Die Handelinge van die Apostels: Die Jode se aanklag teen Paulus (Hand 18:12-17) – Francois Malan
18:12 Gallio het prokonsul van Agaje geword van April 51 n.C. tot April 52 n.C. in die regeringstyd van keiser Claudius – ’n prokonsul is deur die Senaat in Rome aangestel om hulle belange in die provinsie te behartig en met volmag namens hulle op te tree. Die moeilike provinsies wat direk onder die keiser as praetor gestaan het, het ’n propraetor gehad wat die keiser verteenwoordig het en Romeinse soldate gehad het om orde in die provinsie te handhaaf. Gallio was die seun van ’n Spaanse redenaar en finansier wat die ouer broer van die wysgeer Seneca was. Gallio was egter deur die Romeinse redenaar Lucius Junius Gallio as seun aangeneem, en die jongman het toe die naam van sy weldoener aangeneem. Toe Nero in 65 n.C. sy mentor Seneca verplig het om selfmoord te pleeg omdat hy gedink het dat die familie hom wou vermoor, is Gallio ook deur Nero verplig om selfmoord te pleeg.
Kort nadat Gallio, die nuwe prokonsul in Korinthe aangekom het, het die Jode eendragtig vir Paulus met geweld aangeval en na die bêma gesleep, na die groot regtersplatform van die prokonsul op die agora, die stadsplein (Amerikaanse argeoloë het die bema en die agora opgegrawe en is vandag te sien saam met die teater, tempels, winkels, ens.). Die Jode se beledigings en wrewel teen Paulus (Hand 18:6) het met die uitbreiding van die gemeente in Korinthe gebroei en het nou uitgebars met geweld teen die ‘godslasterlike’ Paulus, in die hoop dat die nuwe prokonsul hulle sal help om Paulus uit die stad te verjaag.
18:13 Die Jode se aanklag teen Paulus voor die prokonsul was dat ‘hierdie een (smalend) die mense aanhits om God op ’n manier te dien wat teen die wet is. Waarskynlik verwys dit na die Christendom wat nie staatserkenning as toegelate godsdiens (religio licita) gekry het soos die Joodse godsdiens nie (toelating was beperk tot ’n spesifieke groep mense op voorwaarde dat hulle ritusse nie aan die Romeine of aan die Romeine se gode aanstoot gee nie). Die aanklag van die Jode is miskien die naaste aan die waarheid van al die vorige aanklagte teen Paulus. Maar dit is dubbelsinnig geformuleer. Vir die Jode is die wet van God ter sprake, dat Paulus se verkondiging teen die wet van God is. Hulle het dit egter so gestel dat die die prokurator dit sou verstaan as teen die wet van Rome en teen die Romeinse gode en kultus.
18:14 Die Jode se slim plan met hulle formulering van die aanklag as ‘teen die wet’ het egter nie vir Gallio ’n rat voor die oë gedraai nie. Sy uitspraak getuig van sy insig in die geskil wat agter die aanklag lê. Keiser Claudius het ook kort tevore die Jode uit Rome verjaag oor hulle onderlinge stryery oor ‘Chrestus’ (volgens Suetonius). Daarby het die Here pas vir Paulus verseker van sy teenwoordigheid om Paulus te beskerm om die woord van God sonder vrees in Korinthe te verkondig (18:10). Die Here het ook gesorg vir die insig, wysheid en reaksie van die regter.
Net toe Paulus sy mond wil oopmaak, wil begin praat – na ’n aanklag het die aangeklaagde geleentheid om daarop te antwoord. Maar die regter wys die aanklag dadelik af. Gallio sê vir die Jode: ‘As dit was oor ’n onreg wat gepleeg is (adikía) of ’n ernstige oortreding van morele beginsels, ‘het ek dit aanvaar as in ooreenstemming met julle aanklag’. Dit is ’n spreekwoord vir: om julle aanklag in die hof te aanvaar of toe te laat. Die uitdrukking kan ook vertaal word as ‘om redelik geduldig te wees met julle’ of ‘sou dit vir my ’n rede kon wees om julle te verdra, o Jode!’ Dit is in elk geval duidelik dat die regter nie dink hulle aanklag is van so ’n aard dat hy hom daarmee gaan bemoei nie, en met sy aanspreekvorm ‘o Jode’ laat hy blyk dat hy nie die Jode kan verdra nie.
18:15 Hy sien die aanklag as ‘n dispuut, ‘n stryery oor woorde en name en hulle eie (Joodse) wet, daarom moet hulle self toesien. Dit het waarskynlik gegaan oor Jesus as die Messias of nie, om Hom te vereer sou vir die Jode godslastering wees volgens hulle wet. Gallio het geweier om daaroor regter te wees. Daarmee is die Jode se saak vir die regter afgehandel.
18:16 Maar toe hulle nog voor die regterstoel talm, jaag die regter hulle voor die bêma weg – hy het waarskynlik opdrag gegee dat die klaers voor die bêma, die regtersplatform, verwyder word. Dit is duidelik dat hy geen liefde vir die Jode het nie en hulle en hulle praatjies nie verdra nie.
18:17 Sostenes, die leier van die sinagoge, word toe daar voor die bêma deur die skare aangerand sonder dat die regter hom daaraan gesteur het. Volgens 1 Korinthiërs 1:1 is daar ’n ‘broer Sostenes’ wat medeskrywer is van Paulus se eerste brief aan die Korinthiërs, wat vier jaar later tydens Paasfees in 55 n.C. vanuit Efese geskryf is. Of dit dieselfde persoon is, is nie seker nie, maar tog waarskynlik omdat Sostenes nie ’n algemene naam onder die Grieke was nie. Dit sou beteken dat die tweede leier van ’n sinagoge in Korinthe Christen geword het; dat die slae wat Sostenes by die skare gekry het, deur die werking van die Heilige Gees in sy hart, hom uit die sinagoge geslaan het tot by Christus wat vir hom die slae vir sy sonde gedra het. So was dit ook met Simon van Sirene wat verplig was om Jesus se kruis te dra (Luk 23:26; die vader van Alexander en Rufus, Mark 15:21; Rufus en sy ma was later gemeentelede in Rome, Rom 16:13).
Skrywer: Prof Francois Malan