Ek cope nie meer nie: Angsversteurings – Jan van der Watt

image_pdfimage_print

Ons het tot dusver gepraat van mense wat voel hulle cope nie. Maar die saak kan ook baie ernstiger raak en kan die vorm van angsversteurings aanneem. Soos die woord “versteu­ring” sê, begin mense abnormale angs ervaar en sukkel om dit te hanteer. Hulle voel nie net dat hulle nie meer kan cope nie, maar stort in duie. Dit voel vir hulle of hulle wêreld om hulle ver­krummel en hulle stukkie vir stukkie saamvat.

Die oorsaak daarvan kan gedeeltelik by fisieke steurnisse ge­soek word (byvoorbeeld ’n chemiese wanbalans), en daarom kan dit voorkom sonder dat daar noodwendig ’n spesifieke rede voor is. Dit kan spontaan toeslaan en daardie persoon verin­ne­weer. Soms kan iemand vir weke met ’n intense gevoel van angstigheid sit en nie mooi weet waarom nie. Daarom is dit goed om daarvan te weet; ’n mens weet nooit wanneer so iets jou of jou familie dalk kan tref nie.

Angsversteuring is waarskynlik die algemeenste siel­kundige probleem waarmee dokters en sielkundiges te kampe het. Dit word as die nommer een sielkundige probleem onder vroue en nommer twee onder mans in Amerika gereken. Hierdie toestand hou verband met ons biologiese samestelling en oorerwing, met ander woorde, dit loop in families. Dit word vererger deur negatiewe lewenservarings en krisisse.

Die algemeenste vorms van die siektetoestande van angs­versteuring wat bespreek word, is:

  • paniekversteuring
  • algemene angsversteuring
  • fobie

      sosiale fobie

  • posttraumaties stresversteuring
  • obsessief-kompulsiewe versteuring

Paniekversteuring

Paniekversteuring is ’n algemene toestand waaronder omtrent 2% van die bevolking deurloop. Hierdie aanvalle pak die slagoffer spontaan, sonder ’n rede en kan herhaaldelik voor­kom. Eintlik is dit ons vlug-veg-reaksie wat sonder rede geaktiveer word en daarvoor sorg dat ons met dié abnormale, negatiewe gevoelens sit.

Ek kan byvoorbeeld voel dat ek sweef en dinge nie vir my werklik voel nie, of die gevoel kry dat ek besig is om beheer te verloor. Ek kan ook ’n eienaardige, onverklaarbare gevoel kry dat gevaar of onheil dreig, en iets slegs met my of my geliefdes gaan gebeur. Soms klem die vrees ’n mens so vas dat jy dink jy is besig om mal te word. Jou liggaam begin ook oppak: jou bors begin pyn, jy kry hartkloppings, voel lighoofdig en duiselig, raak naar en uitasem. Jy begin sommer vir niks bewe of sweet nie en voel ’n tinteling in jou hande en om jou mond. Vroue en jong volwassenes loop gewoonlik deur, maar ouer mense en kinders moenie dink dit kan hulle nie ook tref nie.

Die eerste aanvalle begin dikwels wanneer die persoon abnormale stres ervaar. Dit mag wees as jou weerstand laag is of jy jou oorwerk of as jy ’n groot verlies ervaar deur byvoor­beeld iemand aan die dood af te staan of as jy deur ’n egskeiding is. Ongelukke, ernstige siektes of operasies kan dit ook veroor­saak. Daar is sekere medisynes wat kan help om hierdie aan­valle te ontlok, byvoorbeeld medisyne vir asma, skild­klier, malaria, verkoue of medisyne wat kafeïne bevat. ’n Mens moet ook oppas vir sekere eetlusdempers.

Dit is belangrik om te onthou dat hierdie aanvalle dikwels in die nag voorkom. Jy skrik skielik wakker en voel of jy uit die bed wil spring van vrees en angs sonder ’n werklike rede.

Selfs as die aanval verby is, los dit jou nie heeltemal nie. Tussen die aanvalle ontwikkel ’n mens ’n vrees vir die aanvalle; jy raak dus eintlik bang vir jou eie bang. Jy vrees die situasie en plekke waar hierdie aanvalle aanvanklik begin het en probeer dit vermy.

Byvoorbeeld, sekere dinge by die werk kan jou bangmaak en daarom kry jy daardie dinge net nie gedoen nie. Dit hoop op en elke dag sê jy dat jy dit moet doen, maar jy kom nie daar­by uit nie. Of jy is miskien bang vir ’n ongeluk en daarom wil jy nie meer ry om te gaan inkopies doen of om op vakansie te gaan nie.

