Hoop is om God raak te loop waar jy nie verwag het Hy sou wees nie – Johann Voges
Rut 116 – 19a, 22, 21, 10-14, 39-13, 411-17
Hoekom Sou Iemand my ʼn Christen Wou Noem
Dat iemand my ʼn christen sou wou noem…
het niks te doen met watter gladdebek oortuiging ek myself dit noem
… dis eerder of die mense om my dit wil sê as hulle sien wat ek doen
vra nie hoeveel siele ek gewen het met die hellevrees wat ek oral opskop
…eerder ʼn belydenis van verlore – gekry – vergewe – my hele ougatgeit omgedop
maak my nie ʼn ‘kruitjie-roer-my nie’ onaangeraak deur gewone mense se wanhoop
…ek huil, is bang, kry seer soos enige gewone skepsel, met ʼn effe annersgeit hoop
vra nie hoe ek regkry om die wat anders glo met my beterweteriggeit te bemoerbei
…maar eerder hoe mense wat verskillend glo ook my manier van glo kan bearbei
is nie omdat ek meer suksesvol, ryker of gesonder is oor wat vroomgeit veroorsaak
…maar omdat hulle steeds kan raaksien hoe die Here se werk in my nooit opraak
het niks uit te waai met ʼn kamma eksieperfeksiegeit wat ek met vroomgeit bykry
…dis eerder ʼn wete dat die Here, ten spyte van wat Hy weet, vir my steeds liefbly
is nie oor my ‘alleman’getroos wat alewig weet hoekom alger onnodig seerkry
… dis eerder omdat ek die Here bly vertrou ook in dit wat my sonder rede onderkry
het niks uit te waai met hoe ek soos ʼn engel met vlerke oral rondloop
…dis eerder hoe ek tenspyt van afval en geskroeide vlerke steeds kan bly hoop
is nie oorlat ek ʼn Jesus’freak’ raak wat allerhande frats goeters sê en doen
…maar om stomgeslaan te kan hoor dat Jesus sonder skaam my sy ‘vriend’ noem
kan tog nie omdat hulle my Sondae gestyf en gestryk ewe vroom in ʼn kerkbank sien sit
…miskien eerder om my elke dag te ervaar as ene wat in eenvoud leef wat hy glo…net dit.
is nie oor my Bybelteksie ekspertgeit wat ongevraag almal wat verskil probeer seermaak
…om met my verwonderd te bly oor die misterie van Bybelstories wat lewens aanraak
staan nêrens in die Bybelbladsye geskrywe dat mense ooit hulleself christene noem
… dis diegene tussen wie hul elke dag lewe wat sien wat hulle doen wat hul so noem
Liefde verander mense… die wat die ontvang maar ook weggegee kry
In ons Bybels kry ʼn mens die boek Rut tussen Rigters en 1 Samuel … dis destyds in 200vC met die Griekse vertalingSeptuaginta van die Ou Testament hiernatoe geskuif omdat Rut 11 begin met die woorde ‘In die dae toe die rigters regeer het…’ en dit eindig in die laaste hoofstuk Rut 4:18-22 met die geslagsregister van koning Dawid. Daarom het die vertalers gevoel dat die Rutstorie meer logiese tussen die Rigters- en Koningstories inpas.
Maar die Hebreeuse Bybel volg ‘n ander logika… daarin kry ʼn mens die boek Rut nader aan die einde van hul Bybel in daai gedeelte bekend as die megillot of feesrolle. Daar is altesaam vyf van dié feesrolle wat elke keer tydens een van die groot Joodse feeste gelees word: Hooglied met Pasga; Prediker tydens die Loofhuttefees ter herinnering aan die woestyntyd met die uittog uit Egipte; Klaagliedere ter herdenking van die eerste en tweede tempel se vernietiging; Ester met die Purim fees waar haar storie herdenk is en Rut met die ‘fees van die weke’ of ‘oesfees’ of ‘pinkster’, dis ʼn fees gevier met die bymekaarmaak van die graanoes. Vir die Jode hoort Rut se storie hier omdat Rut en Naomi in Betlehem aangekom het aan die begin van die gars-oes Rut 1:22c.
