Ek cope nie meer nie: ’n Gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees – Jan van der Watt

image_pdfimage_print

In die vorige hoofstukke het ons gesien dat stres nie ’n enkele oorsaak het nie. Dit is soos ’n klomp stroompies wat saam- kom en uiteindelik ’n groot rivier vorm wat jou wil wegspoel. Jou situasie, jou gemoedstoestand, jou selfgesprek, jou fiksheid, jou gewig, jou … jou … speel alles ’n rol daarin of jy regtig gelukkig is en cope of nie. ’n Geheim vir ’n gelukkige lewe waarin jy voel dat jy cope is dus ’n gesonde lewenspatroon waarin jy na beide liggaam en gees kyk. In hierdie hoofstuk gaan die fisieke fasette veral aandag kry.

Sorg goed vir jou liggaam

Eet reg en voel reg

“’n Gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees” of “Ek is wat ek eet,” sê die mense mos. Daar is ’n direkte verband tussen die kos wat ons eet en ons gesondheid. Kos en vitamines kan goed of sleg wees. Hoë cholesterol is nie jou hart en are se vrien­d nie; dit kan ’n vroeë hartaanval gee. Aan die ander kant is daar weer kosse wat jou juis help om die lewe beter in die oë te kyk. Eet gesond en voel gesond.

Wat moet ek dan eet en wat moet ek maar liewer los?

  • Pas op vir kafeïne. Kafeïne is ’n stimulant wat in koffie, koladrankies, kakao en tee voorkom. Beperk dit soveel as moont­lik. As jy medikasie gebruik, maak seker of dit nie ook kafeïne bevat nie. Kafeïne breek jou weerstand teen spanning en angs af. Ons het reeds gesien dat te veel kafeïne gevaarlik is vir ons senuweesisteem as dit by spanning en stres kom. As ons te veel daarvan inneem, vererger dit net ons situasie. Ver­vang dit met kafeïnvrye koffie, rooibostee, melk of koeldrank. Beproef gerus al die lekker kruie- of vrugteteesoorte wat nou in die winkels beskikbaar is. Net een koppie boeretroos ’n dag (verkieslik kafeïnvry) is al genoeg. Meer as dit kan jou al begin affekteer.
  • Wees ook op jou hoede vir te veel sout. Oormatige sout­in­name moet beperk word. Hoë bloeddruk en te veel sout hou verband met mekaar. Moenie olie op die vuur gooi nie; of moet ons liewer sê, moenie te veel sout op die kos gooi nie? Probeer lie­wer sover moontlik vars groente en vrugte, asook lekker volkoringkosse eet in plaas van gepreserveerde en ingemaakte kosse.
  • Pas op vir te veel suiker. Mense met lae bloedsuiker moet goed op hulle dieet let. Hulle moet verkieslik klein maaltye eet en ook versnaperings tussen maaltye. Kos wat suiker be­vat, moet uitgeskakel word. Dit sluit konfyt, versiersuiker en suiker in. Dit is vir hierdie mense baie beter om stysel te eet wat stadig deur die liggaam verteer en geabsorbeer word. Dit voor­­kom dat die bloedsuiker te veel rondspring. Versnap­erings met Provita en meer komplekse stylsels behoort vir hulle voor­delig te wees. Dit is ook belangrik om gereeld te eet. As ons sekere etes oorslaan of uitskakel, daal die bloed­suikervlak.
  • Vitamines kan jou help. Daar is wel medici wat sê dat vitamine-aanvulling nie nodig is nie. As jy gebalanseerd eet, kry jy mos al die vitamines in wat jy nodig het. Tog kan ’n vitamine B-tablet in die oggend help as tye rof of stresvol raak. Dit is nog beter as ’n mens ’n vitamine C-tablet ook kan drink. Dit is natuurlike middels. ’n Kalsium- en Magnesium-aan­vulling daarby mag ook ’n baie kalmerende invloed op jou uitoefen.
  • Wees versigtig vir ’n te kwaai dieet. As jy baie kwaai dieet, kan dit jou gemoedstoestand beïnvloed. Jy kan selfs simp­tome er­vaar wat vir jou voel asof jy gespanne is. Indien jy bui­t­en­dien gespanne of onder stres is, sal jy die stres baie swakker kan hanteer. Dit mag die gevoel vererger dat jy nie cope nie.
  • Eet reg. ’n Mens moet eet om te oorleef, maar dit is nie al waarom ’n mens eet nie. Maak ’n geleentheid daarvan. Eet drie maal per dag gebalanseerd. Dit is belangrik, anders word ’n mens op die verkeerde tye honger en begin tussenin eet. Eet stadig; kou elke happie ten minste veertien maal. ’n Deel van die vertering van die kos vind reeds in jou mond plaas. Om jou voorgeskrewe gewig te handhaaf laat jou gesonder voel. Om oorgewig te wees maak jou onbewustelik skaam vir jou voorkoms en help jou nie om te cope nie.
  • Pas op vir te veel medisyne. Sekere medisyne kan jou stres vererger. Asmamiddels en asmapompies kan die gevoel van angstigheid byvoorbeeld vererger. Verskeie medisyne in die pom­pies wat gebruik word om die longe oop te maak is nou ver­want aan adrenalien. Dit kan dus dieselfde effek hê as adre­nalien, naamlik stimulering van die hart en bloedvatsisteem en kan ook bewerigheid en angstigheid veroorsaak. Veral mense wat baie benoudheid ervaar, is geneig om die pompies oor­matig te gebruik wat simptome van angs kan veroorsaak.

