Die Handelinge van die Apostels: Die begin van die sendingreise (Hand 13) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Die fokus van Handelinge verskuif nou na die voortgaande werk van Jesus deur die bediening van Saulus/Paulus onder leiding van die Heilige Gees. Die voortgang van die storie word verbind aan die sentrums waarheen Saulus deur die Heilige Gees gelei word. Die drie dominante temas in die meeste van die verslae oor die sendingreise wat met hoofstuk 13 begin is: 1 die belangstelling van die heidene en veral godvresendes onder hulle in die boodskap van die evangelie; 2 die teenstand en vervolging van die gelowiges deur die Jode; 3 die groeiende sukses van Paulus se bediening in die stigting van gemeentes in die Romeinse ryk (tydens sy reise word al Paulus se briewe geskryf as riglyne vir die gemeentes, veral oor probleme en vrae van die gemeentes).

Barnabas en Saulus word uitgestuur (Hand 13:1-3)

13:1 Die verskillende dienaars wat leiding geneem het in die Antiogië-gemeente (ekklêsia verwys hier na die plaaslike gemeente) word hier vermeld. Die werk van die profete en leermeesters kan nie skerp onderskei word nie. In die tyd voordat die Nuwe Testament ontstaan het, het die Heilige Gees deur die Nuwe Testamentiese profete die wil van die Here in die gemeentes se verskillende omstandighede aangewys. Hulle het veral die goeie nuus in die gemeentes gepreek. Die leermeesters (didáskaloi word net een maal in Handelinge genoem) het die gemeente onderrig in die geloof in God en die lewenswyse van kinders van God. Albei dienste is deur die Heilige Gees gebruik om die gemeentelede op te bou.

Onder die leiers van die gemeente word enkeles genoem: Barnabas uit Siprus, wat moontlik die leiding geneem het saam met ’n Simeon genoem Niger, wat hom onderskei van die ander Simons in Handelinge. Die bynaam Niger verwys na die Latynse woord vir swart of donker. Hy was waarskynlik ’n afstammeling van godvresendes in Afrika, wat gelowige geword het. Lucius uit Sirene in Noord-Afrika word ook in Romeine 16:21 genoem as ’n volksgenoot van Paulus, wat saam met hom in Korinthe is, vanwaar Paulus Romeine skryf. Manaen, (’n vorm van Menahem, 2 Kon 15:17) was ’n jeugvriend van Herodes Antipas, wat later oor Galilea en Perea regeer het ná sy pa, Herodes die Grote, se dood. Saulus uit Tarsus word laaste genoem in die lys wat met Barnabas begin. Waarskynlik was Barnabas die oudste en Saulus die jongste van die profete en leermeesters in die Antiogië gemeente, wat hier genoem word. Vier van die vyf wat genoem word kom uit die buiteland (diaspora, Israel se verstrooiing) en slegs Manaen uit Palestina.

13:2 Dit is nie duidelik of die ‘hulle’ wat besig was om die Here te dien en te vas, verwys òf na die gemeente van Antiogië òf na die groep profete en leermeesters, wat albei in vers 1 genoem word nie. Die woord vir ‘dien’ is tot ’n mate ’n ongewone woord leitourgéō, wat in die alledaagse Grieks gebruik is vir onbetaalde diens aan die staat. In die Bybel word dit gebruik om spesifieke godsdienstige handelinge uit te voer as deel van jou rol of verantwoordelikhede (Luk 1:23 vir Sagaria se diensbeurt; in Hebr 10:11 vir die priesters se daaglikse offers; in Rom 15:27 vir die gemeentes se barmhartigheidsdiens met die kollekte vir die gemeente in Jerusalem; teenoor latreúō as deel van jou godsdienstige handeling in aanbidding en toewyding in diens van die Here, Rom 1:9; Flp 3:3). Terwyl hulle besig was met diens aan die Here en gevas het, het die Heilige Gees gesê (waarskynlik deur een van die profete): ‘Sonder nou vir My Barnabas en Saulus af vir die werk waarvoor Ek hulle reeds spesifiek geroep het en waarvan hulle nou die verantwoordelikhede moet opneem – dié aspekte lê in die perfektum vorm van die werkwoord proskaléomai. Die betekenis van Josef se bynaam Barnabas is in Hand 4:36 verduidelik as ‘Seun van Vertroosting.’ Waarvoor die Here vir Saulus uitgekies het is reeds in Handlinge 9:15 uitgespel. Die meer as 14 jaar na sy bekering was ’n tyd van voorbereiding vir Saulus se taak waarvoor die Here hom oorspronklik geroep het.

13:3 Toe die gemeente klaar gevas en gebid het, het hulle die hande op Barnabas en Saulus gelê en hulle gestuur – ‘as instrumente om Jesus se Naam uit te dra na nasies en na konings en na Israel’ (Hand 9:15). Hulle het gevas en gebid om die seën van die Here af te smeek oor die werk waarvoor die Heilige Gees Barnabas en Saulus afgesonder het. Die handoplegging deur die gemeente is om hulle aan die Heilige Gees oor te gee om hulle te lei en te gebruik in die Naam van die Here Jesus, met die ondersteuning van die gemeente se voortgesette gebede vir hulle. Antiogië word deur die Heilige Gees gebruik as die sendende gemeente van die sendingreise wat hierop volg. In 14:27 word die hele gemeente byeengeroep vir die verslag van Barnabas en Paulus oor alles wat God met hulle gedoen het en dat Hy ’n deur tot die geloof vir die heidene oopgemaak het.

Skrywer:  Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...