Die Handelinge van die Apostels: In Listra (Hand 14:8-20) – Francois Malan
14:8 In Listra was ’n man wat onbekwaam was. Sy onbekwaamheid word uitgespel met drie beskrywings om die erns van sy situasie te beskryf en die wonder van sy genesing daarteen te laat skyn: onbekwaam aan sy voete het hy gesit, lam van sy geboorte af (soos die bedelaar by die tempel in Jerusalem, 3:2) en kon nog nooit vry loop nie.
14:9 Die Here open die man se ore dat hy luister na wat Paulus oor Jesus in Grieks aan die skare naby die tempel van Zeus aan hulle vertel. Die Here open ook die oë van Paulus wat deurdringend na die man kyk en sien dat die Heilige Gees in die man die geloof gewek het om genees/gered te word (die woord sōzō kan verlos, red en/of genees aandui). Jesus het ook geweet wat in die gedagtes van sy dissipels aangaan (Luk 9:47; vgl. ook Matt 9:4; 12:25; Luk 6:8; Joh 2:25).
14:10 Onder leiding van die Heilige Gees sien Paulus ook hoe die man genees kan word. Soos Stefanus met ’n harde stem uitgeroep het dat almal dit kon hoor: ‘Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie’ (Hand 7:60), sê Paulus vir die lam man met ’n harde stem dat almal dit kan hoor:’ Staan op, regop op jou voete!’ Dat dit die Here is wat deur Paulus praat, blyk uit die Here se opdrag aan Esegiël 2:1 ‘Mens, staan regop, Ek wil met jou praat.’ Jesus sterf ook met ’n harde stem: ‘Vader in u hande gee Ek my gees oor!’ en net daarna het Hy sy asem uitgeblaas (Luk 23:46). Die lam man het opgespring en rondgestap (vgl. ook die lam man voor die tempel in Jerusalem, Hand 3:8 waar dieselfde woord gebruik word; die Griekse woord vir opspring, hállomai, in die lug opspring, word volgens Joh 4:14 deur Jesus gebruik om die werking van die Heilige Gees te beskryf as die lewende water wat Hy gee, wat in ons sal opborrel tot die ewige lewe (vgl. Joh 7:37-38). Dat die wondergenesing van God kom, was vir die hele skare duidelik. Die man het in geloof Paulus se opdrag gehoorsaam, en aan sy uitbundige vreugde uiting gegee deur ’n borrelende gespring op die voete wat sy lewe lank sy hindernis was en sy gees ook terneergedruk het.
14:11 Die wondergenesing het hier ’n ander reaksie as by Hand 3:9 toe die Jode God geprys het oor die lam bedelaar se genesing en Hand 9:35 toe al die inwoners van Lidda en Saron hulle tot die Here gekeer het. Die Jode beskou ’n genesing as ’n wonder van God. Die heidene glo dat hulle gode self in mensgestalte verskyn. Die legende van die Griekse gode Zeus en Hermes wat in die gedaante van gewone sterflike mense Frigië kom besoek het, was by hulle bekend. Die gode is deur niemand gasvry ontvang nie, behalwe deur die ou egpaar Filemon en Baucis in hulle hutjie. Zeus het hulle daarna op ‘n heuwel laat bly waar hulle veilig was toe daar ’n groot vloed gekom het, hulle aangestel as die bewakers van sy tempel, tegelyk laat doodgaan en hulle toe in bome verander. Ten spyte van Paulus se verkondiging van die evangelie in Listra (14:7) het hulle bygeloof, dat hulle gode ’n menslike gestalte kan aanneem om by die mense uit te kom, hulle opinie van Barnabas en Paulus beïnvloed. In hulle moedertaal Likaonies, wat vir Paulus-hulle onbekend was, het hulle hulle stemme verhef (vir mekaar begin skreeu): ‘Die gode het soos mense geword en na ons toe afgedaal.’
14:12 Zeus was die hoofgod van die Grieke wat vanuit die berg Olimpus met sy bewolkte top regeer het, en Hermes was die boodskapper van die gode – Die Romeine het Zeus Jupiter genoem wat vanaf hulle berg Alba af regeer het en vir Hermes het hulle Mercurius genoem. (Die Romeine het ons planete se name gegee. Ons grootste planeet is Jupiter, die koning van die gode. Ons planeet met die kortste baan om die son is Mercurius, genoem na die vlugvoetige Romeinse god met vlerkies aan sy enkels).
