Amos(5) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Teen Israel, die tienstamme (Amos 2:6-16)

Toe Salomo se baie vroue hom in sy ouderdom verlei het om ander gode te dien, het hy nie aan die HERE getrou gebly nie. Daarom het die HERE sy koningskap van hom afgeskeur en een stam vir sy seun laat oorbly (1 Kon 11:1-13). Die HERE het vir Jerobeam, ’n gesiene landsburger vir wie Salomo oor die dwangarbeid aangestel het, gesê: ‘Ek gaan tien stamme vir jou gee’ (1 Kon 11:26-28,35). Na Salomo se dood het die tien stamme vir Jerobeam in 931 v.C. hulle koning gemaak (1 Kon 12:20). Om die tien stamme te verhoed om vir die feeste na Jerusalem te gaan, het Jerobeam twee kalwerbeelde laat maak en hulle in Bet-El en Dan laat oprig as beelde van Israel se God wat hulle uit Egipte laat wegtrek het. Hy het ook heiligdomme op die hoogtes gebou, mense wat nie Leviete was nie as priesters aangestel, en op die vyftiende dag van die agtste maand ’n fees gehou soos die Huttefees, die groot oesfees van Juda in die sewende maand (1 Kon 12:26-32). Nadat die skare by Israel se jaarlikse fees by Bet-el hulle kon verlekker oor die HERE se straf oor al hulle omringende vyande wat Amos aangekondig het, bars die bom oor hulle koppe in hierdie laaste van die agt profesieë. In al agt gaan dit oor die mense se verwerping van die HERE se wil vir die mensdom wat Hy geskep het. Die agtste profesie is die eintlike boodskap wat Amos vir die feesvierende Israel bring. Hulle moes in die vorige profesieë reeds voorberei word vir die HERE, die altydteenwoordige ‘Ek is’ Jahweh, wat oor alle nasies regeer, se oordeel ook oor hulle.

2:6 Die inleidingsformule wat Israel se herhaalde opstand/rebellie pêsja‘ teen die HERE en sy woord aandui as die rede waarom die HERE besluit het om sy straf nie te kanselleer nie, is dieselfde as vir die vorige sewe profesieë. Die eerste aanklag lui: ‘hulle het die regverdige vir silwer verkoop, en behoeftiges vir ’n paar sandale…’ Anders as in die eerste ses profesieë word hier nie na oorlog of na die politieke leiers verwys nie, maar na die maatskaplike probleme in Israel wat die gevolg was van hulle verwerping van die HERE se aanwysings vir die lewe en hulle oorgawe aan die afgode. Die ander volke het mense van buurvolke in die oorlog gevang en as slawe verkoop. Israel het egter van hulle eie volksgenote as slawe verkoop, omdat hulle in skuld by ‘n ryk volksgenoot geraak het. Die regverdige verwys na iemand wat onskuldig is maar deur ’n regter skuldig verklaar is omdat die regter omkoopgeld van die klaer ontvang het, en die onskuldige dan skuldig verklaar het (Amos 5:7,10,12). Dit is teen die HERE se opdrag in Eks 23:6-8 (vgl. ook Salomo se gebed in 1 Kon 8:32; en die voorbeeld in 2 Kon 4:1). Silwer is destyds afgeweeg as betaalmiddel (vgl. Jes 46:6; Amos 8:6 letterlik silwer). Die rykes het die behoeftiges onderdruk. Die woord’êbjōn (arm en onderdruk) verwys na die behoeftiges se maatskaplike ellende. Vir ’n paar sandale wys na hulle onbenullige skuld. Rykes neem hulle kans waar om van ’n behoeftige ’n slaaf te maak vir die bietjie wat hy skuld (vgl. Amos 8:6; vgl. daarteenoor Abraham se verklaring aan die koning van Sodom in Gen 14:22-23). Amos is ’n advokaat vir die regte van die armes en behoeftiges, soos Spreuke 31:9 aanbeveel. Die HERE veroordeel gewetenlose geweld teen behoeftiges ter wille van koue kompetisie tussen die rykes oor wie ryker of magtiger as ’n ander is.

2:7a Die tweede oortreding van Israel wat die HERE nie sonder straf kan verbygaan nie is hulle verdrukking van die armes (dalim) en onderdruktes (‘enawim): ‘Die wat smag na die stof van die aarde op die kop van die hulpelose/geringe arme en wat die weg van die armes/vernederdes/onderdruktes ombuig’ (vir sj’f ‘smag na’ volg 2020 die LXX se patéō ‘hulle trap op’ vir die Hebreeuse sjwf) Die eerste strofe verwys na die brutale arrogantes wat nie rus voordat die armes in volkome ellende gedompel is nie deurdat hulle alle grond wil inpalm (soos Jesaja 5:8 dit later uitspel), tot die laaste stoffie van die armes; sodat die arme sy slaaf word of dat hy die arme as slaaf verkoop om met die geld nog grond te koop. Grond of stof op die kop was ook ’n teken van rou en droefheid (2 Sam 1:2; Job 2:12 soos Job se vriende wat oor sy toestand gerou het). Om daarna te smag om stof op die arme se kop te gooi is dan om daarna te strewe om hom in ellende te dompel. Om die weg van die armes om te buig is ’n verkorte uitdrukking om die gang van die reg te verdraai (Spr 17:23; Jes 10:2). ‘Weg’ is ’n sinoniem vir ‘regverdigheid.’ Om sy weg om te buig beteken om sy lewe te verander deur ’n onskuldige met vals getuies en omkopery by die regsuitsprake van die oudstes in die stadspoort skuldig te laat bevind (vgl. Amos 5:12). Daarmee word die vertroue in die regspleging heeltemal afgebreek, soos Amos 5:13 vertel wat in Israel gebeur en deur die Here verbied is in Eksodus 23:6-7 (vgl. Deutr 16:18-20).