Mense met paniekversteurings raak ook soms bang om in ’n situasie te land waaruit hulle nie sou kon kom indien hulle ’n aanval sou kry nie. Hulle wil dus nie tussen mense wees nie. Hulle haat dit om in ’n tou te staan en wil nie van pu­blieke vervoer gebruik maak nie. Hulle soek heeltyd na ’n plek waar hulle veilig voel. Soms word depressie of drank hulle beste vriende. So ontwikkel daardie persoon ’n vorm van fobie. Ongelukkig bring dit mee dat so ’n persoon baie afhank­lik word van die mense wat die naaste aan hom is. Dit plaas na-tuurlik baie druk op die familie.

Gelukkig is paniekversteurings vandag ’n behandelbare toestand. Nege uit tien mense kan feitlik heeltemal gehelp word. Dit mag miskien ’n tydjie neem, so ses tot agt weke, maar uiteindelik is daar ’n groot kans dat hierdie aanvalle met sukses beheer sal kan word. Die twee bene van die behandeling is ’n vorm van sielkundige hulp saam met medikasie.

Psigoterapie of kognitiewe gedragsterapie. Laat ons vir ’n oomblik afwyk van die beskrywing van angsversteuring en kyk hoe die sielkundige behandeling van paniekaanvalle werk.

Die vorm van psigoterapie of sielkundige behandeling wat gebruik word in paniekaanvalle wil die persoon help om uit ’n ander hoek na sy of haar probleem te kyk. Mense wat paniek-aanvalle kry se probleem lê dikwels by die manier waarop hulle oor dinge dink en wat hulle hulleself oor dinge voorstel. Die aanval gebeur in ’n groot mate “in hulle kop”. (Onthou dat ’n deel van die probleem ook fisiek is en daarvoor help die medisyne.) Hulle besef baie keer nie eers dat dit is waar die probleem lê nie. Hulle sien dinge op ’n abnormale manier en hulle gedagtepatroon is versteur. Dit maak dat hulle so bang en angstig begin voel, want hulle glo wat hulle dink. Die sielkundige behandeling, of kognitiewe gedragsterapie, wil die persoon probeer help om anders te dink en te reageer op die dinge wat hom bangmaak en die paniek veroorsaak.

Paniekaanvalle kan byvoorbeeld kop uitsteek wanneer ’n persoon ’n borskaspyn ontwikkel en dan skielik voel dat hy besig is om ’n hartaanval te kry. Die duiseligheid mag hom miskien laat voel dat hy wil doodgaan. Met die behandeling word daar probeer om die gedagtekettings te breek sodat die pasiënt op ’n ander manier oor hierdie sensasies dink en dan nie paniekerig raak nie. So verander hy sy opinie oor dinge en word uiteindelik nie meer daaroor bang nie. Daar word ook probeer om die pasiënt se aandag op iets anders en meer positief te vestig. Ontspanningsoefeninge en asemhalings­oefen­inge asook die positiewe denke sal die persoon help om die pa­niek­aan­valle teen te werk as dit sou opduik.

’n Moontlike strategie:

  • Besef dat hierdie aanval maar net jou veg-vlug-reaksie is wat op een of ander manier buite beheer is. Hierdie reaksie word geaktiveer sonder dat dit nodig is. Jy is eintlik gelukkig, want jy hoef nie te veg of te vlug nie.
  • Dink daaraan dat die gevoelens wat oor jou kom, nie lewensgevaarlik is nie. Hulle sal weer verdwyn en sal jou nie skade aandoen nie.
  • Wanneer die gevoelens oor jou kom, moet jy dit nie probeer beveg of probeer wegvlug nie. Moet ook nie probeer om hulle weg te wens nie. Kyk hulle in die oë en sê vir hulle wat hulle regtig is: irrasionele en onrealistiese vrese.
  • Verban woorde soos: “Wat as dit gebeur?” of “Sê nou net!” uit jou gedagtes. Moenie negatief dink aan dinge wat mis­kien verkeerd kan loop of slegte dinge wat mag gebeur nie.
  • Dink aan ander dinge of doen byvoorbeeld iets eenvoudigs soos om vanaf honderd terugwaarts te tel.

Die sielkundige behandeling probeer om ons gedrag te verander. ’n Pasiënt word bewustelik aan sy probleem blootge-stel, sodat hy dan kan leer hoe om dit te hanteer.

