Geloofsvrae: Die Doop: Besprinkeling of onderdompeling
Geloofsvrae: Die Doop: Besprinkeling of onderdompeling – Adrio König
Besprinkeling of onderdompeling?
Die metode van doop is nie in die NT ook maar enigsins ‘n kwessie nie. Dit is dus goed dat die Gereformeerde tradisie beide besprinkeling én onderdompeling erken (vgl die klassieke doopsformulier), net soos ons beide vorme van doop erken (grootdoop en kinderdoop).
Dit is jammer dat sekere kerke van die metode van doop ‘n kwessie maak deur die besprinkeling te verwerp en aan te dring op onderdompeling. Hierdie kerke is egter oortuig dat hierdie doopmetode baie duidelik in die NT geleer word en dat die betekenis van die doop direk daarmee verband hou.
Daar is hoofsaaklik drie argumente ter ondersteuning van onderdompeling. Die eerste is dat die Griekse woord vir doop onderdompeling beteken. Dit is egter ‘n kwalike argument aangesien daar genoeg voorbeelde in die NT is waar dit nie die geval is nie (o.a. 1Kor 10:2; Mark 10:38ev; Heb 9:10 waar die reinigingsgebruike in die OT `dope’ genoem word en ons weet dit is deur besprinkeling gedoen; ook die volgende tekste in onderlinge samehang: Mat 23:25; Mark 7:4; Luk 11:39). Die argument dat die Griekse woord vir doop wel altyd onderdompeling beteken wanneer dit vir die waterdoop gebruik word, is natuurlik `begging the question,’ en vra nou spesifiek ons aandag.
Die tweede argument is dan inderdaad dat dit duidelik is dat die apostels die mense deur onderdompeling gedoop het. Die klassieke voorbeeld is die doop van die Etiopiër (Hand 8:38-39). Maar die probleem is dat beide die Etiopiër en Filippus `in die water in gaan’ en `uit die water kom.’ Is beide die gedoopte én die doper dan onderdompel? Nee. Die `in en uit gaan’ sê niks oor hoe gedoop is nie, net dat hulle in die rivier ingegaan het om te doop.
Omdat die meeste kerke vandag met ‘n paar druppels water besprinkel, meen sommige tog dat die blote feit dat hulle in die water ingegaan het, moet beteken dat hulle baie water wou hê omdat hulle onderdompel het. Hulle is oortuig dat onderdompeling verder ook bevestig word deur die feit dat die doop dikwels ‘n bad of ‘n wassing genoem word (1 Kor 6:11; Tit 3:5 OAV; Heb 10:22). As ‘n mens dan nog lees dat Johannes by Enon doop `waar daar baie water was’ (Joh 3:23), lyk dit of die saak besleg is.
Die probleem is dat hierdie oortuiging uitgaan van die standpunt dat die besprinkeling met min water gedoen word. En dit word gesteun deur die huidige praktyk van die kerke wat besprinkel. Maar dit was nie onder die vroeë Christene die gebruik nie. Dink maar net aan die bekende kliptekening uit die vroeë kerk waar Johannes vir Jesus doop deur ‘n klomp water oor Hom gooi terwyl albei in die water staan. En dink verder aan die OT waar reiniging deur besprinkeling plaasgevind het, en waar ons telkens lees van reiniging deur bad of was, terwyl ons weet daar was geen onderdompeling in die OT nie (Lev 14:7-9; 15:5-8; 16:14-19, 26-28; Num 19:4-20). Trouens was of bad beteken natuurlik nie om onder die water in te gaan nie. In Esegiël 16:4 word na die gebruik verwys om ‘n pasgebore baba te `bad.’ Maar niemand sal dink dat die baba onder die water ingedruk is nie. Bad is om in water te sit en dan die water oor jou te gooi. Dit is presies wat besprinkeling met baie water is. Dit is dus glad nie vreemd dat die vroeë Christene deur besprinkeling gedoop het en dat dit was of bad genoem word, en daar na `baie water’ verwys word nie (Joh 3:23). Waar sou die tekening anders vandaan kom van Jesus wat deur Johannes met baie water besprinkel word?
Die derde en groot argument ten gunste van onderdompeling is dat ons in die doop saam met Christus begrawe word en saam met Hom opstaan, en dat ons dus onder die water moet verdwyn en weer bo die water moet verskyn. Dis ‘n duidelike misverstand. Dit is volkome waar dat ons deur die doop saam met Christus begrawe word en saam met Hom opstaan, maar die waarheid is nog groter: ons word ook saam met Hom gekruisig en sterf saam met Hom (o.a. Rom 6:3,6; Gal 2:19-20). Hoe kan die doopmetode dit alles simbolies voorstel? Hoe sal ons dit in die doophandeling simbolies voorstel dat ons saam met Hom gekruisig word? En is dit nie belangriker as om saam met Hom begrawe te word nie? Is dit nie ‘n bietjie willekeurig dat juis die (onbelangriker) begrafnis bo die (belangriker) kruisiging gekies word as simbool nie?
