Geloofsvrae: Die betekenis van die Opstanding
Geloofsvrae: Die betekenis van die Opstanding – Adrio König
Die betekenis van die opstanding
Ons kry in die NT interessante verwysings om ons te help. Ons lees dat die Sadduseërs op ‘n stadium baie kwaad was omdat die apostels `verkondig het dat die opstanding uit die dood deur Jesus se opstanding ‘n werklikheid geword het’ (Hand 4:2). Dit lyk op die oog af na ‘n verwarrende uitspraak wat nie mooi onderskei tussen Jesus se opstanding (wat tog lankal plaasgevind het) en die algemene opstanding van die dooies wat by sy wederkoms sal plaasvind nie. Dit is twee gebeurtenisse: sy eie opstanding, en die algemene opstanding by sy koms.
Maar vir die apostels was hierdie twee gebeurtenisse direk aan mekaar verbind. Hulle het verkondig dat hierdie algemene opstanding van die dooies alreeds deur Jesus se opstanding ‘n werklikheid geword het, d.w.s. begin het. Beteken dit dat Jesus se opstanding die begin van die algemene opstanding is? Dit kan tog nie. Jesus is eeue gelede al opgewek, en die algemene opstanding het nou nog nie plaasgevind nie. Wat het die apostels bedoel?
Hulle het die geloof van ‘n deel van die laat-Jodendom gedeel dat daar aan die einde van die wêreld ‘n (dit beteken net een) algemene opstanding sal wees wanneer God die mense sal oordeel en die aarde sal nuut maak. Die Fariseërs was bekend vir hierdie oortuiging. Dit was een van die dinge wat hulle van die Sadduseërs geskei het. Die Sadduseërs het nie aan ‘n opstanding geglo nie omdat hulle net die eerste vyf boeke van die Bybel as gesaghebbend beskou het.
Waar kom hierdie laat-Joodse oortuiging dan vandaan? Dit is deel van die ingrypende ontwikkeling wat ons die apokaliptiek noem en wat laat in die tyd van die OT begin het, en eintlik eers ná die OT tot volle wasdom gekom het. Dit handel oor die wyse waarop die geskiedenis tot ‘n einde sal kom en die aarde nuutgemaak sal word. Jesus en die vroeë Christene het dit ook aanvaar.
‘n Onafskeidbare deel van hierdie voorstelling van die einde is die opstanding. Ons kry nie so ‘n gedagte vroeg in die OT nie, trouens ons kry dit net een keer duidelik en onbetwisbaar, en dit is baie laat, en wel in die apokaliptiese geskrif Daniël: `Baie van die wat ontslaap het, sal uit die graf opstaan, party tot die ewige lewe en party tot ewige skande en veragting’ (12:2). Dit word ‘n prominente verwagting onder baie Joodse groepe. As Jesus na Lasarus se dood met Marta praat, is ‘n vanselfsprekende deel van haar verwagting oor Lasarus: `Ek weet hy sal met die opstanding op die laaste dag uit die dood opstaan’ Joh 11:24). Dit beteken dat daar een algemene opstanding aan die einde sal wees, ‘n oortuiging waarby Jesus dikwels aansluit (Mark 12:18ev).
As ons nou terugdink aan die rede waarom die Sadduseërs vir die apostels kwaad was, kom dit in ‘n nuwe lig te staan: `omdat die apostels … verkondig het dat die opstanding uit die dood deur Jesus se opstanding ‘n werklikheid geword het’ (Hand 4:2). Wat ons hier het, is die getuienis dat die apostels regtig verstaan het wat Jesus se opstanding beteken: nie dat Hy ‘n `private’ opstanding gehad het en dat die `eintlike’ opstanding nog in die toekoms gelê het nie, maar dat die eindopstanding met sy opstanding begin het.
As ‘n mens dit begryp, word dit dadelik duidelik dat die vroeë Christene nie maar net oorentoesiasties was om Jesus se wederkoms spoedig te verwag nie. Dit was die logiese gevolgtrekking uit die opstanding van Jesus. Met sy opstanding het die eindopstanding reeds begin. Dit kon dus enige oomblik voltooi word deurdat die ander dooies ook opstaan. Omdat dit by sy wederkoms sal gebeur, moes sy wederkoms op hande wees, en daarom het hulle Hom enige oomblik terug verwag. Oor die vraag hoe ons dit moet verstaan dat die opstanding na 2000 jaar nog nie voltooi is nie, en hoe ons vandag daaroor moet dink.
Een ander moontlike misverstand moet nog aandag kry. Wat dan van Lasarus en die weduwee van Nain se seun, en die dogtertjie van Jaïrus (Joh 11; Luk 7:11ev; 8:40ev)? Was hulle opstanding dan nie ook die begin van die algemene eindopstanding nie? Nee, want hulle het nie `opgestaan’ in die tegniese sin van die woord nie, hulle het net weer lewendig geword – al bring vertalings nie altyd hierdie belangrike verskil duidelik na vore nie (soos die opskrif van die NAV by Joh 11:32). Daar is ‘n beslissende verskil tussen iemand wat weer lewendig word en Jesus wat opgestaan het. Iemand wat weer lewendig word, staar nog altyd die dood in die gesig. So ‘n persoon moet nog weer sterf. Maar Jesus het deur die dood deurgegaan, Hy het die dood oorwin (Rom 6:9).
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.
Skrywer: Prof Adrio König