Indien ’n persoon nie in ’n hysbak wil ry nie, word die per-soon geleidelik en gekontroleerd aan ’n hysbak blootgestel. Daar word vir die persoon gewys dat hy nie so bang hoef te wees vir ’n hysbak nie. Op die manier word die persoon se kop en gevoelens oor die hysbak “gedokter” en geswaai.

In ge­valle waar ’n persoon situasies vrees, word daar probeer om hom aan daardie situasies bloot te stel en so te help om die vrees te oorkom. Indien ’n aanval voorkom, word die persoon ook geleer om asemhalings­oefeninge te doen en om te ontspan deur bepaalde ont­span­nings­­oefeninge van die spiere te doen.

Medikasie

Daar is effektiewe medikasie vir paniekaanvalle. Hierdie medisyne verminder die intensiteit van die aanvalle en maak die aanvalle ook minder. Die vrees, wat die pasiënt tus­sen aan­valle ervaar, moet verminder word. Die pasiënt moet dik­wels die tablette vir ’n geruime tyd gebruik en indien die me­dikasie gestaak word, is daar ongelukkig ’n kans dat die aan­valle ook weer kan terugkom. Geneesmiddels wat gebruik kan word is byvorbeeld:

  • Selektiewe-serotonien-heropname-inhibitore(SSRI). Dit sluit in middels soos Paroxetine (Aropax), of Fluoxetine (Prozac). Daar word gewoonlik met ’n lae dosis begin en dan word die dosis geleidelik verhoog. Hierdie middels het gewoon­lik min newe-effekte. Hulle werk deur die konsentrasie van serotonien in die brein te verhoog.
  • Trisikliese antidepressante. ’n Middel wat algemeen gebruik word is Imipramine (Anafranil). Hierdie middels werk op die brein se biologiese funksies. Die vlak van noradrenalien word verhoog. Hierdie middels is baie veilig. Ongelukkig ver­oorsaak hulle dikwels newe-effekte soos ’n droë mond of hard­lywigheid en selfs gesigsteurnis. Daar word ook met klein do­serings begin. Dit neem ’n paar weke om heeltemal simp­toomvry te wees. Die behandeling moet gewoonlik vir ses tot twaalf maande geskied en indien dit gestaak word, moet die middel geleidelik afgeskaal word.
  • Benzodiasepines. Hierdie middels is baie effektief, maar het die potensiaal om gewoontevormend te wees. Dit sluit middels in soos Alprazolam (Xanor), Clonazepam (Rivotril), Lorazepam (Ativan). Behandeling met hierdie middels moet ook vir ses tot twaalf maande geneem word. Indien hulle gestaak word, kan die paniekaanvalle weer terugkeer. Stakings van die middel mag lei tot ontrekkingsimptome wat soms eienskappe het wat baie dieselfde is as die paniekversteuring, soos hartkloppings, bewerigheid en duiseligheid.

Algemene angsversteuring

Die kenmerk van mense met hierdie toestand is dat hulle sit en wag vir ’n ramp wat hulle dink hulle gaan tref. Hulle is aanhoudend en oormatig bekommerd en angstig sonder goeie rede. Daarom is hulle bekommernis totaal buite verhouding. Die bekommernis kan oor omtrent alles wees, soos oor hulle familie, geld, gesondheid, skool- of werks­pro­ble­me.

Hierdie mense kan glad nie hulle spanning beheer nie en dit kan herken word aan hulle fisieke toestand. Slaapprobleme teister hulle dikwels; hulle kan eenvoudig nie aan die slaap raak nie. Indien hulle wel aan die slaap raak, raak hulle in die nag wakker en bekommer hulle verder. Hulle het ook dikwels fisieke simptome van spiertrekkings, bewerigheid, gespanne spiere, irritasies, oormatige sweet, lighoofdigheid en hoof­py­n. Hulle moet dikwels toilet toe gaan om die blaas leeg te maak, al­hoewel daar net ’n bietjie urine gepasseer word. Verder is hul­le moeg en dikwels kortasem.

Die angs en bekommernisse is gewoonlik nie so erg dat hulle dinge vermy en hulle aan alles onttrek nie. Hulle is egter ongelukkige, gefrustreerde en geïrriteerde mense. Dikwels word hierdie angs vererger deur ’n vrees vir mislukking of verwerping, ’n vrees vir siekte en dood. Hierdie mense sukkel ook om stres te hanteer. Enige vorm van geringe stres maak die simptome baie erger. Hulle kan net nie cope nie. ’n Mens sou kon sê dat hulle nie die betekenis van die woord “ontspan” verstaan nie.

