Amos en Hosea – Jan van der Watt
Jaco vra:
Verduidelik Amos 9 wie die heidene is in Hand 15:13-17 En Verduidelik Hosea 2 wie die heidene is in Rom 9:24-26 Handel die boek Amos en Hosea oor die nageslag van Jakob
Antwoord
Prof Jan van der Watt antwoord:
Jaco se vraag raak ‘n baie belangrike probleem aan, naamlik, hoe moet Ou-Testamentiese profesieë in die Nuwe Testament verstaan word, veral as dit aangehaal word soos in die voorbeelde wat hy gee. Profesieë in die Bybel is nie so eenvoudig soos ons dit baie keer wil maak nie. ‘n Paar riglyne hieroor behoort ons te help.
Die profete van ouds, soos Amos of Hosea, het in die eerste plek vir die mense van hulle eie tyd geskryf (anders sou die boeke nie sin maak nie). Die mense vir wie hulle die boeke geskryf het, kon dit verstaan omdat dit op hulle situasies gemik was en hulle aangespreek het. Profesieë in die ou tyd was soos preke vandag, hoewel dit ook toekomstige implikasies gehad het. Kyk maar na die profesieë in Openbaring 2-3. Soos in ‘n goeie preek staan daar dat as die lesers hulle nie bekeer nie, sal hulle gestraf word – dit is ‘n profesie. Tog is daar ook ander profesieë oor die nuwe Jerusalem, byvoorbeeld, wat vertel wat in die toekoms verwag kan word.
Die profete was spreekbuise van die God, die God wat altyd dieselfde is, vandag, gister en in die toekoms. Dit beteken dat as daar ‘n spesifieke situasie was (soos in Amos of Hosea se geval) waaroor hulle geprofeteer het, en ‘n soortgelyke situasie duik in die toekoms op, kan verwag word dat God soortgelyk sal optree. Profesieë is dus aanvanklik op een situasie gemik, maar kan van toepassing wees op soortgelyke situasies in die toekoms waar God by betrokke is.
Daar is baie voor beelde hiervan: In ‘n Joodse kommentaar wat rondom op Hosea gemaak is, word alles op die Romeine, wat op daardie tyd ‘n probleem was, toegepas, hoewel Hosea self, met die skryf van sy boek, die situasie honderde jare tevore (om en by met die val van die Noordelike Ryk van Israel – 760-720 voor Christus) in die oog gehad het toe Israel die Kanaänitiese afgode begin dien het. Die Romeine sou eers 600 jaar later op die toneel verskyn, maar omdat God altyd dieselfde is, kon die Romeine en die Jode van hulle tyd dieselfde behandeling verwag as wat in Hosea beskryf word.
Dieselfde geld vir Jesus. As daar in Jes 6 van Immanuel gepraat word, gaan dit om ‘n seuntjie wat in die tyd van Jesaja geleef het en van wie Jesaja gepraat het. Hy moes die mense herinner dat God by hulle is. As Jesus kom, herinner Hy mense ook dat God nou op ‘n besondere manier by hulle is. Omdat God altyd dieselfde is, is wat Jesaja gesê het, ook van Jesus waar, natuurlik op ‘n baie spesiale manier.
Om die vraag dus te beantwoord: Ja en nee. Oorspronklik het die Ou-Testamentiese dele nie na Handelinge of Romeine verwys nie en is ook nie in die eerste plek daarvoor geskryf nie. Tog, wat in die verlede oor God en sy optrede waar is, geld vandag ook nog as die situasies ooreenstem.
Skrywer: Prof Jan van der Watt