Die Handelinge van die Apostels: Paulus teen die bose geeste in Efese (Hand 19:11-22) – Francois Malan
19.11 God het ongewone (wat nog nie beleef is nie) wonders (dunameis bonatuurlike kragte) in Efese deur die hande van Paulus verrig. Die wonders het Paulus se woorde in die lesingsaal bevestig en mense ook na Paulus se besprekings getrek. Dit word duidelik gestel dat God aan die werk was deur Paulus se woorde en dade om die pad vir die evangelie oop te maak na die harte en geloof van die mense.
19:12 Selfs as van sy gesigshanddoeke of sweetbande (spoudária) of werksvoorskote (simikínthia) wat kontak met sy vel gehad het weggedra is na die siekes toe, is hulle bevry van hulle siektes en het die bose geeste hulle verlaat. Die kledingstukke van Paulus is slegs simbole van God wat genees, dié Here wat in ’n nagtelike visioen vir Paulus belowe het: ‘Ek is met jou’ (Hand 18:10). Maar in die heidene se gedagte word die genesingskrag van Paulus se liggaam oorgedra deur die klere na die siekes. So het die vrou met die bloedvloeiing ook gereken sy sal genees word deur die soom van Jesus se bokleed aan te raak, maar die genesingskrag het van Hom, wat God is, gekom (Luk 8:43-48; vgl. Luk 6:58; ook Hand 5:15-16 vir Petrus se skaduwee – Efese se heidene moes ook sien wat Jerusalem se Jode gesien het).
19:13 Die uitdrywing van die bose geeste deur die hande van Paulus, volgens vers 12, geskied in die sekerheid dat die Here Jesus deur Paulus werk, vgl. Hand 16:18. Die Here het reeds vir Ananias gesê: ‘Ek het hom uitgekies om my Naam uit te dra na die nasies …’ (Hand 9:15). Die rondreisende Joodse uitdrywers van bose geeste het egter die Naam van Jesus bewustelik misbruik vir hulle eie magiese kunste. Hier word ’n humoristiese geskiedenis oor hulle vertel. Rondreisende Joodse uitdrywers van bose geeste het hulle goedbetaalde kunste met toorformules beoefen met aanroeping van Ou Testamentiese name soos Jahweh, Abraham, en veral Salomo. Die Jode het Salomo beskou as dié wyse man (1 Kon 4:29-34) wat ook toorformules sou opgestel het. Deutr.18:14 sê egter duidelik dat die Here Israel verbied het om soos die Kanaäniete te luister na towenaars en besweerders; vgl. Jesus se opmerking oor ‘julle seuns wat demone uitdryf’ in Luk 11:19; sewe onrein geeste wat terugkom, Luk 11:24-26). Hier in Efese probeer die sewe Joodse besweerders die krag van die Jesusnaam vir hulle eie doel inspan.
19:14 Die besweerders word geïdentifiseer as die sewe seuns van die Joodse leier/hoëpriester Skeva van wie daar verder niks bekend is nie. Maar dat dit seuns van ’n leierpriester is, getuig van hulle belangrikheid. So groot het Paulus se getal volgelinge geword (19:12) dat die sewe groot Joodse besweerders die Naam van Jesus vir hulle beswerings begin gebruik om langs Paulus in die besigheid te kan bly. Maar die verhaal wys dat Paulus, wat die Christendom verteenwoordig, nie nageaap kan word nie.
19:15 Die bose gees antwoord die sewe besweerders deur die besetene se mond. In plaas van uit hom uit te gaan, praat hy met die besweerders en betwyfel hulle gesag. Daarmee het die bose gees hulle reeds oorwin. Sy antwoord is ’n erkenning van Jesus as persoon. Bose geeste ken ook vir Paulus wat reeds namens Jesus van hulle bose geeste uit mense uitgedryf het (19:12), maar die bose gees spot met die sewe Jode wat Jesus se Naam misbruik. Slegs Christusgelowiges word so deur Christus gebruik om sy wil uit te voer. Wie is hulle wat waag om Jesus se Naam te gebruik? Dit is duidelik dat die sewe seuns Jesus nie persoonlik ken of volg nie. Hulle het maar van Paulus se gebruik van Jesus se Naam gedink hulle kan sy Naam as ’n towerformule gebruik om krag by hulle woorde te sit. So misbruik baie mense die woord God en die naam Jesus uit gewoonte en in hulle omgangstaal as stopwoorde of om hulle emosies kragtig uit te druk, sonder dat hulle met Hom wil praat.