Die behandeling bestaan, soos in die vorige geval, weer uit ’n kombinasie van geneesmiddels en psigoterapie. Die siel­kundige behandeling is daarop gemik om hulle versteurde ge­dag­tepatrone te verbeter of heeltemal reg te stel. Hulle word gehelp en geleer om te ontspan deur middel van asemhaling­oefeninge en ontspanningsterapie. Die geneesmiddels wat ge­bruik word, sluit trisikliese antidepressante en die Benso­diase­pine in. Die geneesmiddels word elders volldedig be­spreek.

Fobies

’n Fobie is ’n tipe angsversteuring waar die betrokke per­soon ’n intense irrasionele vrees of angs vir ’n situasie of plek ont­wik­kel. Een uit tien mense het ’n vorm van fobie. Hulle weet dat die vrees onlogies is en dat hulle eintlik nie bang hoef te wees nie, maar sodra hulle weer in daardie situasie kom, kan hulle dit glad nie hanteer nie.

Die fobie begin dikwels in die tienerjare, maar kan ook eers in die volwasse jare begin. Daar is ’n baie dinge wat fobies kan veroorsaak, byvoorbeeld spinnekoppe, honde, hysbakke, vliegtuie, snelweë, hoogtes, tonnels of slan­ge.

Wat behandeling betref, kan ten minste 75% pasiënte redelik goed behandel word vir hierdie toestand. Die behan­deling is weer sielkundige behandeling. Die eerste doel­stelling is om die mense te help om die aanvalle te beheer. Hulle word geleer om te ontspan deur asemhalingstegnieke en pro­gres­siewe spier-spanningstegnieke. ’n Tweede deel van die be­handeling is om die mense te desensifiseer. Dit beteken dat daar probeer word om die mense se vrees te verwyder.

Hulle word geleidelik blootgestel aan dit waarvoor hulle bang is, aanvanklik deur dit in hulle gedagtes te visualiseer en te ervaar. Daarna word die blootstelling in die werklike lewe aangepak. Hierdie desensitasie moet egter in noue same­wer-king met professionele hulp aangepak word. Vader Tyd genees dikwels fobies in kleiner kinders. Ouers moet net nie die fobies oorbeklemtoon en die kind nog banger maak nie.

Sosiale angsversteuring

Mense met ’n sosiale fobie het ’n intense vrees om voor mense in sosiale situasies verneder te word of om voor ander mense “sleg” te lyk. Hierdie mense is bang om ’n gek van hulleself te maak voor ander.

Hulle weet dat hierdie gevoelens irrasioneel is en daar geen werklike gronde vir hulle vrese is nie. Nogtans kan hulle niks doen om dit te beheer nie en hulle probeer dikwels om situasies te vermy. Klein sosiale foute word as baie erg beskou en dit voel vir hulle of almal altyd net vir hulle kyk. Hulle is bang om in die openbaar en voor ander te praat en dit is of die woor­de soms net verdwyn. Hulle raak bang om saam met mense te wees. Daarom vermy hulle mense en byeenkomste.

Hierdie toestand beïnvloed hulle verhoudings, loopbaan en hulle werk. In groepe presteer hulle nie so goed nie. Hulle het min of geen vriende nie. Hulle sosialiseer dus nie normaal nie en geniet ook nie die lewe nie.

Daar is gelukkig vir hierdie mense ook hoop en effektiewe be­han­deling. Tagtig persent van hulle het ’n goeie kans om te verbeter met psigoterapie en geneesmiddels. Hierdie behan­deling is gemik daarop om hulle te help om die situasies wat die vrees en angs uitlok te hanteer en hulle te leer om      te ontspan.

Dit geskied deur hulle gedagtes te beheer en om ont­spanning­soefeninge te doen met behulp van sekere asem­halings­tegnieke of progressiewe spierontspanning. Genees­middels word ook gebruik. Die algemeenste geneesmiddels is die selek­tiewe serotonien-heropname-inhibitore, soos Paroxetine (Aropax) en, Fluoxetine (Prozac). Die trisikliese antidepressante soos , Imipramine (Anafranil) of Amitriptyline (Tryptanol) kan ook gebruik word om hierdie mense te help om te ontspan. Ander geneesmiddels wat gebruik word, is die beta­blokkers wat geneesmiddels is om die effek van adrenalien te neutraliseer, byvoorbeeld Meclo­zine (Aurorix).

image_pdfimage_print