Die Handelinge van die Apostels: Paulus verskyn voor Festus (Hand 25:1-5) – Francois Malan

image_pdfimage_print

25:1 Keiser Nero stuur Porcius Festus in 58 n.C. as sy goewerneur in Judea en Samaria om Feliks op te volg en die baie opstande daar te gaan onderdruk. Anders as Feliks is hy nie ’n vrygelate slaaf nie, maar uit die regerende patrisiërklas, uit die vooraanstaande Porcia familie in Tusculum, 25 km van Rome af. (In 207 v.C. het een van die Porcias gehelp om Hannibal se broer Hasdrubal in die tweede Puniese (Latyn vir Kartago) oorlog te verslaan, toe Hannibal met die olifante oor die Alpe probeer trek het. Daarna was daar ’n ry konsuls in die Porcia familie).

Ook anders as Feliks, stel Festus nie Paulus se saak uit nie, maar hy het skaars in die goewerneurswoning ingetrek of hy gaan besoek Jerusalem om met die leiers van die volk oor wie hy moet regeer, te gaan kennismaak. 

25:2-3 By sy kennismaking met die leiers van die Jode rig hulle een dringende versoek aan die goewerneur. Die leierpriesters is die dagbestuur van die Sanhedrin wat bestaan uit Sadduseërpriesters en die prominente (prōtoi) Jode – die familiehoofde. As verteenwoordigers van die Sanhedrin lê hulle’n offisiële klag (emfanizō) teen Paulus aan Festus voor. (Voor Feliks het hulle reeds hulle offisiële klag teen Paulus uiteengesit; 24:1). Baie ordentlik het hulle Festus baie ernstig versoek en by hom gepleit om, as sy intreeguns aan hulle, vir Paulus na Jerusalem toe te laat haal (metapémpomai) –  dit terwyl hulle al die tyd ’n hinderlaag beplan om van Paulus langs die pad ontslae te raak deur hom te vermoor. So is die Sanhedrin betrek by die plan om Paulus onwettig uit te wis. (volgens Josefus Antiq 20:8:8 het koning Agrippa II teen dié tyd al vir Ismael die seun van Fabi as hoëpriester aangestel).

25:4  Festus gee as antwoord op hulle versoek sy besluit en reëling: Paulus bly in aanhouding in Sesarea en hy sal self binnekort uit Jerusalem na Sesarea vertrek. Dit beteken hy het nie tyd om Paulus die 100 km te laat haal en hulle saak dan in Jerusalem te verhoor nie.

25:5 ‘Maar, laat die belangrike persone onder julle saam met my na Sesarea gaan as daar iets in die man is wat onvanpas is (átopos of: wat nie gedoen behoort te word nie), laat hulle hom aankla.’ So sal hulle sy tyd spaar. Festus nooi hulle dus ook om ’n nuwe aanklag teen Paulus te bring as hulle sou dink dat hy iets verkeerds gedoen het, en hy verwys glad nie na hulle vorige klag voor Feliks nie. Hy kom nie Feliks se sake wat hy (na twee jaar) nog nie afgehandel het nie, klaarmaak nie. Elke saak moet nuut voor hom gebring word, en hy sal besluit of dit ’n wettige klag is wat die Jode aan hom gaan voorlê, daarom die vae verwysing na ‘iets wat onvanpas is.’

Paulus beroep hom op die keiser (Hand 25:6-12)

25:6 Festus het nog ’n paar dae in Jerusalem vertoef, waarskynlik by die afdeling Romeinse soldate wat in die burg Antonia in Jerusalem gestasioneer was (vgl. Hand 21:34 vir hulle kwartiere). Daarna is hy terug Sesarea toe. Sonder uitstel het hy die dag na sy aankoms in Sesarea op die regbank gaan sit. Die bêma was ’n opgeboude platform op die stadsplein naby die raadsaal vanwaar die regeringsaankondigings gedoen is en regsuitsprake voor die publiek gelewer is. Vgl. Hand 18:17;  Joh 19:13 waar Pilatus Jesus na buite laat bring het en voor die Joodse volk sy uitspraak aangekondig het en voor die volk geswig het. Paulus word na die regbank laat haal.

25:7 Die Jode wat van Jerusalem af gekom het, het rondom Paulus gaan staan as teken dat hy nie dié keer gaan loskom nie. Hulle het hom van alle kante van baie en ernstige misdrywe beskuldig. Lukas herhaal nie die klagtes wat die leser alreeds gelees het nie (24:5-6), maar skep die indruk dat hulle nog klagtes daarby gevoeg het. Soos in die vorige verhoor voor Feliks kon hulle nie een van hulle klagtes bewys nie. Voor Feliks het hulle gesê Paulus moet self die bewyse lewer waarvan hulle hom beskuldig (24:8). So kon die Sanhedrin ook geen bewyse teen Jesus vind nie, en moes Hy self die bewys lewer van wat hulle as godslastering beskou het (Mark 14:55-64).

