Ek cope nie meer nie: Arme Moaner – dis ek – Jan van der Watt
Die lewe behandel hom stief
Pa’s se sukses is dikwels die struikelblok vir hulle kinders, maar Arme Moaner sal vir jou sê dat sy kinders niks het om oor te val nie. Hy voel maar eintlik hulpeloos en hopeloos. Niks in die lewe loop vir hom reg nie en dit laat hom nog di-per in die gat van terneergedruktheid beland.
In sy selfgesprek vertel hy homself gedurig dat hy maar net nie goed genoeg is nie. Hy voel dat daar iets inherents verkeerd is met hom of die wêreld om hom. Hy is soos ’n valskermspringer wat nes hy teen hoë spoed moet land, lees: “Bly van die gras af.” Sy dinge loop nooit reg nie; daar’s altyd moeilikheid, of so beleef hy dit in alle geval. Die lewe is te swaar vir hom en hy kom nie regtig vooruit nie. Dit laat hom net meer en meer negatief oor homself voel.
As jy vir Arme Moaner vra waarom hy treurig lyk, sal hy vir jou sê dít is juis omdat hy so treurig lyk. Daarom voel hy ook gedurig dat daar onoorbrugbare probleme tussen hom en sy drome lê. Hy wil dit nie eers aanpak nie, want volgens hom gaan dit buitendien nie werk nie. Hy sal vir jou sê dat hy sy hele lewe onseker gevoel het en nou is hy self nie meer so seker daarvan nie.
Die gevolg is dat Arme Moaner die hele tyd kla (dis waar sy naam vandaan kom) en heeltyd onvergenoegd is oor dinge soos hulle nou is. Hy skinder ook graag, want slegte nuus oor ander bevestig sy selfgesprek dat die ou wêreld nou maar net nie die plek is waar geluk gevind kan word nie. Geen wonder dat depressie gewoonlik Arme Moaner se voorland is nie. Sy selfbeeld sleep op die grond.
Jou pogings om vir Arme Moaner te vertel dat alles nie so sleg is nie en vir hom raad te probeer gee, val op dowe ore. Die raad wat jy probeer gee, pas net nie in sy negatiewe en pessimistiese selfgesprek in nie. Hy sal vir jou sê: “Ja, ou Koos, maar … ” waarmee hy eintlik vir jou sê jy verstaan nie so mooi nie. Om met so iemand saam te leef is ook nie maklik nie, want hy is soos ’n kar wat in die modder vassit. As jy saam met hom is, sit jy ook daar vas, tensy jy uitspring en stoot. Om altyd net te stoot is op die lange duur ook nie lekker nie en is ook nie die oplossing nie. Nee, die oplossing is dat daardie kar nie in die modder land nie. Arme Moaner moet aan sy selfgesprek en selfbeeld begin werk. ’n Mens kan dit skematies so voorstel:
Iets gebeur
en al is dit
hoe goed.
Jy voel hopeloos
Hier moet Arme Moaner verander!
Soos in ander gevalle van negatiewe selfgesprek waarmee ons nou al te doen gekry het, moet Arme Moaner ook sy bes doen om sy negatiewe idees met positiewe idees te vervang. Dit is nie so maklik nie en kan lank vat, maar die resultate sal oor en oor die moeite werd wees. Om dit te kan doen moet Arme Moaner hulp inroep van die mense wat die naaste aan hom is en vra dat hulle hom sal help om meer positief te dink. Aangesien Arme Moaner dikwels in ’n situasie grootgeword het waar sy ouers, maats of juffrouens by die skool hom laat verstaan het dat hy nie goed genoeg is nie, moet ’n mens hom help om in homself te glo.
Arme Moaner moet mooi na homself kyk en raak sien wie hy werklik is en dat ’n oorvloed van prestasie en sukses nie noodwendig van iemand ’n goeie mens maak nie. Dit is veral waar van Christene. Ons waarde lê nie in ons eie prestasies nie, maar in die genade en liefde waarin God ons toegevou het. Hoe kan ons sê dat iets wat vir God so waardevol is, eintlik nie regtig waardevol is nie?
Sit die blombolle betyds in
Arme Moaner moet dus gehelp word om positief te begin dínk, want dit sal maak dat hy positief gaan begin dóén. Die sukses wat hy smaak, behoort vir hom ’n belangrike les te wees, naamlik dat die lewe darem nie so sleg is nie, en dat sy drome darem nie so onbereikbaar is nie. Die Arme Moaners onder ons sal sê: “Nou is die tyd van die jaar dat die blombolle blom wat ons nie kans gesien het om verlede jaar te plant nie.” Arme Moaner moet leer om nie te kla en te katsenjammer oor die lewe en dinge wat nie gebeur nie, maar om die blombolle te plant – en nadat hy dit geplant het, moet hy al begin droom oor die sukses daarvan.
Skrywer: Prof Jan van der Watt