Vir Barnabas het die mense van Listra Zeus genoem, die god wat nie self praat nie, maar deur sy boodskapper wat sy woorde oordra, en vir Paulus, wat die praatwerk gedoen het, noem hulle Hermes, die welsprekende boodskapdraer van die gode, wat voorspoed aankondig en bring. Die inwoners van Listra het geglo dat Barnabas en Paulus as dié twee gode self in menslike vorm na hulle toe gekom het. Hulle het die twee se goddelike name in Likaonies uitgeroep.
14:13 Die mense wou die vermeende gode goddelik vereer met ’n groot offerande. Hulle word gelei deur die priester in die tempel van Zeus wat buite die stadsmuur gebou is, soos baie tempels in die ou tyd. ’n Feestelike skare, gelei deur die priester en gevolg deur bulle met blomkranse om hulle nekke, beweeg deur die stad na die stadspoorte (letterlik: die stad se deure) op pad na die groot altaar voor die tempel, waar die bulle as offers gebring gaan word aan die gode wat hulle kom besoek het. Die apostels aanskou die skouspel. Die verlamde het waarskynlik by die poort van die stad op pad na die tempel gesit, waar Paulus hom voor die skare genees het.
14:14 Lukas noem Barnabas en Paulus hier apostels, hoewel hulle nie onder die twaalf apostels getel is wat Jesus op sy aardse reise in Palestina vergesel het nie. Die woord apóstolos verwys na iemand wat met ’n spesiale boodskap gestuur word, veral van die twaalf dissipels wat Jesus as apostels uitgekies het (Lukas 6:13), maar ook van Paulus wat Hy vanuit die hemel uitgekies het (Hand 9:15) en van ander vroeë Christene wat die evangelie aktief uitgedra het.
‘Toe die apostels hoor…’ Iemand sou vir hulle verduidelik het dat die groot feestelike optog bedoel is om hulle twee as gode in hulle stad te verwelkom en te vereer. Die persoon, waarskynlik die priester, het hulle kom haal vir die okkasie. Toe hulle dit hoor het hulle hulle klere geskeur as protes teen die stad se planne (Die Joodse hoëpriester het sy klere geskeur by die aanhoor van Jesus se ‘godslastering;’ (Mark 14:63-64; Matt 26:65). Vir Barnabas en Paulus was die gedagtes van die mense om hulle twee as gode te vereer, godslastering teen die ware God, die Here (Lev 24:13-16). Met die skeur van hulle klere wil hulle ook aan die skare wys dat hulle bloot mense is wat nie vereer moet word nie, dat hulle heidene die heerlikheid van die onsterflike Skeppergod verruil het vir sterflike mense wat deur Hom geskep is (Rom 1:23).
Hulle twee storm toe skreeuend tussen die skare in om hulle optog te staak.
14:15 Hulle skreeu: ‘Mense wat maak julle? Ons is ook mense met dieselfde gevoelens (homoiopatheis) as julle’ – in alle opsigte soos julle, met dieselfde menslike natuur as julle.
‘Ons is verkondigers van die goeie nuus (euangelízomenoi; oor Jesus) aan julle, om heeltemal weg te draai van hierdie futiele dinge (mátaios nutteloos, sonder inhoud en vrugteloos; vgl. Rom 1:21 sinloos; in die Ou Testament gebruik van afgode, 1 Kon 16:13,26; Jer 2:5; Ps 115:4-8 se beskrywing) na die lewende God’ wat ook die lewe gee en om sinvol te lewe (vgl. 1 Thes 1:9-10). Hy het die hemel en die aarde en die see en alles daarin gemaak’ (Eks 20:11); dit sluit ons mense as sy skeppings in. Teenoor die heidene met hulle baie gode wat vir verskillende dinge verantwoordelik is, skilder Paulus die een ware God van die Ou Testament wat alles geskape het en alles onderhou (Jer 10:10-16; Jes 28:23-29).
Hierdie kortste preek in Handelinge is die eerste preek van Paulus voor heidene wat Lukas beskryf. Later volg die een op die Areopagus, wat langer weergegee word (Hand 17:22-31). Paulus se preek voor die Jode in Antiogië kon begin by die Ou Testament se heilsgeskiedenis. Die heidene ken nie die Ou Testament of die God van die Ou Testament nie. Hier begin Paulus met die valse voorstelling van die heidene se baie gode, en roep hulle om hulle tot die ware God te bekeer. Vir die heidene begin Paulus die ware God bekendstel met sy openbaring in die natuur en hoe Hy die skepping onderhou. Hy roep hulle om hulle heeltemal van die afgode af om te draai (epistréfō jou geloof en lewenswyse te verander en tot God te keer met jou denke oor God, geloof in Hom wat Jesus se offerande vir ons aangeneem het met Jesus se opwekking uit die dood en met ‘n lewenswyse wat daarby pas). Hy is die lewende God wat alles geskep het, sin aan die lewe gee en sy skepping onderhou.
