Geloofsvrae: Doop: Samevattende betekenis

image_pdfimage_print

Geloofsvrae: Doop: Samevattende betekenis – Adrio König

Samevattende betekenis

Eerstens, die indruk wat hierdie kort oorsig maak, is dat die doop ‘n baie ryk en hoë betekenis het. Die doop hou direk verband met die hele heilsweg: inlywing in Christus, in die kerk en in die verbond, vergifnis, reiniging, weergeboorte, nuwe lewe. In ‘n sin is dit egter nie vreemd nie. Dit sou vreemd gewees het as dit net met een of twee van hierdie fasette van die heilsweg verband gehou het. Die heilsweg is immers ‘n eenheid wat net deur die verskillende begrippe uit verskillende hoeke benader word. As die doop regtig ‘n heilsmiddel is, moet dit dus met al die perspektiewe verband hou.

Tweedens, wat beteken dit nou dat die doop ons op een of ander manier deel gee aan hierdie volle rykdom? Dit beteken nie dat die doop ons vanselfsprekend daaraan deel gee nie. Dit beteken nie dat iemand wat gedoop is, vanselfsprekend gered is nie. Die doop kom nooit op sy eie, sonder verband met ander heilsmiddels voor nie. Die doop word keer op keer in direkte verband genoem met die Woord, die Gees, die werk van Christus, en die geloof. Gaan gerus die tekste na waarna verwys is. Ons kry deel aan die heil deur hierdie heilsmiddels. Die doop is een van hulle. Hierdie middels vervul verskillende funksies. Om dit effens oorvereenvoudig te sê: Christus is die grond van die heil, die Gees bemiddel die heil deur die geloof, die doop is die openbare opname in die heilsgemeenskap.

Derdens is dit opvallend dat al die betekenisse van die doop verband hou met wat God doen en nie met wat die mens doen nie. God verenig ons met Christus, God lyf ons in die kerk en die verbond in, God vergewe en reinig ons, God gee ons die nuwe lewe. Dit is natuurlik waarom die doop ‘n sakrament genoem word. Sakrament beteken in hierdie verband iets waardeur God werksaam is, en nie ons nie. Dit beteken egter dat die doop nie ons daad van belydenis of bekering of getuienis kan wees nie.

Vierdens hou hierdie nadruk op die inisiatief van God in die doop direk verband met die feit dat die doop in God se verbond met Abraham inlyf. Omdat God altyd die inisiatief in die verbond neem en ons geroepe is om daarop te antwoord, kan ‘n mens verwag dat die doop God se werk in ons lewe sal wees. Dit is dan ook verkeerd om eers by die behandeling van die kinderdoop die verbond ter sprake te bring. Die inlywing in die verbond kom ter sprake wanneer Paulus handel oor heidene wat (groot-)gedoop word (Gal 3:26ev).

Vyfdens, iets wat nie in die kort oorsig na vore gekom het nie, is dat die doop dadelik bedien is, so gou as moontlik nadat die persoon tot geloof gekom het (Hand 2:41; 8:12, 35-38; 10:47-48; 16:14-15, 31-33; 19:4-5). Geloof en doop het dus saamgeval. Dit is natuurlik noodsaaklik omdat die doop net soos die geloof, deel gee aan die heil.

Sesdens vloei dit logies voort uit die vorige punt dat die onderrig oor die doop altyd op die doop volg, en nie aan die doop voorafgaan nie. Dit is ook in ooreenstemming met die opdrag wat aan Christus toegeskryf word: eers doop en dan leer (Mat 28:19,20). Om die volgorde te verander en eers te leer (gewoonlik vir ‘n taamlike lang tyd) en eers daarna te doop (lank nadat die persoon tot geloof gekom het), is om die doop te verander in ‘n blote doopviering wat nie meer met die inlywing in die heil en die heilsgemeenskap verband hou nie. Die onderrig oor die doop word konsekwent in die briewe gegee (o.a. Rom 6; 1Kor 6; Kol 2-3 – wat beteken dat gedooptes oor die betekenis van die doop onderrig word) en nie in Handelinge waar die doop bedien word nie.

Sewendens het ons die woorde wat ons gewoonlik in ons kerklike taal vir die doop gebruik, nog glad nie nodig gehad nie, woorde soos teken, simbool, belofte, seël. As ‘n mens probeer om die prediking van die kerk te toets aan die inhoud van die Bybel, is dit soms interessant om sekere woorde wat voortdurend gebruik word, heeltemal te vermy totdat ‘n bepaalde leerstuk klaar verduidelik is, en dan te vra: mis ons iets? So nie, verlei die tradisionele woorde ons nie dalk nie? Moet ons hulle dan nie maar liewer heeltemal los nie?

Dit word in hierdie boek in minstens drie gevalle gedoen: die begrippe gees, siel en liggaam vir die mens, die woord hemel vir die toekomstige heil, en die begrippe teken, simbool, belofte, seël vir die doop. Met hierdie laaste groep woorde vir die doop is in beginsel niks verkeerd nie, maar hulle sê minder as wat ons in die NT oor die doop lees. Hulle veronderstel dat die doop net na iets anders verwys sonder om in sigself betekenis te hê. Die doop sou dan net verwys na die heil wat elders gerealiseer is, terwyl die doop ons volgens die NT in die heilsgemeenskap en die heil inlyf, en nie net daarna verwys of daarvan verseker of dit aan ons waarborg of beloof nie.

Agstens is daar in die betekenis van die doop ‘n bepaalde ontwikkeling was. Die oudste betekenisse hang direk saam met die doop van Johannes (vergifnis en reiniging van sonde), terwyl die inlywende betekenisse waarskynlik eers later ontwikkel het. Dit sou ook verklaar hoe dit kon gebeur dat die vroeë Joodse Christene wat self gedoop is, nog vir ‘n tyd lank hul kinders kon besny (Hd 21:21). Omdat die doop aanvanklik veral met vergifnis en reiniging verband gehou het, kon die besnydenis wat ‘n inlywingsakrament was, maklik nog in gebruik gebly het. Eers toe, waarskynlik onder leiding van Paulus, die insig ontwikkel het dat die doop ook in die verbond inlyf, en die Judaïste in elk geval ‘n heilsbetekenis aan die besnydenis gegee het wat teenoor Christus gestaan het (Christus plus die besnydenis), kon die besnydenis nie meer aanvaar word nie.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio Köniig

image_pdfimage_print

You may also like...