25:8 Teen hulle valse klagtes het Paulus homself soos volg verweer: ‘nie teen die wet van die Jode (21:21), of teen die tempel (21:28), of teen die keiser het ek iets verkeerds gedoen nie’ (waarskynlik verwys die derde saak na die Jode in Thessalonika se klag dat Paulus-hulle die hele wêreld in opstand bring en in stryd met die keiser se opdragte verkondig dat daar ’n ander koning is, naamlik Jesus (Hand 17:6-7). Waarskynlik was dit hulle drie klagtes teen Paulus. Die eerste twee klagtes het die Jode ook teen Stefanus gehou (Hand 6:13-14). Van die twee godsdienstige sake het die goewerneur nie kennis of eintlik belangstelling nie, en vra dan ook in vers 9 vir Paulus of hy voor hom (Festus) daaroor in Jerusalem verhoor wil word. Die derde saak raak die Romeinse keiser se opdragte, wat daarom by die goewerneur tuishoort, en waaroor die godsdiensleiers as onderdane van die Romeinse Ryk hom wel by die goewerneur kan aankla. Dit skep egter vir Paulus die geleentheid om na Rome te gaan, soos hy hom voorgeneem het (19:21) en soos die Here in die nag aan hom opgedra het (23:11).

25:9 Aangesien Paulus aangekla word van ’n misdaad wat hy in Jerusalem sou gepleeg het, was dit ’n gegewe dat Festus sou voorstel dat die verhoor daar sal plaasvind. Dat die verhoor voor hom as regter sou wees word in sy vraag aan Paulus beklemtoon deur die plasing daarvan aan die einde van die Griekse sin. Die guns (cháris) wat hulle van hom gevra het toe hy in Jerusalem was (25:3) word nou aan Paulus as Romeinse burger as ’n vraag gestel of hy daartoe sal instem dat Festus hom in Jerusalem gaan verhoor. Lukas interpreteer die guns as Festus se poging om die Jode se goedgesindheid te wen (katatíthemai). Festus self sê dit was omdat hy nie raad geweet het (aporéō) met die ondersoek na hierdie sake nie (24:20).

25:10 Paulus verklaar: ‘Ek bly staan (hestōs) voor die regbank van die keiser, waar ek verhoor moet word’ – die perfektum deelwoord hestōs dui aan dat Paulus as Romeinse burger reeds voor die regbank van die keiser, verteenwoordig deur sy goewerneur, staan en daar bly staan. Vir die Romeinse hof gaan dit om oortredings van die Romeinse wet. ‘Aan die Jode het ek niks verkeerds gedoen nie’ – dit het geen sin om, ter wille van die Jode, my in Jerusalem te gaan verhoor nie. Daarby is Festus waarskynlik bewus van die komplot om Paulus te vermoor voor hy in Jerusalem verhoor sal word nadat Lysias hom daaroor sou ingelig het (vgl. Hand 23:19-22); ‘soos u baie goed (kállion vergrotende trap) weet’ – naamlik dat ek niks verkeerds aan die Jode gedoen het nie. Daarmee bevraagteken Paulus Festus se motief om hom by die Jode te wil verhoor, terwyl hy baie goed weet dat hy niks teen die Jode gedoen het nie. Die opmerking aan die einde van die vers, soos u baie goed weet, dra eintlik die klem in die hele sin. Dit wys dat Paulus weet dat Festus, met hierdie versoek aan hom, eintlik die guns van die Jode soek. Dit is ook die skerpste oordeel oor ’n Romeinse beampte in die hele boek Handelinge.

25:11 Paulus en Festus weet dat die Jode Paulus wil dood hê. Daarom sê Paulus dat hy nie probeer om die dood te vermy as hy werklik iets gedoen het wat die dood verdien nie. Aangesien hy oortuig is van die opstanding uit die dood, hou die dood nie vir hom ’n verskrikking in nie (vgl. sy uitspraak in 1 Kor 15:20,22 ‘omdat Christus uit die dood opgewek is… sal almal in Christus lewend gemaak word;’ 1 Kor 15:54 ‘die dood is verslind in die oorwinning,’ is Paulus se aanhaling uit Jesaja 25:8 ‘die Here God sal die dood vir ewig vernietig’ ). Maar as daar in die Jode se aanklag teen Paulus niks steek nie, kan niemand, ook nie Festus nie, hom aan hulle oorgee nie – want dit is wat Festus sal doen as hy aan die Jode se versoek toegee om Paulus vir ’n verhoor voor hom na Jerusalem toe stuur, waar die samesweerders reg lê om Paulus te vermoor voor enige verhoor gaan plaasvind. Pauls besef Festus is besig om hom oor te gee aan die Jode. Vir Paulus gaan dit nie om sy lewe nie maar om die wet en die reg. Aangesien Festus nou besig is om die reg en die wet te verdraai sê Paulus: ‘Ek appelleer (epikaléomai om jou wetlike reg uit te oefen om jou saak deur ’n hoër gesag te laat besleg) na die keiser!’

25:12 Festus gaan eers na die raadskamer om met sy raadgewers oor die appél samesprekings te hou, waarskynlik oor die meriete van die saak en die wetlike aspekte daarvan. Daarna kom hy uit die raadsaal, gaan sit op die regbank (bêma vgl. 25:6) op die plein en lewer sy uitspraak: ‘Na die keiser het jy geappelleer, na die keiser sal jy gaan.’ Dit was in September 58 n.C. toe Nero keiser was.

Nero het op ouderdom 17 keiser van Rome geword en van 54-68 n.C. regeer. Die eerste vyf jaar van sy bewind was beroemd vir uitstekende regering omdat die jong tier in toom gehou is deur sy twee raadgewers, die Spaanse filosoof, redenaar, digter, wetenskaplike Lucius Annaeus Seneca, en Afranius Burrus, die politieke leier en soldaat van Provence, ’n man van onkreukbare karakter. Burrus sterf in 62 n.C. en Seneca was toe gedwing om af te tree. Paulus was vir ’n volle twee jaar in sy gehuurde huis in Rome van 59-61 n.C. met ’n soldaat wat hom bewaak het (Hand 28:16,30). 

Skrywer:  Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...