Natuurlik het waar wieookal vir Rut in die Bybel loop neersit het niks te doen met wanneer dit gelees of hoe dit verstaan behoort te word nie, dit kry jy eerder in hoe en hoekom hierdie storie vertel en geskrywe geraak het. Die Rutboek is taamlik laat in Ou Testament geskiedenis geskrywe, waarskynlik in die tyd van die Tweede Tempel hier om en by 450 – 400vC, dis net na die ballinskap terwyl die Rutstorie 600 jaar of wat ouer is… uit die rigterstyd. Na die ballingskap was ʼn baie spanningsvolle tyd in die geskiedenis van die Judese gemeenskap wat toe gedreig het om uitmekaar uit te wou skeur. Jerusalem is verwoes, die tempel is afgebreek en mense sukkel om hul armoede en ellende oorleef te kry. Die sedelike en morele verval onder die meeste mense het net al erger geraak en so ook die verwaarlosing van hul godsdiens. Dis in hierdie tyd wat die priester Esra en sy tydgenoot Nehemia probeer om die godsdienstige situasie in die land weer reggeruk te kry. Hulle het begin om die mure van Jerusalem en die tempel te herbou en dit ook reggekry dat mense weer die paasfees en ander Joodse godsdienstige feeste begin vier asook die Sabbatdag vir wat dit veronderstel is om te wees. Maar ongelukkig het Esra en Nehemia se letterlike verstaan en toepassing van hul Ou Testament Bybeltekste baie verwarring en seer onder daaitydse gelowiges veroorsaak… hiermee is nou eweskileik ʼn taboe-sonde bordjie om gemengde huwelike gehangEsra 10 & Neh 13:23-29 wat tydens die ballingskap ontstaan het. Daar was van Joodse mans in sulke huwelike verwag om van hul sogenaamde ‘sonde’-vrouens en kinders ontslae te raak. Dis wat gebeur as jy in jou Bybel lees wat Moses in sy tyd skryf oor hoekom die Jode met sekere volke nie kon klaarkom nieDt 23:3-4 en jy vat daai teksverse, sonder om eers uit te vind wat Moses daarmee bedoel het en loop wurg dit woord vir woord in jou tyd se probleme in omdat dit klink soos ʼn oplossing vir dit waarvoor jy nie antwoorde het nie…
Jy sal weet hoeveel pyn dit al in die kerk veroorsaak het waar mense Bybeltekste uit verband uit ruk om hul eie politieke sieninge te probeer regverdig of om aan hul eie vroomgeit geloofwaardigheid te probeer gee. As iemand sê ‘dit staan mos in die Bybel’ kry hul dit reg om enige iets daarmee bewys te kry of ʼn streep deur te trek en niemand waag dit om te vra… ‘sê die Bybel rêrig so!’ Dis in sulke omstandighede wat die Rutstorie geskrywe raak as ʼn protesgeskrif juis oor hoe mense hul Bybellees en -verstaan gebruik om die vrae van hul tyd geantwoord te kry.
Die Rutskrywer gebruik ʼn storie wat in die Rigterstyd gebeur en projekteer dit dan na sy tyd om sy lesers aan die praat te kry oor hul eietydse Bybelverstaan. Die rede hiervoor is dat enige storie se inpak op lesers veel groter is as daar afstand geskep kan word tussen hul nou’se tyd en die storie se tyd. In 200vC toe die Romeine as nuwe wêreldmoontheid hul Romeinse manier van dink en doen op almal probeer afdruk het, skryf iemand oor Daniël wat in 600vC in Nebukadneser se tyd in soortgelyke omstandighede as gelowige kon oorleef om met die Daniëlstorie te vra wat moet ons by hom loop leer van wat bly glo beteken al kos dit watookal. Presies wat die Rutskrywer doen deur te vertel hoe ʼn vreemde Moabietiese vrou met haar liefde en deernis die Jode in die Rigterstyd se onverdraagsame gesindheid teenoor ander mense kon verander. Dan kan ons mos by haar loop leer hoe ons klomp nou beter met mekaar oor die weg kan kom na die ballingskap… Jode en vermengde Jode. Om juis in doerie tyd se Rutstorie lte kan raaklees hoedat… liefde mense verander, die wat dit ontvang maar ook hulle wat dit onvoorwaardelik weggegee kan kry.
Die Rutstorie vertel van die verskil wat hoop in mense se lewens bring
In die Rutboekie gaan dit oor meer as net Rut se lewensstorie of hoekom sy Dawid se oumagrootjie was. Hierdie storie word gebruik om daaitydse mense aan die praat te kry oor hul Bybelverstaan en wie hulle gedink het God rêrig is. Maar dan word met hierdie Rutstorie gevra… nie watter tekswoorde daar in ons Bybels geskrywe staan nie, maar hoe leef ek as gelowige dit wat ek daarin gelees kry… kan die mense om my elke dag iets ervaar van God se liefde en deernis vir alle mense in hoe ek my Bybellees geleef kry. Dat ek soms die meeste met hoop by mense te doen kry van wie ek dit die minste verwag
Daar is so ongeveer vyf Bybelse verstaanstaaitoffies wat baie verwarring onder daaitydse ‘net na ballingskap’ mense veroorsaak het waarvan die verstaan daarvan hier in die Rutstorie herskryf raak.