Sekere malariamiddels wat as voorkoming gebruik word, beïnvloed ook ons gemoedstoestand en kan paniekaanvalle veroorsaak. Pasiënte wat die skildkliermedikasie Eltroxin gebruik, kan ook geneig wees tot angstigheid. Eltroxin bevat die skildklierhormoon tiroksien. Hierdie is ’n middel wat  die meta­bolisme versnel. Dit versterk ook die effek van adrenalien.

Baie hoes- en verkouemiddels bevat ook stimulante wat verwant is aan adrenalien. Dit word gebruik om byvoorbeeld ’n toe neus oop te maak. Uit die aard van die saak kan hulle mens ook angstig maak, veral in sekere mense wat oormatig gevoelig is daarvoor. Pas op vir sekere eetlusdempers wat die se­nu­weesisteem stimuleer en so ons gemoed kan beïnvloed.

Dit is dus belangrik dat indien jy angstig begin voel jy ook ge­rus kan kyk na die medisyne wat jy drink. Dalk lê ’n deel van die probleem daar.

Oefen gereeld

Oefening is van groot waarde omdat ’n fikse liggaam jou nie alleen beter laat voel nie, maar ook met jou konsentrasie, lewenslus en selfbeeld help. Jou bloeddruk en pols verlaag en jou bloedsirkulasie verbeter. Jy voel beter en daardie gevoel van moegheid en energieloosheid wat ’n mens soms die hele dag lank teister, sal ook stelselmatig verdwyn. ’n Mens sal  ook mak­liker kan ontspan. Omdat jy beter kan slaap, sal jy beter uitrus. Dit sal jou die energie en lus gee om die pro­ble-me in die lewe te hanteer en makliker te cope.

Die groot struikelblok is egter ons selfdissipline. Dit is nie altyd so maklik om te gaan oefen nie. Daarom moet ’n mens maar ’n plan maak. Kry vir jou iemand wat saam met jou kan gaan oefen. As jy nie lus is nie, is jou maat dalk lus. So help jul­le mekaar. ’n Vaste afspraak met iemand anders is een van die beste maniere om aan die oefen te bly.

Groepsoefeninge of spansport help ook, want jy doen dit nie op jou eie nie. Dit is amper of die ander se teenwoordigheid jou krag gee en motiveer. As jy by ’n goeie gym aansluit, help die goeie apparaat jou ook. As jy swoeg op ’n masjien wil jy nie hoor hoe dit kraak of die hele tyd op ’n skewe trap trap nie. Jy wil ook hê dat al die metertjies wat jou hartklop meet en jou vertel hoe ywerig jy geoefen het, reg moet wees. As al­les vlot werk, motiveer dit jou al klaar.