14:16 Gedurende die afgelope geslagte (paroíchomai merk die verloop van tyd, met die fokus op die voltooiing daarvan, tyd wat verby is) het die Skepper, Onderhouer en Regter van al die nasies, hulle toegelaat om volgens hulle eie lewenswyse (figuurlike gebruik van hodós pad) voort te lewe (poreúomai om op te tree volgens die gebruiklike manier, met die fokus op die voortgang daarvan). Die tyd van God se geduld en toelating van die mense se eie lewenswyses teen die wil van God, is nou voltooi. Die mense was onkundig oor die lewende God en sy wil vir die mense wat Hy geskep het. God het hulle afgodediens oorgesien vanweë hulle onkunde oor die ware God se wil vir al sy mense (Hand 17:30). Maar nou het Hy sy wil spesifiek geopenbaar met die koms van Jesus Christus. Om dié goeie nuus te verkondig het Hy sy apostels, sy gestuurde boodskapdraers, uitgestuur na al die nasies van die wêreld.
14:17 Teenoor die aanskoulike beeld van die heidene se lewe en toewyding aan afgode in verse 11-13, skilder Lukas met ’n aanskoulike beeld die Bybelse God se goedheid teenoor hulle, waaruit hulle Hom eintlik moes leer ken het. ‘Al het God in die verlede al die nasies toegelaat om hulle eie paaie te gaan, het Hy Hom tog (kaítoi tog, hoewel Hy dit toegelaat het) nie sonder die getuienis gelaat as Iemand wat steeds goed doen nie; vanuit die hemel/uitspansel het Hy aan julle reëns gegee en vrugbare seisoene (kaioùs, tye, geleenthede), julle gevoed met voedsame voedsel en julle harte met vreugde gevul;’ Letterlik: julle harte gevul met voedsame kos en vreugde (Ps 65:9-14; 145:15-16; 147:7-9). God se goedheid oor alle mense spreek uit die reën wat Hy gee oor regverdiges en onregverdiges (Matt 5:45) en vrugbare seisoene in die droogtegeteisterde gebied van Listra, waardeur Hy aan julle in Listra kos voorsien het en daarmee vreugde in julle harte gegee het. God gee wat die mens nie self kan maak nie, reën en goeie seisoene. Hy openbaar Hom van die skepping af in sy werke, maar die mense het die heerlikheid van die onsterflike God deur hulle sinlose denke verruil vir afbeeldings van sy skepsels om dié te vereer (Rom 1:20-23).
Die hoofpunte van Paulus se preek aan heidene in verse 15-17 (wat in hoofstuk 17 breër uitgewerk is en in die brief aan die Romeine) was anders as sy preek aan die Jode in Antiogië. Die Jode het die Ou Testament gehad en Paulus verwys hulle na die groot dade van God in die geskiedenis van Israel wat na Christus verwys. Maar tog is Paulus se preek aan die heidene gebou op die Ou Testament se uitsprake, soos sy teologie ook, byvoorbeeld in sy brief aan die Romeine:
- Die radikale onderskeid tussen God en die mens – v15 (Jes 31:3; Eseg 28:2) vgl. Rom 1:20: sy onsigbare goddelikheid is duidelik sigbaar in sy werke, wat elke mens kan sien.
- Die sinloosheid van die afgodediens – v15 genoem ‘nuttelose dinge’ (Jer 2:5;8:19 hulle wat nikswerd afgode dien en so self niks word). Rom 1:21 hulle denke het sinloos geword en hulle het die heerlikheid van die onsterflike God verruil vir afbeeldings van sy skepsels.
- Oproep tot bekering – v 15 wegdraai van die nuttelose dinge na die lewende God (is die hoofboodskap van die profete en van Jesus, Mark 1:15). Rom 2:4 besef jy nie dat God se goedheid jou tot bekering wil bring nie?
- Die titel ‘lewende God’ – v15 (Gen 16:13-14 Lagai Roï ‘Hom wat lewe en my sien’; Jos 3:10 die lewende God is tussen julle; 2 Kon 19:4 om die lewende God te smaad; Hos 1:10 kinders van die lewende God, aangehaal in Rom 9:26).