1Israel se wet op ekslusiwiteit…in ons tyd so 60 of wat jaar gelede, het ons dit hier in Suid Afrika die wet op afsonderlike ontwikkeling genoem wat later in ʼn apartheid chaos verander het. Dit begin by die mense in Moses se tyd se kwaadgeit vir die Moabiete. Jode en Moabiete het hoegenaamd gladnie met mekaar klaargekom nie, ʼn onklaarkomstigheid wat al van Genesis se toentertyd af kom. Die Moabiete was Noag se oudste dogter se nageslag uit bloedskande tussen ʼn dogter en haar paGen 19;37. Maar die eintlike kwaadgeit was omdat die Moabiete nie vir die Israeliete brood en water wou gee vir hul woestyntog nie, daarom het die Jode in hul wetboeke laat skrywe dat gn Moabiet ooit as ‘n Israeliet aanvaar sal word nie… selfs nie iemand van die tiende geslag na die uittog nieDt 23;3-4. Die Rutstorie herskryf hierdie onklaarkomstigheid omdat die liefde en deernis van Dawid se oumagrootjie, Rut, mense se respek en waardering vir mekaar verander het. In haar onvoorwaardelike liefde het mense weer God se nabywees ervaar.
2Esra en Nehemia het die Moses’wet’ wat verbied dat Moabiete en Ammoniete Israeliete kon word, toe sommer verander in ʼn wet teen enige gemengde huwelike. Dit het gesinne opgebreek en oor en weer onhoudbare sondeverwyte veroorsaak. In die Rutstorie word hongersnood ʼn rede waarom ʼn Joodse gesin Moab toe emigreer om te kon oorleef en van daar af kom later terug wat oorgebly het uit ʼn Joodse gemengde familie … ʼn Jodin en Moabiet weduwee wat opgeneem raak in die groter Israel familie stamboom waaruit later koning Dawid gebore raak. Liefde en deernis tussen mense genees in die Rutverhaal oeroue onklaarkomstigheid tussen mense… ook daar waar mense van mekaar verskil oor kultuur of taal of komvandaan.
3In die ou Israel is baie van deernis en omgee gemaak vir mense wat swaarkry. Daarvoor was daar selfs ʼn soort ‘armmens reg’ Deuteronomium 24:19 geskrywe om vir arm mense te sorg wat sê… as jy jou lande afoes en jy vergeet ʼn gerf op die land, moet jy nie omdraai om dit te loop haal nie. Dit moet bly vir die Joodse vreemdelinge of ʼn weeskind of ʼn weduwee. Boas radikaliseer hierdie wet deur vir ʼn Moabietiese vreemdeling, wat eintlik met die wet uitgesluit is, doelbewus meer gerwe te los as daai toevalliges wat agterbly. Hiermee ignoreer Boas die wet van liefdelose onverdraagsaamgeit teenoor nie Joodse vreemdelinge en neem die wet van deernis en omgee vir mense wat swaarkry so ernstig op dat hy meer gee as wat die wet vra. Hy doen dit ten koste van homself as ʼn manier om vir Rut te sê… ek respekteer die liefde en deernis wat ek by jou as Moabiet raaksien wat jy vir jou Joodse skoonma het. Hiermee het die Rutlesers raakgesien dat dit in verhoudinge nie gaan oor die foute wat ons oor en weer maak of oor wat ons kon of anders moes gedoen het nie, maar of ons in ons verhouding geleer het om mekaar te kan respekteer en waardeer vir ons andersgeit.
4Die verstaan en gebruik van die Jode se ‘Leviraatshuwelik’ Deuteronomium 25:5 word in die Rut storie ook op sy kop staangemaak… daai wet wat bepaal dat die bloedbroer van enige man wat kinderloos sterf met sy weduwee moet trou, nie soseer om vir haar te sorg nie, maar sodat sy bloedbroer se geslagslyn voortgesit kan word. Rut en Boas raak getroud onder die voorwensel van hierdie wet wat eintlik nie op een van hulle van toepassing is nie. As hul seuntjie Obed in die laaste hoofstuk in koning Dawid se geslagsregister ingeskryf raak, word hy nie vernoem na Rut se eerste man Maglon, soos die levriaatswet bepaal nie, maar word gesê Obed is Boas se seun. Die manier hoe dit alles gebeur tenspyte van al die Joodse wette wat mense se Joodse identiteit en nalatenskap moes beskerm, het nogal allerhande vrae laat vra oor die kodes en sedes van die patriargale samelewing van daai tyd.
