Die Handelinge van die Apostels: Paulus op die Areopagus Deel 3 (Hand 17:29-31) – Francois Malan
17:29 Na Paulus se positiewe aansluiting by die Griekse kunstenaars se insig in die hoë waarde van die mens as nageslag van God (17:28), keer hy terug na sy ontmaskering van die Grieke se tempels wat nie die Skepper van die hemel en die aarde kan huisves nie (17:24) en van hulle kultus asof die Gewer van lewe, asem en alles wat vir die lewe nodig is, behoeftes sou hê dat die mens Hom daarmee moet bedien nie (17:25). In vers 29 ontmasker Paulus die Grieke se afgodsbeelde wat hulle beskou as hulpmiddels om hulle gode waarlik te ken, asof die gode soos mense is en lyk. ‘Aangesien ons dan God se geslag is, moet ons nie dink dat die goddelike, soos hulle klein goue of silwer huisbeeldjies, of soos hulle groot publieke marmerbeelde is nie – ’n beeld wat gevorm is deur die vaardigheid en ingewing van ’n mens.’ Dit bly menslike skeppings sonder lewe en asem en sonder die moontlikheid om lewe en asem aan mense te gee. Hulle moet tot die besef kom dat die Skeppergod gans anders is as die menslike gode wat deur kunstige mense geskep word. Wat onder ons staan as ons skeppings kan tog nie die Godheid afbeeld wat oor ons staan as ons Skepper en Onderhouer van ons lewe nie. Paulus praat hier uit die wet van God wat beeldediens verbied (Eks 20:4-5) en uit die profete wat die spot dryf met afgodsbeelde wat mense vir hulleself maak uit die oorskiet van hulle braaivleishout (Jes 44:9-19), wat nie eers self kan loop nie maar rondgedra moet word, nie kan help of antwoord as jy in nood na hulle roep nie (Jes 46:5-7), gode wat kan omval (Jes 40:19-20; vgl. Ps 115:4-5; Ps 135:15-18).
17:30 Vir die Atheners, wat so trots is op hulle kennis, wysheid, kuns en kultuur, vat Paulus al hulle dwalings met hulle afgode, tempels en kultusse saam onder ‘n verdoemende uitspraak – dit is tye van onkunde (âgnoia). Hulle erken hulle onkunde oor die ware God met hulle altaar aan die onbekende God. Hulle dwaal omdat hulle nie die ware God ken nie! So het Petrus ook die Israeliete en hulle leiers in Jerusalem beskuldig dat hulle uit onkunde (ágnoia) hulle Leidsman tot die lewe doodgemaak het (Hand 3:17). Paulus het van die inwoners van Jerusalem en hulle leiers wat Jesus veroordeel het, gesê dat hulle Jesus, vir wie God as hulle Verlosser gestuur het, nie herken het nie (agnoéō, Hand 13:27). Jode en heidene word beskuldig van onkunde oor die ware God. In Romeine 1:18-23 wys Paulus na die toorn van God oor die sonde van die mense, want hoewel God sy ewige krag en goddelikheid van die skepping af in sy werke duidelik bekendgemaak het, het hulle Hom nie as God vereer of gedank nie. Hulle het die heerlikheid van die onsterflike God verruil vir beelde van sterflike skepsels.
Maar God het die tye van onkunde van die mensdom oorgesien (huperoráō bo-oor kyk, besluit om dit nie in ag te neem of in berekening te bring nie) en nou beveel Hy (parangéllō aankondig wat moet gebeur) dat alle mense oral hulle moet bekeer (metanoéō jou manier van lewe verander as gevolg van ’n algehele verandering van denke en houding oor sonde en geregtigheid, oor hoe om met God en medemense versoen te lewe). Hy roep mense om hulle geheel en al te werp op die God wat naby ons is (Hand 17:27), in wie ons leef, beweeg en bestaan (Hand 17:28) wat vir ewig in ons kom woon (Joh 14:16-17,23; 15:4: Bly in My, soos Ek in julle), om Hom te soek en te vind (Hand 17:27).
17:31 God roep die mensdom tot bekering want Hy het ’n dag bepaal waarop Hy die hele mensdom (oikouménê) regverdig (dikaiosúnê om te doen wat reg is volgens wat God vereis) gaan oordeel. Dit sê Paulus by die Areopagus, die ou setel van die regters waar hulle ’n oordeel moes vel oor mense se lewens en optrede. In ’n grot langs die Areopagus is die drie godinne van wraak met koekies vereer (wraakgodinne, die Erinúes, waarin die Atheners geglo het, in Latyn Furiae of Dirae). In Athene is hulle vereer as die godinne van die aarde en die onderwêreld, met vlerke en slange in die hare geteken. Wanneer iemand vervloek word het hulle ingetree, ook as iemand sy ouers verwaarloos. Hulle kon die vrug uit die aarde van so iemand weerhou. Hier kondig Paulus die eindoordeel oor alle mense op die aarde aan, op ’n dag wat die ‘onbekende’ god, die Skeppergod, in wie elke mens lewe, beweeg en bestaan, bepaal het (hístêmi om daar te wees, bepaal). Oor elkeen sal dit ’n regverdige oordeel wees (dikaiosúnê wat reg is in God se oë; Ps 9:9 Die Here oordeel die wêreld in geregtigheid; oor die nasies spreek Hy met billikheid reg; Ps 96:13; 98:9; Rom 2:5,16; ).
