Ek cope nie meer nie: Fokus reg! Fokus positief – Jan van der Watt
Die fout om te dink een swaeltjie maak ’n somer
Dik boeke is al geskryf oor oorveralgemening. Dit gaan daaroor dat een slegte ervaring verhef word as die enigste en belangrikste ervaring van iets. Byvoorbeeld: ons hou lekker vakansie. Skielik gebeur daar iets (net een iets!) wat ons die duiwel in maak. Nou is die hele vakansie sommer sleg. Ons ruk die hele gebeurtenis uit verband uit.
So werk dit met verhoudings ook. Ek kan my lewe lank vriende met iemand wees en dan raak ons een maal haaks en dan is die hele vriendskap sommer daarmee heen.
Oppas dat enkele gebeure jou hele selfgesprek beheers. As jy negatief voel oor iets, probeer dit in perspektief stel. Vra jou af of dit altyd so was; of jy nie dalk oorreageer nie; of daar nie dalk goeie redes is waarom jy die negatiewe ding nie hoef te glo nie. Miskien is daar positiewe dinge wat wys dat die negatiewe eintlik nie regtig so belangrik is nie.
Onthou: één slegte ervaring beteken nie dat dit altyd so gaan wees of dat alles so is nie.
Ek probeer met my hart dink
Ons is nogal soms geneig om met ons hart in plaas van met ons verstand te argumenteer. Jy voel só oor iets en daarom is dit só. Jy voel negatief en daarom is die lewe sommer negatief. Jy voel hopeloos en daarom dink jy ook sommer almal sien jou as hopeloos. As jy met jou hart dink, dink jy nie eintlik nie, maar voel net. Dan kan jy nie na logiese argumente luister nie en dit kan gevaarlik wees. Ons weet mos almal hoe ons gevoelens maar wissel.
Toets maar jouself; dis hoe die lewe loop: as jy die dag nie goed voel nie, is die dag ook sommer donkerder as ander dae. As jy voel iemand hou nie van jou nie, dan lyk alles wat hy doen vir jou soos bewyse dat hy nie van jou hou nie.
Dit is waar dat party van ons meer emosioneel as ander is, maar ons moet oppas dat ons emosies nie ons logiese vermoëns totaal verduister nie.
Elke muggie word ’n aasvoël
Sensasie is lekker; koerante leef daarvan en elkeen van ons ook maar op ons eie manier. Nou bestaan die geneigdheid om die kleinste ou dingetjie aan te gryp en dit tot die grootste probleem op te blaas. ’n Mens is mos dikwels geneig om die negatiewe sy van ’n saak te sien en altyd die slegste te verwag. So kan jy jouself so bang praat dat jy omtrent nie jou kop by die huis wil uitsteek nie.
Oppas vir katastrofering, met ander woorde om dinge heeltemal uit verband te ruk en van elke muggie ’n aasvoël en van elke molshoop ’n berg te maak. Dit gaan nie alleen maak dat jy verkeerd reageer nie, maar ook dat jy hierdie wêreld nooit regtig kan geniet vir wat dit is nie. Probeer om dinge te sien vir wat hulle is. Die maklikste manier om dit te doen is om so ’n bietjie oopoog deur die wêreld te gaan. Kyk hoe ander daaroor dink (nie net een nie) en vergelyk dan waar jy staan. Probeer ’n goeie gemiddeld handhaaf.
Oppas vir ’n visserman-mentaliteit
Visvang doen snaakse dinge aan ’n mens. Jy het eintlik altyd beter gedoen as wat die visse in jou vismandjie sê. Die grotes het almal weggekom. ’n Mens moet nie toelaat dat jy jouself in ’n posisie plaas waar jy nooit eintlik regtig voel dat jy jou doel bereik het nie. Stel vir jouself realistiese doelwitte. Moenie groter visse probeer vang as wat daar in jou lewensdammetjie is nie. As ’n mens vir jouself verkeerde doelwitte stel of doelwitte nastreef wat jy nie eintlik regtig wil bereik nie, gaan jy nie die doelwitte bereik wat jy regtig graag wil nie.
Wees eerlik met jouself. Moenie vir ander leef nie, maar leef vir jouself op so ’n manier dat jy vir ander die meeste beteken deur net jouself te wees. Jy is dit aan jouself verskuldig om nie heeltyd te voel dat wat jy regtig wou wees eintlik (soos die groot vis) weggekom het nie. As dit is hoe jy voel, het jy net jouself te blameer.
Jy is kleurblind
’n Persoon wat kleurblind is, sien alles net in swart of wit. So sien party mense die lewe. ’n Persoon is óf sleg óf goed; iets is óf lekker óf sleg; jy is óf die voorsitter óf jy neem nie deel nie. Alles is vir hulle óf swart óf wit. In hulle selfgesprek is daar dus net een van twee hokkies waarin hulle alles gooi.
Nou weet ons dat die lewe nie so is nie. Die Oostenrykers het ’n mooi spreuk met ’n interessante teëspraak wat eintlik die aard van die lewe beskryf. Hulle sê: “Die situasie is hopeloos, maar nie ernstig nie.” Daarmee sê hulle dat die ou lewe eintlik nie net swart of wit is nie, maar altyd ’n mooi gemengde grys. Dit is ’n mengsel van optimisme en pessimisme; van hoop en vertwyfeling; van opgewondenheid en teleurstelling; van sonskyn en skadu. Elke persoon het iets van die son wat in hom skyn, maar ook die skadu wat oor hom val. Elke situasie wat borrel van hoop dreig ook met mislukking.
Daarom moet ’n mens jouself die kuns aanleer om die lewe in sy kleurvolheid te ervaar en te beoordeel. Moenie in jou selfgesprek jou oordele te fel maak nie. Dinge is nie sommer maar net swart of wit nie. Neem maar armoede. Selfs dit kan verskillende kante hê. Die beste ding van armoede is dat dit net beter kan gaan; boonop vat dit nie veel om die situasie te verbeter nie, of anders gestel, om arm te wees is goedkoop.
In die lewe met sy geskakeerdheid is jy jou eie beoordelaar. Maak die regte keuses in jou oordeel van mense en dinge. Niemand is net goed of net sleg nie. Moet dus nie dink dit sal so wees nie en moet dit ook nie so maak nie.
Jy en net jy is die kampioen
’n Ander slaggat is om jou selfgesprek so vol van jouself te maak dat daar nie plek vir iemand anders is nie. Dit gaan ook die oordele wat jy moet maak lelik skeef trek. As jy nie die be-lange en rol van ander in jou selfgesprekke erken nie, moet jy nie verbaas wees as jy uiteindelik agterkom dat jy ook baie al-leen gaan voel op hierdie wêreld nie.
Wees realisties en dink gebalanseerd.
Skrywer: Prof Jan van der Watt