Die Handelinge van die Apostels: Paulus se reis na Jerusalem (Hand 21:1-14) – Francois Malan
21:1 Lukas sê nadat ‘ons’ van hulle af vertrek het (van die ouderlinge van Efese af, wat saam met hulle gehuil het) en aan boord gegaan het, het ons reguit (suid) koers gehou na die eiland Kos, die volgende dag (suid-oos) na Rodos en vandaar (oos) na Patara. Lukas sit die beskrywing van Paulus se reis van Korinthe na Jerusalem voort. Die stede van Milete af is waarskynlik ’n aanduiding van waar die skip aangedoen en hulle oornag het. In hoofstuk 21 en veral in hoofstuk 27 maak Lukas gebruik van ’n aantal tegniese seevaartterme wat deur seevarende volke goed verstaan word.
Kos is die belangrikste stad van die eiland Kos en so ook Patara, die hawestad van Lisië. Die eiland Kos in die Egeïese see is 45×11 km groot. Die eiland Rodos in die Middellandse See is 80×18 km groot en 18 km suid van die vasteland. Die kolos van Rodos, die 30 meter hoë beeld van die god Helios met sy twee voete weerskante van die hawe is in 280 v.C. gemaak. Dit was een van die sewe wonders van die Antieke Wêreld. Dit het die god Helios vereer wat hulle in 305 v.C. sou gehelp het om die aanval op hulle uit Siprus af te weer. In 226 v.C. is dié beeld deur ’n aardbewing verwoes. Die ou hawestad Patara met sy beroemde 18 km lange sandstrand, is op een van die suidelikste punte van Klein-Asië se vasteland. Die ruïnes van die ou stad word tans nog opgegrawe deur Turkse argeoloë.
21:2 In Patara soek en kry hulle ’n skip (eurískō kan ook beteken dat hulle die skip onverwags gevind het) wat na Fenisië toe sou oorvaar. So lei die Here hulle na die skip wat die Here vir hulle bestem het om met Pinkster in Jerusalem te wees (vgl. Hand 20:16). Hulle vorige skip was waarskynlik te klein vir die 480 seemyl oortog oor die Middellandse See na Tirus. Die kleiner skepe is gebruik om net tussen hawens wat ’n dagvaart uit mekaar is, te vaar. Hulle het aan boord gegaan van die groter skip wat meer voorrade vir die lang vaart kon saamneem, en het vertrek. Manuskripte uit die sesde en sewende eeu n.C. voeg die hawestad Myra, oos van Patara in, sodat hulle daarvandaan na Tirus toe sou gevaar het.
21:3 Toe hulle al die eiland Siprus aan hulle linkerkant (bakboord) kon sien, het hulle suid van Siprus verbygevaar en in die hawestad Tirus (‘rots’ waarop die stad gebou is) in die provinsie Sirië geland. In vers 2 word die land Fenisië genoem, ‘die land van purper,’ genoem na die seevarende handelstad se vernaamste uitvoerproduk. Alfabetskrif het ook begin by die Fenisiërs. Hulle skrif het slegs medeklinkers gehad en is van regs na links geskryf. Daaruit het Griekse skrif ontwikkel wat van links na regs gelees word, en uit die Griekse skrif het die Latynse skrif ontwikkel, wat ons in Afrikaans gebruik. Deesdae val Tirus in Libanon. Tirus was die bestemming van die vrag van die groter skip wat Paulus-hulle in Patara gekry het. Oorspronklik het die grootste deel van die stad op ’n eiland gelê. Maar Alexander die Grote het in 300 v.C.’n sandwal in die see gebou om die stad in te neem, en die wal het sedertdien breër geword soos sand daarteen gespoel het, sodat die eiland permanent aan die vasteland verbind was in Paulus se tyd.
21:4 Lukas sê ‘ons het die dissipels (in die stad Tirus) gaan soek en gevind en sewe dae by hulle gebly…’ In Hand 11:19 word vertel dat die gelowiges, wat uit Jerusalem gevlug het ná die dood van Stefanus en van Saulus se vervolging van die mense van die Weg, tot in Fenisië die woord aan Jode verkondig het (volgens Lukas 6:17 was daar reeds mense uit Tirus en Sidon wat na Jesus kom luister het). Volgens Hand 15:3 het Paulus en Barnabas op pad na Jerusalem die gemeentes in Fenisië besoek en vir hulle vertel van die bekering van die heidene op hulle eerste sendingreis. Nou benut Paulus die week wat die skip afgelaai en opgelaai word om die gemeente se geloof te versterk. Maar die Heilige Gees gebruik die gemeente om Paulus andermaal te waarsku oor wat vir hom voorlê in Jerusalem, soos in 20:23. Omdat hulle oortuig was dat moeilikheid vir Paulus wag, het hulle uit besorgdheid oor hom gesê: ‘Moenie opgaan na Jerusalem toe nie.’
