DIE BRIEF AAN DIE GALASIËRS (5)
DIE BRIEF AAN DIE GALASIËRS (5)
Galasiërs 4:1-7: Mondig en onmondig
Paulus se vyfde argument sluit tot ‘n groot mate aan by dit wat hy in 3:21-29 gesê het. Die voorbeeld wat hy gebruik, is maklik om te verstaan: Gestel ‘n pa het in sy testament bepaal dat sy seun sy plaas kan erf, maar die pa gaan dood voordat die seun mondig is.
In so ‘n geval bepaal die testament gewoonlik dat die seun eers self wettiglik baas van die plaas word as hy ‘n sekere ouderdom bereik, sê nou maar by sy mondigwording. Tot en met daardie ouderdom, behoort die plaas reeds aan die seun, maar dit is nog syne in die volle sin van die woord nie. Ander mense bestuur dit vir hom. Die punt wat Paulus beklemtoon, is dit: Die datum wat die pa bepaal het, is vir die seun “‘n tyd van vrywording” (vgl. 4:2). In 4:3-5 pas Paulus dié voorbeeld dan op die wêreldgeskiedenis toe. Net soos die pa in die testament gemaak het, het God vir die mensdom ‘n datum van vrywording bepaal, naamlik toe Jesus na die wêreld gestuur is. Hy is uit ‘n vrou gebore (Hy was ‘n mens) en was aan die wet onderworpe (Hy was ‘n Jood) en het gekom om die vrywording te bewerkstellig. Dit het Hy reggekry deurdat Hy mense deur sy dood kom loskoop het (4:5) soos wat slawe destyds losgekoop kon word. Die wonderlike gevolg hiervan was dat hulle op grond daarvan deur God aangeneem is as sy kinders (4:5). (Net soos vandag is aangenome kinders destyds as ‘n ouer se ware kinders in die volste sin van die woord beskou.)
Vóór Jesus se koms was die mensdom slawe van wettiese godsdienstige reëls (4:3). Dit beteken dat hulle uitgelewer was aan allerlei vorme van godsdiens waardeur hulle probeer het om self hulle verlossing te verdien. Hiermee wil Paulus sê: Dit is glad nie meer nodig om self ‘n mens se verlossing te probeer verdien nie. Die tyd van vrywording het aangebreek toe Jesus gekom het. Wat egter onverstaanbaar is, is dat mense so graag terughinker na daardie vroeëre tyd. Dit is wat die Galasiërs gedoen het en dit was ‘n baie groot fout. In die woorde van Paulus se voorbeeld het hulle geestelik “onmondig” gebly.
In 4:6-7 noem Paulus een van die wonderlike voorregte waarin alle gelowiges kan deel omdat hulle God se aangenome kinders is: God stuur die Gees van sy Seun (d.w.s. die Heilige Gees) in hulle harte. Dit is nie iets spesiaals wat net met sekere gelowiges gebeur nie; God gee die Heilige Gees aan elke gelowige. Wat doen die Heilige Gees in hulle harte? Volgens 4:6 roep Hy in hulle uit: “Abba!” Dit beteken Vader! Die Heilige Gees oortuig mense dat hulle God se kinders is en help hulle om dit in die praktyk te ervaar, byvoorbeeld deur dit hulle eie gebedslewe te ervaar.
Galasiërs 4:8-20: Paulus se besorgdheid oor die Galasiërs
In hierdie gedeelte probeer Paulus nog steeds om die gelowiges in Galasië te oortuig om die valse leer te laat staan en na die waarheid terug te keer. Nou probeer hy dit egter op ‘n ander manier doen. In plaas daarvan om logiese argumente te gebruik (soos wat hy in 3:1-4:7 gedoen het) doen hy nou ‘n roerende emosievolle oproep op hulle. Dit bestaan uit twee dele:
- In 4:8-11 probeer hy by hulle tuisbring hoe totaal onverstaanbaar hulle optrede is. Hulle was slawe van nikswerd afgode en het toe die wonderlike voorreg van geestelike vryheid gesmaak toe hulle tot bekering gekom en in Jesus Christus begin glo het. Nou wil hulle weer hulle nuutgevonde geestelike vryheid vir ‘n ander soort slawerny gaan verruil – ‘n slawerny aan die Joodse wet! Vir Paulus is dit niks anders as slawerny aan ‘n klomp minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls nie! In plaas daarvan om hulle geloof in Christus uit te leef, moes hulle nou voortdurend konsentreer om tred te hou met besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare. Hier verwys Paulus na die Joodse godsdienstige feeskalender wat gebeure soos die Joodse Sabbat, Nuwemaansfeeste en die Joodse Paasfees ingesluit het. Nie alleen moes die feeste op ‘n spesifieke manier gevier word nie; volgens die Joodse interpretasie moes hulle ook op die presiese regte datums gevier word. (Soms het die Jode hewig onder mekaar verskil oor die datum waarop ‘n spesifieke godsdienstige fees gevier moes word.)