5Naomi het iewers êrens nog ʼn stukkie grond in Israel gehad wat sy sou kon verkoop as sy wou deur aanspraak te maak op die sg ‘go’el wet’ of ‘wet van lossing’Levitikus 25:25. Dis daai wet wat sê dat as ʼn Israeliet weens armoede sy grond moet verkoop, moet dit deur die naaste manlike familielid teruggekoop word sodat dit later weer na die oorspronklike eienaar kan teruggaan. Daai nag op die dorsvloer vra Rut as’t ware vir Boas om met haar te trou en so as haar go’el of losser op te tree. Hiermee gebruik sy, op advies van haar skoonma, ʼn wet wat bedoel is om mans te bevoordeel, om vir haar en haar skoonma ʼn toekoms te kan verseker. Rut knoop as’t ware die levriaat en losserswet aanmekaar en waag dit om hulle anders ge-interpreteer te kry… nie meer as wette bedoel om net sekere mense te bevoordeel nie, maar waar hul lees en verstaan deur liefde en deernis bepaal word… word dit wette wat omgee vir mense wat swaarkry en vir diegene wat om watter rede ookal uitgestoot geraak het. Waar godsdienstige wette of Bybellees so verstaan word, raak God se liefde en deernis vir alle mense sigbaar.
Wie is ek waar in God se wêreld…!
In die Rutstorie is daar twee storielyne waarin vertel word van hoe mense op hul manier worstel om God se daarwees in hul lewens raakgesien te kry…
1die een is van Naomi, die vroulike weergawe van die Jobstorie. ʼn Judese vrou wat in die kwessie van ʼn paar Bybelteksverse alles verloor van wie sy is en het. Haar hele komvandaan as Jodin stort in duie as al haar ‘naby’familie daar in Moab te sterwe kom. Later as sy na haar geboorteland terugdrentel wil sy liewer ‘Mara’ die bitter ene genoem word wat daar wil kom doodgaan as wat sy ’Naomi’ die lieflike ene is wat vroeër jare daar weg is. Haar storielyn wil vra… waar gaan jy die dag heen as dit vir jou voel asof God in jou lewe weggeraak het. Jy sou ook kon vra… watter verskil maak my bly glo die dag as alles wat my in die lewe oorkom my laat wegraak… hoe bly ek hoop as my wêreld in wanhoop vasgeval raak…?
2Die ander storielyn… is die een van Rut, ʼn Moabiet wat teen alle logika en verwagting dit waag om die Here te vertrou waar niemand gedink het dat sy sou weet hoe nie. Sy die vreemdeling wat uitgestoot word oor mense se verkeerde Bybelverstaan, waag dit om hierdie mense met liefde en deernis te aanvaar ten spyte van hoe hulle hul Bybellees verstaan het… sy waag dit om alles wat sy is en het prys te gee omdat God se liefde mense gesondmaak, die wat hul Bybvels verkeerd gelees het, maar ook vir Rut wat hierdie liefde wat sy by die Here ervaar het te kon weggee vir almal wat oor haar pad gekom het. So word Rut ʼn voorbeeld van iemand wat hoop gee vir ander mense.
In beide vroue se stories word eintlik gevra, wat maak my lewe die moeite werd as ek elke dag moet wonder – waar pas ek dan in of as niks werk soos dit moet nie. In die Rutboek gebeur wat Phillip Yancey in ons tyd geskryf het in sy boek finding God in unexpected places… dat ons weet mos dat God oral is, maar mense kom allerhande goeters in die lewe oor wat maak dat hulle dit nie meer raakgesien kry nie en as daar in daai mense se moedeloosgeit iemand met liefdevolle deernis na hul uitreik, is dit asof mense se oë weer oopgaan vir God se nog altyd nabywees… dis wat dit beteken om vir ander mense hoop te gee in die hoop wat jy uitleef tenspyte van wat wieookal oorgekom het.