19:16 Die man het hulle met bomenslike krag bespring juis met die mag van die bose gees. Hy was sterker as hulle en het al sewe besweerders wat die gees met mag uit die man wou uitdryf, oorweldig (vgl. die krag van die besetene van Gerasa, Mark 5:4). Die sewe het in skande naak, seer en met bloeiende wonde uit die man se huis gevlug.
19:17 Dit word toe in Efese ’n oorwinning vir die Here Jesus. Sy Naam wat deur die sewe duiwelbesweerders misbruik is, het toe, deur die bose gees se optrede, vrees vir Hom onder al die Jode en Grieke in Efese bewerk. So is sy Naam grootliks vereer (megalúnō groot maak, sy grootheid prys, hoog vereer). Paulus-hulle is in Filippi deur die slavin se waarsêersgees bekendgestel as diensknegte van die Allerhoogste God wat die pad tot verlossing verkondig (Hand 16:17). Die Here het die optrede van die heidense magistrate van Filippi gebruik om sy Naam onder die geharde inwoners van Filippi te herstel (Hand 16: 38-39). In Korinthe het die Here die optrede van die heidense goewerneur van Agaje teenoor die Jode in Korinthe gebruik om die voortgang van die evangelie te bevorder (Hand 18:14-27). In Efese het die Here die optrede van die duiwelbesetene gebruik om die eer van sy Naam te vestig (Hand 19:17).
19:18 Die vrees vir die Here Jesus het ook die pasbekeerde Christene tot belydenis gebring en tot onthulling van hulle betrokkenheid by toorpraktyke. Die lot van die duiwelbesweerders en die grootheid van die Here Jesus het tot ’n groot oorwinning oor die toorpraktyke van die Efesiërs gelei. Sedert die 5e eeu v.C. was Efese al beroemd vir hulle toorspreuke (die sogenaamde ‘Efesiese woorde’ Efesía grámmata) wat jou in kontak met die geesteswêreld sou gebring het. Uit hierdie heidendom het die nuwe gelowiges gekom. Die krag van ’n toorformule is aan sy geheimsinnigheid gekoppel. Toe die Heilige Gees die groot aantal gelowiges oortuig het om hulle toorpraktyke openlik te bely, het die toorformules hulle krag verloor en die gelowiges se toewyding aan die Here Jesus versterk.
19:19 Baie van hulle het ook toorboeke gehad met toorformules (Efesía grámmata ‘woorde van Efese’ het ’n spreekwoord geword vir toorformules). Hulle het hulle boeke gebring en op die stadsplein voor almal in die stad verbrand. Dit het ’n groot vuur geword met toorboeke wat 50 000 silwerstukke werd was. Wat die waarde van ‘n silwerstuk was, word nie gesê nie, waarskynlik elkeen ’n dag se loon, maar die aantal spreek van groot kostes. Die brand was ’n reiniging van hulle ou denkwyse en gelowe, ’n breuk met hulle verlede en ’n openbare getuienis voor almal in die stad oor die nutteloosheid en gevaar van towery.
19:20 Die woord van die Here het kragtig bly groei en steeds sterker geword deur Paulus se verkondiging van die woord van die Here (19:10), die besondere kragtige dade van God deur Paulus en sy klere verrig (19:11-12), die beroemde besweerders se vernederende vlug (19:16), en die boekverbranding deur gelowiges. So sê Lukas hier aan die einde van sy beskrywing met ’n paar opsommende stellings oor die mag van die evangelie. Die twee werkwoorde ‘groei’ en ‘sterker word’ is albei in die Griekse imperfektum wat die voortgang daarvan uitdruk. Die mag van die Here en sy woord gaan al verder voort en oorwin die towerwoorde van die besweerders en die krag van die bose geeste.