2:7b

Die derde oortreding wat die HERE nie ongestraf laat bly nie is die skending van jongmeisies: ’n Man en sy pa gaan na dieselfde meisie om die Naam van my heiligheid te ontwy’ (LXX vervang ‘die naam van my heiligheid’ met ‘die naam van hulle God’) Hier is ’n spel met die Hebreeuse woorde: ontwy chillēl en chelālā ’n onteerde/verkragte meisie. Altwee is woorde van dieselfde stam chll wat uithol beteken. Deur die meisie te onteer, onteer hulle die Naam van die HERE. Dit gaan hier nie oor ’n prostituut zanah soos in Amos 7:17 nie. Die meisie is moontlik as gevolg van haar pa se bankrotskap as slavin aan die skuldeiser gegee deur haar pa of deur omgekoopte regters. Die skuldeiser en sy pa buit haar weerloosheid uit as hulle eiendom en misbruik haar vir die bevrediging van hulle onbeteuelde hartstog. Hulle maak van ’n mens ’n gebruiksartikel en ontneem haar die moontlikheid van ’n huwelik. In Levitikus 18:15; 20:12 word die soort gemeenskap verbied (vgl. ook Deutr 22:30; 27:20). Die minderbevoorregtes is nie slegs ekonomies en in die hof verdruk en veronreg nie, maar ook op morele gebied. Onreg teenoor ’n medemens verbreek jou verhouding met die HERE. Die mens wat met sy lewe die beeld van sy God moet vertoon (Gen 1:27) bring oneer op die Naam van die HERE aan wie hy behoort. Die Naam van die HERE is ’n omvattende term vir wie Hy is en doen, sy reputasie (soos bv. die goeie naam van ’n mens wat getuig van sy hele persoon en sy lewe). Gelowiges heilig die Naam van hulle Vader deur hulle optrede en lewenswyse (Matt 6:9)

2:8 Die vierde oortreding waaroor die HERE nie sy straf sal terugtrek nie: ‘Op klere wat as pand gevat is strek hulle hulle uit (gaan lê hulle) langs elke altaar en drink wyn van boetegeld in die huis van hulle gode’ (LXX: hulle bind vir hulle klere met koorde, maak vir hulle gordyne by die altaar en drink wyn, wat hulle deur afpersing verkry het, in die huis van hulle god.) Die toppunt van Israel se ontering van die HERE en van hulle toegeskroeide gewetes is dat hulle entoesiasties met hulle godsdiens voortgaan deur die tasbare bewyse van hulle onreg in hulle godsdiens te gebruik. Armes wat nie in staat was om hulle skuld te betaal nie, moes van hulle klere as pand gee totdat hulle die skuld afgewerk het. Die woord vir klere word ook gebruik vir bedekking. Dit beteken die armes moes daarsonder loop totdat hulle skuld betaal is. Die HERE het Israel verbied om ’n verpande kledingstuk na sononder nog te hou, veral omdat die armes net een bokleed gehad het wat ook as sy enigste bedekking vir die nag gebruik is (Eks 22:26-27). In Deuteronomium 24:17 sê die HERE uitdruklik: ‘Jy mag nie die klere van ’n weduwee as pand neem nie. Nou gebruik die rykes die verpande kledingstuk as ’n mat waarop hulle langs hulle altare lê. Of die lê ’n aanduiding is van eerbied dat hulle met die gesig op die grond lê in ootmoed voor die HERE, is nie juis waarskynlik nie, tensy dit net vir die skyn was. Toe die Israeliete egter by Sinai die HERE voor die goue kalf gedien het, het hulle wellustig te kere gegaan (Eks 32:3-6). Die gaan lê voor die altare kon ook die tipiese Kanaänitiese afgodediens se promiskue seksuele betekenis gehad het, wat vir die HERE ’n gruwel is (Eks 32:10). ‘Elke altaar’ verwys na ’n groot getal altare wat oral in Israel opgerig is, veral op hoogtes en onder groen bome (2 Kon 17:10; vgl. ook die gewyde pale’asjerah – wat sedert Jerobeam I se tyd oral opgerig is (1 Kon 14:15; 2 Kon 17:10) en deur die HERE gehaat word (Deutr 16:21-22). Die wyn van boetegeld is waarskynlik wyn wat as boete betaal is vir strawwe wat die regters opgelê het op kleinboere wat deur skuldeisers hof toe gesleep is. Nou word die wyn by die feestye in die tempels gedrink sogenaamd ter ere van die HERE of Baäl – die woord Baäl beteken eienaar. Dit is die god van die Fenisiërs wie se diens deur Isebel uit Sidon saamgebring is na Israel (1 Kon 16:31-33). Die woord baäl ‘here’ is ook vir die HERE gebruik. ’n Vrou het haar man ook as haar baäl, haar heer, aangespreek. ‘Die huis van hulle gode’ het ’n ironiese klank, so asof Amos sê verwysing na ‘hulle god(e)’ beteken dat die gode aan hulle behoort, en nie dat Israel aan die HERE behoort nie. In verse 6-8 is die eerste formulering van die klag van die HERE teen Israel. Alles gaan om die onderdrukking van die armes: vers 6 onskuldiges en behoeftiges word vir hulle skuld in slawerny verkoop; 7a armes word verdruk deur die regters om te koop; 7b jongmeisies word deur ’n man en sy pa onteer; 8 skuldeisers buit armes uit. Dit het alles plaasgevind ondanks ’n ‘bloeiende’ godsdienstige lewe.

Skrywer:  Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...