Wat maak jou lewe ‘n moeite werd lewe om te wil leef in ‘n wêreld waarin mense al meer onseker raak oor wat oral aan die gebeur is… in ‘n wêreld waarin mense sukkel om werk te kry… in ‘n wêreld waarin mense al meer bang en moedeloos raak oor die verskil wat ek nie meer gemaak kry nie… in ‘n wêreld waarin kinders tou opgooi omdat hulle nie meer hoop het in vandag se deurmekaar nie… in ‘n wêreld waarin jy verwerp word vir wie jy is, omdat jou grootjies of eweknieë kwansuis gewees het wat hulle nie moes wees nie? In so ‘n wêreld, het die Here Jesus destyds, ‘n mens soos een van ons geword om te kom wys watter verskil God se liefde vir alle mense in so ʼn wêreld maak… hoe daai liefde mense verander, die wat dit ontvang, maar veral hulle wat dit ook weggegee kan kry aan almal om hulle elke dag. Dis ook die goue draad in Rut se lewenstorie. Daar in Moab al begin, toe sy gekies het om saam met Naomi te gaan1:16… daar al het Rut se lewenstorie, ‘n geloof- en hoopstorie geraak waardeur die Here besig is om sy stukkend wêreld so stukkie vir stukkie heel te maak… deur die verskil wat ‘n gewone entjie mens soos Rut vir die mense om haar elke dag beteken het.
Hoe die hoopstories van gewone mense ʼn samelewing kan verander
Ja, maar hoe weet jy dit, hoor ek jou vra. Van Abraham se tyd af al, weet ons dat God wat die wêreld gemaak het ook oral met die heelmaak daarvan besig is. Hoe gebeur dit … deur die geloof- en hoopstories van gewone elke dag mense. Wel, in terugskoue gesien, was die Here nog altyd by ons, ook toe ons maar net so aangekarring het en alles doodgewoon en deurmekaar gelyk het … toe ook was Hy op sy manier besig om in die gewone lewe van elke dag sy legkaart met ons stukkie vir stukkie klaar te bou. Dis hoekom die Rutboek skrywer Rut se geloofstorie vir die mense van sy tyd wou oorvertel … want jy kan nie anders as om juis dit daarin raakgelees te kry nie. Om daarmee te vertel hoedat God deur gewone mense soos sy op ‘n besondere manier gebruik om sy heelmaak van hierdie wêreld klaargemaak te kry en dit terwyl die meeste van ons dink dat ons eintlik nikswerd is of nie goed genoeg daarvoor sou wees nie.
Dis juis die ongelooflike manier waarop God in ons flenter wêreld werk… deur gewone mense soos ek en jy te gebruik om in ons eie omgewing dinge te help heelmaak. Hy gebruik nie mense oor hul bekwaamgeit of oulikgeit nie, maar mense wat tussen al die krom en skeef van elke dag steeds ‘n geloof- en hoopstorie het om te lewe. Hy gebruik hulle om die stukkend te help heelmaak tussen mense wat nie dieselfde taal praat nie… tussen mense wie se komvandaan verskil… tussen mense wat elke dag saamgewoon en gewerk moet kry. Die vraag met die heelmakery van ons wêreld is nie soseer waar God is waar dit moet gebeur nie, maar waar is ek en jy waar God besig is daarmee. Dis waaroor die werdgeit van christenwees gaan… nie oor al die moontlike byvoordele wat ons dink daarmee moet saamgaan nie, maar om elke dag te weet dat God ook deel van my lewenstorie kom raak het. Hy was deel van Dawid se deurmekaar koningstorie en ook Abraham se vér trekstorie daar tussen al die bang en onseker vreemde in. Hy was ook deel van baie se lewenstorie daar in ballingskap toe alles wat sin gemaak het uitmekaar geval het en deel van ‘n moedelose Naomi en ‘n bang Rut se lewenstories in ‘n tyd toe almal gewonder het waar hulle hoort. In al hierdie mense se geloof- en hoopstories het die Here juis hierdie mense gebruik om sy heelmaak klaargemaak te kon kry.
Deur my en jou manier van lewe kry die Here in ons tyd ook ʼn verskil gemaak. Esra en Nehemia het na die ballinskap gesê… ons kan net ʼn verskil maak as ek en jy dit regkry om presies dit te doen wat in ons Bybels geskrywe staan dat ons moet. Die Rutboekskrywer stem saam, maar wou met die oorvertel van die storie van Dawid se oumagrootjie se komvandaan sê… as jy dit wat jy in jou Bybel lees nie met deernis en liefde geleef kry nie, gaan daar meer mense in jou lewe seerkry en teleurgesteld en verward raak as die wat God se nabywees gaan ervaar in hoe goed jy jou Bybeltekste ken.
In ons tyd lees baie min mense nog eintlik meer die Bybel, maar hulle kry dit tog wel gelees, nie in die teksverse wat daarin geskrywe staan nie, maar in die manier hoe ek en jy dit elke dag uitgeleef kry … in hoe ek wat ek glo en hoop geleef kry!
Skrywer: Dr Johann Voges