- In 4:12-16 herinner Paulus die Galasiërs daaraan hoe goedgesind hulle vroeër teenoor hom opgetree het toe hy hulle besoek het. Alhoewel hy siek was toe hy by hulle aangekom het (4:13) het hulle hom uiters vriendelik ontvang. In daardie tyd was die mense geneig om baie maklik siektes aan die bose geeste toe te skrywe en het hulle dus kontak met siek mense probeer vermy – veral as dit vreemde mense was. Tog het die Galasiërs (wat vir Paulus op daardie stadium die eerste keer ontmoet het – vgl. 4:13) nie so opgetree nie. Hulle het hom ontvang asof hy Christus Jesus self was – natuurlik as gevolg van die bevrydende boodskap wat hy aan hulle kom verkondig het. Paulus verwyt hulle dat hulle goedgesindheid nou skielik opgedroog het (4:16).
Hiervoor moet die dwaalleraars natuurlik die skuld kry (vgl. 4:17-20). Hulle het besef hulle sal die Galasiërs makliker kan oortuig om die dwaalleer te aanvaar as hulle vir Paulus so ‘n bietjie “swart smeer”. Op dié manier het hulle dit reggekry om ‘n wig tussen Paulus en sy gemeentes in Galasië in te dryf. Hulle bedoelings was egter nie goed nie. Al wat hulle wou regkry, was om die Galasiërs so ver te kry om hulleself vir die valse leer te beywer (4:17). Inderdaad! ‘n Valse evangelie bring onvermydelik tweespalt in enige gemeente.
Galasiërs 4:21-21: Hagar en Sara
Die laaste argument wat Paulus gebruik om die gelowiges in Galasië te oortuig om terug te keer na die ware evangelie is ‘n allegoriese argument. Destyds was allegorie een van die maniere wat gebruik is om die betekenis van die Ou Testament te verduidelik. Paulus het die uitlegtegniek waarskynlik aangeleer toe hy nog ‘n Skrifgeleerde was. Dit het basies daarop neergekom dat ‘n mens ‘n verhaal uit die Ou Testament neem en dan probeer om dieper betekenis agter die gebeure te ontdek wat dan die ware geestelike betekenis van die gebeure sou wees.
In hierdie geval neem Paulus die bekende gebeure in Genesis 16 en 21: Toe Sara nie kon kinders hê, het Abraham ‘n kind (Ismael) by Sara se slavin, Hagar, gehad. Later het Sara toe ook ‘n seun (Isak) gehad nadat die Here vir hulle vooraf so ‘n belofte gegee het. Sara het later by Abraham aangedring om vir Hagar en Ismael weg te jaag. Volgens Paulus is daar ‘n dieper, geestelike betekenis agter hierdie gebeure wat van toepassing is op die groot probleem wat hy met die gemeentes in Galasië het. Wat vir hom belangrik is in die verhaal, is die feit dat Hagar ‘n slavin was terwyl Sara vry was. Dié twee gedagtes maak hy dan van toepassing op die probleem in Galasië. Om die dieper geestelike betekenis agter Hagar te verduidelik, verbind hy haar eers met Sinaiberg. By Sinai het God ‘n verbond met die Joodse volk gesluit en aan hulle die wet (wat vir die dwaalleraars so verskriklik belangrik was) gegee. Dan verbind hy weer Sinaiberg aan die huidige Jerusalem, die “hoofstad” van die Joodse godsdiens. Dit was na alle waarskynlikheid ook die plek waarvandaan die dwaalleraars wat in Galasië doenig was, gekom het. Vir Paulus is die belangrikste gedagte dat die Joodse godsdiens en ook die dwaalleer wat in Galasië verkondig word, niks anders is as ‘n vorm van geestelike slawerny is nie. As ‘n mens probeer om jou verlossing te verdien deur die wet stiptelik na te kom, word die wet jou baas, as’t ware ‘n tiran wat jou in sy mag kry.
Skrywer: Prof Francois Tolmie