Vir die spesifieke oordeel het God ’n Man aangewys (orízō om iemand aan te stel vir ’n spesifieke taak; Joh 5:22 Jesus sê: Die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die volle oordeel aan die Seun oorgegee). Aan die aanstelling van Jesus as Regter oor die hele wêreld het God geloofwaardigheid gegee vir almal (pístin paschōn pasin – alliterasie – aan almal versekering gegee dat dit sal gebeur, aan almal geloof in Hom gegee) deur ‘die Man’ uit die dood op te wek. Die opwekking van Christus kan verstaan word as ’n versekering dat God vir Jesus aangestel het as die Wêreldregter, én dat God die geloof gee om in die Man te glo (pístis word gebruik vir wat geglo kan word, vertroue, geloofwaardigheid, geloof in Christus, en vir ‘n belofte). Vir Paulus is geloof in Christus en sy opstanding van kardinale belang (vgl. 1 Kor 15:14: As Christsu nie opgewek is nie, is ons verkondiging sinloos, en ook julle geloof sinloos. 1 Kor 15:17 As Christus nie opgewek is nie, is julle geloof vergeefs en is julle steeds in julle sondes. 1 Kor 15:32 As dooies nie opgewek word nie, laat ons eet en drink want môre sterf ons). Daarom is bekering noodsaaklik, en wel bekering tot geloof in die opgestane Jesus, wat van sonde verlos en wat ook gaan oordeel.
Paulus se Areopagusrede sluit met die oproep tot bekering tot die lewende God in die lig van (kathóti gee ’n rede in die lig van ’n feit) die wêreldoordeel deur die Man wat deur God uit die dood opgewek is as bewys daarvan aan almal. Paulus daag die regters van die Areopagus voor die Wêreldregter om hulle tot Hom te bekeer.
Die resultaat van die Areopagusrede (Hand 17:32-34)
17:32 Die Jode kon nie aanvaar dat die Messias moes ly nie. Hulle verwag ’n gesalfde koning wat Israel weer sal opbou tot ’n groot wêreldmag. Vir die Grieke was die opstanding van die liggaam uit die dood ondenkbaar. Hulle het die liggaam beskou as die kerker van die siel. Met die dood word die siel bevry van die liggaam en word deel van die ewige Rede, sê die Stoïsyne, of soos die Epikureërs verkondig het, die siel sterf saam met die liggaam en alles is verby. So het die Jode die goddelikheid van Jesus om die sonde van die wêreld te kan dra, ontken, en die Grieke dat Jesus mens geword het om ook ons liggaam te laat opstaan uit die dood.
Daar is drie reaksies op Paulus se preek. Die een deel lag hom uit en maak neerhalende grappe oor sy leer (chleuazō gekskeer met iemand deur hom te bespot of te beskimp (soos met Jesus aan die kruis toe die Joodse volksleiers aangehou het om smalend te sê: ‘Ander het Hy gered, laat hy homself red as hy die Christus van God , die Uitverkorene is;’ die Romeinse soldate: ‘As jy die koning van die Jode is, red jouself!’ en die een misdadiger wat Hom aanhoudend gelaster en gesê het: ‘Jy is mos die Christus, of hoe? Red jouself en ons!’ Luk 13:35-39).
Die ander Grieke het gesê: ‘Ons sal jou hieroor ook weer hoor’ – die werkwoord ‘om te hoor’ is in die Griekse medium wyse, wat beteken dat hulle Paulus weer wil hoor tot hulle eie voordeel. Daar is dus tog ’n positiewe ingesteldheid teenoor Paulus se boodskap wat vir hulle moontlik iets kan beteken, maar die saak word uitgestel ad kalendas Graecas, volgens die Griekse kalender. Dit is ’n idioom wat beteken ‘nooit,’ omdat die Grieke verskillende kalenders het wat nooit pas nie. Dit was maar net ’n beleefde manier om te sê ons stel nie werklik belang nie.
17:33 So het Paulus uit hulle midde vertrek. Hy verlaat die byeenkoms by die Areopagus, maar kort daarna ook die stad Athene, (18:1) wat so onverskillig staan teenoor sy boodskap.
17:34 Daar was egter wel ’n paar bekeerlinge wat gelowig geword het deur die werking van die Heilige Gees in hulle harte deur Paulus se dringende oproep tot bekering. Onder hulle word ’n man en ’n dame genoem. Dionisius as Areopagiet was skynbaar een van die regters op Athene se hoër hof wat by die Areopagus hulle hofsittings gehou het. Van die vrou Damaris is verder niks bekend nie, maar sy was waarskynlik ’n vername vrou, en getuie dat die gemeentes van die Here vroue ingesluit het, soos Lidia in Filippi. Dionisius en Damaris was moontlik leiers in die klein gemeente van Athene. Die Griekse Ortodokse Kerk beskou haar as ’n heilige en ’n straat in die huidige Athene is na haar vernoem. Benewens die twee was daar nog enkele ander gelowiges saam met die twee genoemde leiers. Ook hier los Paulus dus ’n gemeente van die Here met sy vertrek.
Skrywer: Prof Francois Malan