- God as die Skepper van alles – v15 (Eks 20:11) Rom 1:25 die Skepper wat tot in ewigheid lofwaardig is; 1 Kor 8:6.
- Die ‘eie paaie’ van die heidene – v16 (Jer 18:15 ompaaie, ongebaande weë van gode wat nie bestaan nie; Ps 1:1,6 die pad van sondaars, goddelose mense). Rom 3:16 Verwoesting en ellende is op hulle paaie.
- Die gawe van reën – v17 (Jer 5:24, Joël 2:23 God wat die groot reëns gee, die vroeë en die laat reëns elkeen op die regte tyd).
- Die gawe van die jaargetye as tekens van die genadige mag van God – v17 (Gen 8:22 vir so lank as die aarde bly bestaan; Ps 74:17 somer en winter, U het dit gevorm)
- Kos as bron van vreugde – v17 (U het vreugde in my hart gegee, meer as in die tyd wanneer koring en mos volop is; Ps 145:15-16) 2 Kor 9:10 Hy wat die saad aan die saaier voorsien en ook die brood as voedsel…
14:18 Met dié teregwysing kon die apostels die mense kwalik bedwing om aan hulle twee apostels offers te bring, asof hulle die gode Zeus en Hermes in menslike gestalte is, vir wie die mense van Listra wil vereer. So diep was die indruk wat die wondergenesing van die man wat van geboorte af lam was, op hulle gemaak het.
14:19 Verrassend en skokkend is die omswaai van die mense van Listra. Die een oomblik wil hulle die twee apostels as gode vereer, en die volgende oomblik stenig hulle vir Paulus, die woordvoerder – soos Jesus wat op Palmsondag in Jerusalem feestelik ontvang is op ’n donkie onder swaaiende palms, en Vrydag met sy kruis uit die stad moes strompel na Golgota. Die ommekeer word toegeskryf aan die haat van die Jode van Antiogië, wat Paulus-hulle uit hulle stad verdryf het en 138 km gekom het om saam met Jode uit Ikonium, wat destyds georganiseer het om Paulus-hulle te stenig oor ‘godslastering’ en 38 km gekom het om dit doen. Die haatdraende Jode het die Listra-skare omgepraat, Paulus gestenig en hom uit die stad gesleep, onder die indruk dat hy dood is (onder die indruk nomízō is om aan te neem dat iets so is sonder spesifieke sekerheid). Die lyk word buite gegooi vir die diere, want ’n lyk verontreinig die stad. Daarom moes Jesus ook buite Jerusalem gaan sterf het. Paulus verwys na hierdie steniging in 2 Kor 11:25; vgl. 2 Tim 11. So word vervul wat die verheerlikte Jesus vir Ananias oor Saulus gesê het: ‘Ek sal boonop aan hom toon hoeveel hy ter wille van my Naam moet ly’ (Hand 9:16). In Romeine 8:17 sê Paulus self; ‘..as ons saam met Christus ly, kan ons ook saam met Hom verheerlik word.’
14:20 Maar toe die dissipels rondom hom gaan staan het, is hy opgewek/uit die dood opgewek (anístêmi kan altwee die betekenisse aandui). Die kousale werkwoord impliseer dat dit die Here is wat Hom opgewek het. Nêrens word vertel van iemand wat gestenig is en daarna nog gelewe het nie. In 2 Korinthiërs 6:9 verwys Paulus na die uithouvermoë van die dienaars van God: ‘as sterwendes – maar kyk, ons leef; as gekastydes wat tog nie doodgemaak word nie.’ Dan was Paulus se spoedige opwekking uit sy amperse of regte dood deur die Here, ’n wondergenesing dat hy dadelik in die stad kon ingaan en die volgende dag saam met Barnabas na Derbe kon stap, wat 75 km oos van Listra geleë was. Dit spreek ook van Paulus se moed en vertroue op die Here om weer in die stad Listra wat hom vermoor het, in te gaan. Vir Jesus was dit egter op die derde dag ’n opwekking uit die dood met ’n verheerlikte liggaam. Te midde van die teenstand teen Paulus en sy steniging het sommige inwoners van Listra wel in Jesus geglo en kom hulle rondom die gebroke Paulus staan om hom te begrawe en het toe ook sy wondergenesing aanskou. Onder hulle was daar moontlik Timotheus en sy ma en ouma (2 Tim 1:5). Toe Paulus met die tweede sendingreis weer in Listra kom het hy die jongman Timotheus, wat daar gebore is, met hom op sy reise begin saamneem (Hand 16:1-3).
Skrywer: Prof Francois Malan