21:5 Toe die skip klaar gelaai was, was hulle tyd by die gemeente om. Toe hulle na die skip toe gegaan het om te vertrek, het almal van die gemeente, mans, vroue en kinders, saam met hulle uit die stad gegaan, op die strand gekniel en saam met Paulus-hulle tot die Here gebid, soos by Milete (Hand 20:36).
21:6 ‘Nadat ons mekaar gegroet het, het ons aan boord dié skip (waarmee hulle hier aangekom het) gegaan en hulle (die gemeente) het teruggegaan na hulle eie (huise) toe.’ Deurgaans praat Lukas nou van ‘ons’ as een van Paulus se metgeselle.
21:7 Die volgende hawe suid van Tirus, wat die skip aandoen en blykbaar vir ’n dag aflaai en oplaai, is Ptolemaïs, die ou stad Akko (van Rigters 1:31), net noord van Karmelberg. In Paulus se tyd was dit ’n aftreeplek vir Romeinse soldate. Die dag en twee nagte wat hulle daar oorgebly het by gemeentelede was weer ‘n geleentheid om die gelowiges se geloof te versterk. Die ou stad is herdoop tot Ptolemaïs ter ere van Ptolemeus van Egipte wat een van Alexander die Grote se generaals was wat Egipte gekry het om oor te regeer na Alexander se dood. Vandag is dit deel van die staat Israel, naby Haifa, Israel se grootste hawe.
21:8 Die volgende hawestad suid van Ptolemaïs is Sesarea, wat deur Herodes die Grote as hawe vir Israel opgebou is en die setel van die Romeinse goewerneurs was (Hand 12:19). Hier het Paulus-hulle in die huis van Filippus gaan bly, een van die oorspronklike sewe medewerkers van die apostels wat deur die gemeente in Jerusalem gekies is om te help met die versorging van die Helleniste weduwees (6:5). Filippus het ook die werk in die stad Samaria onder die Samaritane begin (Hand 8:4), die Ethiopiese eunug, ’n godvresende uit die heidendom op die eensame pad na Gasa gedoop (Hand 8:38) en daarna in Sesarea gaan bly (Hand 8:40). Hier het Petrus deur sy medewerkers uit Joppe die Romeinse offisier Kornelius en sy familie en naaste vriende laat doop; (10:1,48) almal nie-Jode wat deur die Here tot bekering gelei is deur die werk van sy gelowiges.
21:9 Filippus het vier maagdelike dogters gehad wat deur God gebruik was om sy woord en wil bekend te maak. Die vier ongetroude dogters was profetesse – die teenwoordige tyd van die deelwoord profêteúō dui aan dat dit ’n voortgaande bekendmaking van God se woord was. Eusebius (III.31.3-5 en in III.39.9) vertel dat in biskop Polycratus se brief aan biskop Victor van Rome, en Proculus in sy gesprek met Gaius, altwee sê dat Filippus se graf in Hiërapolis is; ook dié van sy vier dogters wat in die Heilige Gees geleef het en oud geword het as profetesse in Hiërapolis. Hulle het blykbaar later in Hiërapolis gaan werk (vgl. Kol 4:13). Die profete van die Nuwe Testament het hoofsaaklik die woorde van die apostels aan die gemeentes oorgedra om hulle op te bou, te bemoedig en te vertroos (1 Kor 14:3,37). Eintlik behoort elke gelowige ’n profeet te wees wat die woord van God, soos deur die apostels oorgedra, goed verstaanbaar aan die gemeente verduidelik (1 Kor 14:24-25). Die profeet se woorde moes deur mede-profete beoordeel word (1 Kor 14:29-33). Soms het die Here aan so ’n profeet ’n besondere boodskap gegee, soos bv. in die volgende vers.
21:10 Lukas is ooggetuie van die volgende toneel (vgl. ‘ons’). Paulus-hulle vertoef ’n hele paar dae in Sesarea by Filippus en sy dogters. Toe daag Ágabus uit Judea daar op. Hy is ’n profeet wat ‘n boodskap van God vir Paulus bring. Volgens Handelinge 11:27-29 het dieselfde profeet Ágabus uit Jerusalem die swaar hongersnood oor die hele wêreld voorspel, wat ook in 46-48 n.C. tydens die regeringstyd van keiser Claudius gebeur het. Dit het die eerste kollekte vir die gemeente in Jerusalem tot gevolg gehad.
