“I can safely say, on the authority of all that is revealed in the Word of God, that any man or woman on this earth who is bored and turned off by worship is not ready for heaven.” ― A.W. Tozer
Bonhoeffer (14)
Ek wil enkele gedeeltes uit 40-Day Journey with Dietrich Bonhoeffer (Augsburg Books) hanteer.
Julle is die sout vir die aarde. Let wel: nie julle behoort die sout te wees nie, maar julle is. Die dissipels het geen keuse nie – hulle kan nie besluit of hulle sout wil wees of nie. Hierdie is ook nie ‘n oproep op hulle om sout te wees nie. Hulle is die sout of hulle dit nou wil wees of nie. Hoe het hulle hierdie sout geword? Deur die roeping wat na hulle gekom het. Hier staan ook nie dat hulle die sout het nie – hulle is die sout.
Die Hervormers het geglo dat die boodskap wat die dissipels verkondig het die sout is. Dit is te eng. Hulle hele bestaan, in die mate wat dit in Christus se oproep vir dissipelskap gevestig is, is die sout. Almal wat Jesus se oproep om dissipels te wees, gehoorsaam, is die sout vir die aarde – hulle hele bestaan.
Bonhoeffer gee weer twee Bybelgedeeltes om ons te help:
- Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ‘n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit (Matteus 5:13).
- Gee my insig, dat ek u wet kan gehoorsaam en dit met my hele hart onderhou. Laat my wandel volgens u gebooie, want daarin vind ek vreugde. U verordeninge, laat dit my na aan die hart lê, nie die begeerte om myself te verryk nie. Weerhou my van ‘n nuttelose lewe, laat my leef op die weg wat U my aanwys (Psalm 119:34 – 37).
Jesus se oproep tot dissipelskap verander ons hele lewens. Sien die mense om ons dit raak? Het ons nie dalk verslaan nie? Dink aan plekke in jou gemeenskap waar sout nodig is … en gaan wees dit.
Here, in reaksie op u oproep, wil ek graag wees dit waarvoor U my groep het – sout vir die aarde. Amen.