’n Mens kan natuurlik op verskillende maniere oefen. ’n Huisvrou kry dikwels sommer genoeg oefening deur die besem deur die huis te stoot. As dit nie genoeg is nie, is ’n stappie om die blok net die regte ding om ’n mens te laat ontspan en jou bloed ’n bietjie vinniger te laat loop. Gaan stap saam met jou vrien­de of vriendinne gedurende etenstyd, veral as jy werk doen waar jy buitendien die hele dag sit. Klim trappe as jy kan. Dan is daar ander lekker dinge soos stap, fietsry, draf of swem. Jy hoef nie altyd aan kompetisies deel te neem of by ’n klub aan te sluit nie. Jy kan dit sommer net vir die lekker doen. Gholf of tennis is ideaal daarvoor.

Indien jy ’n oefenprogram aanpak, moet jy gemotiveerd wees. Oefen ten minste drie keer ’n week vir ’n halfuur. Jy sal sommer baie beter voel en meer kans sien vir die lewe.

Ontspan lekker

Dit is natuurlik vanselfsprekend dat ’n mens as deel van jou week se program én jou jaarprogram genoed tyd inruim om lek­ker te ontspan. ’n Mens het dit nodig. Dit is nie sommer son­der rede dat ’n mens se werk vir jou ’n sekere aantal dae per jaar verlof gee nie. Dit is omdat elkeen van ons dit nodig het. Dus moet jy dit gebruik om ’n gesonde, ontspanne mens te wees.

Kom ook ooreen met jou vrou of gesin om ten minste een ­­maal per week iets saam te doen wat julle lekker laat ont­span. Dit is lekker om iewers heen te gaan, byvoorbeeld om te gaan fliek of ’n opvoering te gaan kyk, of in die natuur te gaan ontspan as jy daarvan hou. Dit is net so lekker om by die huis te ontspan, byvoorbeeld voor die TV as daar iets op is waarvan almal hou. Sport op die TV speel hier nogal ’n groot rol. Maak ’n gebeurtenis daarvan: kry lekker eetgoedjies en sit saam en kyk na die wedstryd.

Moenie dat vroulief elke nou en dan met verwytende oë om die deur loer omdat die gras nog ’n bietjie lank is nie. Dit sal jou net meer gespanne maak en miskien nog ’n skuldige gewete ook gee. Laat sy saam kyk. Daarna help jy haar met die skottelgoed en sy help jou met die bossies terwyl jy die grassnyer stoot.

Werk dus doelgerig daaraan om dinge uit te skakel wat jou lewe ongelukkig maak of versuur. Hanteer opgehoopte spanning en stres. As jy begin voel dat dinge vir jou begin baie word en jy gespanne begin optree, is dit tyd om na jouself om te sien. Gaan ontspan, bederf jouself ’n bietjie deur in jou be­sige program tyd in te ruim om lekker te bad of te gaan oefen, of miskien sommer net ’n lang ent op ’n mooi plek te gaan stap. Jy weet mos wat is medisyne vir jou siel. Sorg dat daar genoeg “helder punte” in jou dag of week is waar jy kan “her-laai”. Dit is nie ’n luukse om so iets te doen nie, dit is nood­­saaklik. Op die manier het jy die kans om rustig te word en die negatiewe dinge uit jou lewe uit te skakel.

Onder sommige Christene is daar ook die gewoonte om seker tye van die dag af te sonder vir meditasie en “stilword”. Dit is tye waar jy heeltemal ontspan en aan niks besonders dink nie. Jy sit net stil en kry ’n bietjie perspektief op die dag en alles wat gebeur het. Dink rustig oor alles na. Die beste tyd daar­voor is ’n uur of wat voor jy gaan slaap. Dit sal jou sommer help om beter te slaap ook. (Daar is natuurlik spesifieke tegnieke vir ontspanningsmeditasie wat nie hier bespreek word nie. Tree met ’n sielkundige in verbinding om jou te help om daar-die tegnieke aan te leer indien jy belangstel.)

image_pdfimage_print