19:21 Nadat sy werk in Efese al so ver gevorder het, het die Gees Paulus gelei om deur Masedonië (Filippi, Thessalonika? en Berea) en Agaje (Athene en Korinthe) te gaan om die gemeentes te gaan versterk en dan na Jerusalem toe te gaan. Hy het gesê: ‘nadat ek in Jerusalem was, moet ek ook Rome sien.’ ‘Moet’ (dei) verwys gewoonlik na iets wat die Here hom opgelê het. Dit was Paulus se reisplan wat toe anders uitgewerk het as wat hy gedink het.
19:22 Paulus stuur eers twee van sy helpers na Masedonië, Timotheus en Erastus. Erastus was moontlik die stadstesourier van Korinthe wat bekwaam was om die kollekte vir die armes in Jerusalem in Masedonië te gaan organiseer (vgl. 2 Kor 8:1-3). Timotheus is deur Masedonië na Korinthe (1 Kor 16:10-11). Paulus bly self nog langer in Asië, veral in Efese. Volgens 1 Kor 16:8 wou hy tot Pinkster in Efese bly en daarna in Korinthe gaan oorwinter (1 Kor 16:6)
Volgens Paulus se eie weergawe van gebeure het die gemeente in Korinthe onder leiding van ‘iemand’ teen hom begin draai (2 Kor 2:5), al was Timotheus daar as Paulus se gesant (1 Kor 4:17; 16:10). Paulus het Korinthe vinnig gaan besoek maar is in droefheid terug Efese toe en het aan die Korinthiërs ’n streng brief onder baie trane geskryf (2 Kor 2:1-4). Paulus wou aanvanklik na Korinthe toe gaan en vandaar na Masedonië, weer terug na Korinthe en vandaar na Judea. Hy het egter van die plan afgesien na sy tranebesoek aan Korinthe ( 2 Kor 1:16). Toe het hy die tranebrief saam met Titus na hulle toe gestuur en onder leiding van Titus is die verhouding later herstel en die ‘iemand’ tereggewys (2 Kor 7:8-13 en 2:6-7). Volgens Paulus se weergawe was hy intussen in Efese in doodsgevaar, waaruit die Here hom gered het (2 Kor 1:8-10). Hy is toe na Troas, waar hy gehoop het om Titus te ontmoet op sy pad terug van Korinthe af, om te hoor wat in Korinthe gebeur het. In Troas het die Here ’n deur vir sy evangelieprediking oopgemaak, maar omdat hy nie vir Titus daar ontmoet het nie, is hy oor na Masedonië (2 Kor 2:12-13). Daar het hy in angs op Titus gewag totdat Titus met die goeie nuus daar aangekom het dat die verhouding met Korinthe baie mooi herstel is (2 Kor 7:5-7). Toe skryf hy 2 Korinthiërs vanuit Masedonië, wat hy saam met Titus na Korinthe toe stuur. Daarna is hy self Korinthe toe en het daar drie maande in die winter van 55-56 n.C. deurgebring, moontlik ook in Korinthe se hawestad Kenchreë (Hand 20:3; Rom 16:1). Gedurende hierdie tyd skryf hy die brief aan die Romeine, o.a. met die oog op ’n besoek aan Rome, vir ’n bediening daar en dat hulle sy nuwe basis word, vanwaar hy tot Spanje wil reis (Rom 1:9-12; 15:22-23). Na die drie maande in Korinthe wou Paulus Jerusalem toe, o.a. met die kollekte wat hy vir die armes in Jerusalem laat opneem het by die gemeentes wat hy gestig het (vgl. Gal 2:10; Hand 11:30; 1 Kor 16:1; 2 Kor 9:1-2,12 Hand 20:4; 21:17-19).
Oor die doodsgevaar waarin Paulus in Efese verkeer het ( Kor 1:8-11), gee Lukas ’n kykie daarin in die volgende episode.
Skrywer: Prof Francois Malan