dag word was daar onder die soldate ’n vreeslike opskudding (ouk óligos letterlik: ‘geen geringe…nie’ – Lukas is lief vir ‘n litotes en, dié beklemtoning deur die teenoorgestelde, kom 7 maal in Handelinge voor; opskudding tárachos is ’n akute spanning en uiterste angs en verwarring) oor wat tog van Petrus geword het. Die Romeinse wet vir wagte se verantwoordelikheid as borge vir hulle gevangenes was dat hulle die straf kry van die persoon wat uit hulle bewaking weg is (Kodeks Justinianus 9:4:4), en hulle het geweet Petrus sou die doodstraf gekry het (vgl. die vrees van die wagte wat Jesus se graf moes bewaak, Matt 28:11-14).
12:19 Herodes laat Petrus tevergeefs soek omdat die Here hom bewaak. Daarom word sy frustrasie en woede op die wagte uitgehaal. Nadat hy die soldate ondervra het en geen verklaring vir die wonder kon kry nie, het hy beveel dat hulle tereggestel word. Hulle het hulle plig versuim en hom in die verleentheid voor die volk gestel. Sy oupa het die seuntjies van Bethlehem laat doodmaak om enige aanspraakmaker op die troon te elimineer (Matt 2:16). Hierna het hy afgereis van Judea na Sesarea en daar gebly. Judea word hier vir Jerusalem gebruik. Jerusalem lê teen die berge van Judea en Sesarea onder by die see. Maar eintlik was Sesarea die hoofstad van die Romeinse provinsie Judea. Jerusalem was die godsdienstige hoofstad van die Jode, en Sesarea ’n heidense Grieks-Romeinse stad wat Agrippa se oupa gebou het. Herodes verlaat die massa Joodse Paasgangers wat hy wou behaag, en gaan verneder terug na sy Romeinse lewe waar hy verhoog kan word (vgl. Jesus se woorde in Lukas 14:11 en 18:14 ‘elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, maar hy wat homself verneder, sal verhoog word’).
Skrywer: Prof Francois Malan