Maar kom ons bly tog ‘n oomblik by Christus se begrafnis. Die doop is nie ons eie begrafnis nie, maar deur die doop word ons saam met Hom begrawe en opgewek (Rom 6), of ook anders gesê: ons kry deur die doop deel aan sy begrafnis en opstanding. Maar hoe is Hy begrawe en hoe het Hy opgestaan? Hy is tog nie vertikaal begrawe (in ‘n gat in die grond) nie, maar horisontaal in die grot ingedra. Aan hierdie begrafnis kry ons deel. Hoe kan dít simbolies deur onderdompeling voorgestel word?
Verder sou ‘n mens nog kon byvoeg dat die doop natuurlik ‘n oneindig ryker betekenis het as net ons vereniging met Christus. Wat van die ander sewe betekenisse? Hoekom moet net een betekenis simbolies voorgestel word deur die doopmetode, en geen van die ander nie? Trouens waar in die NT kom die gedagte voor dat die doopmetode simbolies die betekenis van die doop moet voorstel? En waar sou ‘n mens ‘n metode kon kry wat die verskeidenheid betekenisse van die doop sou kon simboliseer?
Dit kan min twyfel lei dat die vroeë Christene deur besprinkeling gedoop het. Daar word minstens twee keer in die NT verwys na `besprinkeling’ wat moeilik op iets anders as die doop betrekking kan hê (Heb 10:22 OAV; 1Pet 1:2).
Die verwysing in Heb 10:22 verdien verdere aandag. Die reiniging van die OT, wat deur besprinkeling gedoen is, word in Hebreërs met die Griekse woord vir `doop’ aangedui (9:10). Hierdie `doop’ word direk met die reiniging deur die bloed van Christus verbind (9:13ev; dit word herhaal in 9:15-28 en weer in 10:11). Die reiniging van die OT en die reiniging deur die bloed van Christus word dus direk aan mekaar verbind.
Wat verder opval, is dat die Hebreërbrief na die reiniging van die OT deur besprinkeling verwys (9:13,19,21; vgl Eks 24:8; Lev 14:14-16; Num 19) én na die reiniging deur die bloed van Christus deur besprinkeling (12:14), én na `die besprinkeling van ons harte’ wat tog seker nie na iets anders as die doop kan verwys nie (10:22).
Dit alles vorm die agtergrond om die opvallende verwysing in Joh 3:25 te verstaan. Direk nadat Johannes vermeld het dat Johannes die doper by Enon gedoop het, sê hy dat daar `tussen Johannes se volgelinge en ‘n Jood ‘n woordewisseling ontstaan het oor die reiniging.’ Daar is skynbaar net een sinvolle verklaring vir dié vreemde verband: Johannes se doop moes aan die reiniging van die OT herinner het – wat net kan beteken dat Johannes deur besprinkeling gedoop het.
Hierdie hele verduideliking oor die doopmetode sou heeltemal onnodig gewees het as dit nie was dat sekere kerke daarop staan dat doop deur onderdompeling moet plaasvind nie. In die NT is die metode van doop onbelangrik. En daar kan geen rede wees waarom ons vandag juis een van die bestaande metodes moet vereis nie – al is dit waar dat besprinkeling ‘n eeueoue reinigingstradisie in die Bybel is. Trouens daar kan selfs geen beswaar wees dat sekere Christene onderdompeling verkies omdat hulle daarin ‘n simbool wil sien van die einde van hul ou sondige lewe en die begin van hul lewe in Christus nie. Hulle moet net nie sê dit kom uit die Bybel en dit verpligtend vir alle Christene wil maak nie.
‘n Mens behoort selfs nog verder te gaan en te sê dat ons as Gereformeerdes ons eie klassieke doopsformulier ernstig moet neem en geleenthede moet skep waar onderdompeling gebruik word. Dit sal beklemtoon dat ons beide metodes erken. Verder sal dit ook iets bydra tot die groot behoefte aan meer liggaamlike betrokkenheid in die Gereformeerde spiritualiteit terwyl ons intussen in elk geval moet oorweeg om regtig te besprinkel soos Johannes vir Jesus, en nie net ‘n druppel water op iemand se kop te sit nie. Ons stem tog saam dat die NT van die doop praat in terme van `was’ en `bad.’
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.
Skrywer: Prof Adrio König