21:11 Nou voorspel Ágabus met ’n sprekende voorbeeld dat Paulus in Jerusalem aan hande en voete geboeid deur die Jode aan nie-Jode oorgegee sal word, soos hulle Jesus aan Pilatus oorgelewer het (Matt 27:1; Mark 15:1; Joh 18:12,24). Om die boodskap van die Heilige Gees wat hy oordra te verduidelik en te beklemtoon, neem hy Paulus se gordel/belt (zōnê ’n lang stuk gevoude materiaal of ’n belt van leer wat ook ’n beursie kan bevat, Matt 3:4; 10:9) en bind sy eie voete en hande daarmee. Paulus is toe nie deur die Jode in Jerusalem met sy eie gordel geboei nie, maar in rasende woede het hulle probeer om hom dood te maak oor die dinge wat hy hulle geleer het (didáskō). Die Here het hom deur die Romeinse soldate uit die kloue van die Jode gered. Die Romeine het hom met kettings geboei (Hand 21:30-33; 23:10). Jesus se voorspelling oor Petrus se dood in Johannes 21:18-19 gebruik ook die beeld van ’n binding met ’n gordel wat sy dood aan ‘n kruis gesimboliseer het. Ágabus se inleidingswoorde ‘So sê die Heilige Gees’ volg die Ou-Testamentiese ‘So sê die Here,’ en Jesus se goddelike uitsprake: ‘Ek sê vir julle.’
21:12 Lukas sê ‘Toe ons dit hoor het ons (al Paulus se metgeselle) en al die plaaslike mense (Filippus en sy vier dogters en van die gemeentelede van Sesarea) vir Paulus gesmeek (parakaléō dringend en met ’n goeie manier te vra) om nie van die kusdorp Sesarea na Jerusalem wat op die bergreeks geleë is, op te gaan nie. Die teenwoordige tyd van die werkwoord beteken dat hulle Paulus aanhou versoek het en dit met trane soos die volgende vers aandui. Petrus het Jesus ook destyds probeer oortuig om nie na Jerusalem te gaan nie (Matt 16:21-22). Die gemeente in Tirus het Paulus reeds gewaarsku om nie na Jerusalem te gaan nie (Hand 21:4). So het die Here Paulus voorberei vir wat op hom wag (vgl. ook Hand 20:23).
21:13 Die aandrang van die gemeente word sterker as by die vorige gemeente (21:4). Paulus reageer op sy vriende se trane: wat doen julle deur so hard te huil en my hart te laat breek! Is hulle mikpunt dat hy saam met hulle sal begin huil en van sy plan om na Jerusalem te gaan af te sien? Sunthrúptō tên kardïan ‘om die hart te breek’ is ’n idioom vir ‘om groot hartseer en smart te veroorsaak.’ Die versoek van sy vriende kom wel nie in so ’n skerp vorm soos Petrus se bestraffing van Jesus in Mattheus 16:22 om nie na Jerusalem op te gaan vir sy dood nie. Maar soos Jesus, is Paulus nie net bereid om gevange geneem te word nie, maar ook om in Jerusalem te sterf ter wille van die Naam van die Here Jesus (vgl. Jesus se uitroep oor Jerusalem in Luk 13:34). Jesus het Petrus ook hard bestraf as Satan, sy teenstander, wat vir Hom ’n struikelblok is op sy pad om vir die sonde van die wêreld te gaan sterf (Matt 16:23). Die Here Jesus se Naam verwys na sy Persoon en sy reputasie, dit waarvoor Jesus as die Here God gesterf het en uit die dood opgestaan het – die Here wat Paulus op die pad na Damaskus ontmoet het en sy siening en ganse lewe omgekeer het (Hand 9:3-5).
21:14 Daarop het ‘ons’ geswyg, opgehou om hom te probeer oortuig. Die rustige gelowige houding van Paulus het sy helpers en die gemeente omgeswaai sodat hulle ook soos Jesus kon sê: ‘Laat die wil van die Here geskied’ (vgl. Luk 22:42). Jesus is dwarsdeur Handelinge besig om sy wil en heilsplan vir sy kerk deur sy volgelinge deur te voer. Hier in Sesarea gee sy volgelinge hulle gelowig oor aan Paulus se wyse leiding.
Paulus se verwagting dat moeilikheid in Jerusalem op hom wag, het hy al in Korinthe geskryf in sy brief aan die Romeine 15:30-32. Die weergawe in Handelinge begin by die Jode wat ’n komplot teen hom gesmee het met sy vertrek vanuit Korinthe, wat hom toe ’n ander pad na Jerusalem laat volg het (Hand 20:3). Daarby het die Heilige Gees van stad tot stad aan hom bevestig dat gevangenskap en swaarkry op hom wag (Hand 20:23). Die ouderlinge van Efese het almal baie gehuil by hulle finale afskeid van mekaar (Hand 20:37). By Tirus het die gemeente onder leiding van die Gees aan hom gesê om nie na Jerusalem te gaan nie (21:4). Hier in Sesarea het Ágabus hom kom waarsku (21:11), waarop die gemeente hom gesmeek het om nie na Jerusalem op te gaan nie (21:12). Dit het Paulus net al sterker oortuig dat die Here hom in Jerusalem wou hê.
Skrywer: Prof Francois Malan