Leef uit jou Doop: 4.1 Geen kinderdoop in die Bybel nie
Leef uit jou Doop: 4.1 Geen kinderdoop in die Bybel nie
4.1 Geen kinderdoop in die Bybel nie
In die vorige hoofstuk het ons gekyk na die rykdom van die doop in die Nuwe Testament. Indien die kinderdoop ’n aanvaarbare vorm van die Christelike doop is, moet dit voortvloei uit die betekenisse wat ons uit die Nuwe Testament gekry het. Ons kan nie ander teologiese beginsels vir die kinderdoop gebruik as vir die grootdoop nie.
Daar is groot groepe Christene wat hard en duidelik Nee sê vir die kinderdoop. Dink maar aan omtrent die hele Pinksterwêreld, die Baptiste, en ’n groot deel van die Charismatiese beweging. En hulle het baie sterk argumente om hierdie standpunt te steun. Alhoewel my eie simpatie duidelik by die aanvaarding van die kinderdoop lê, gaan ek in hierdie hoofstuk die taal gebruik van dié wat die kinderdoop verwerp, om te probeer om hulle argumente só te stel soos hulle graag sou wou.
Die eerste argument is dat daar geen verwysing na die kinderdoop in die Bybel is nie. Die voorbeelde wat soms wel aangehaal word, soos die gesinsdope, is nie aanvaarbaar nie omdat daar geen getuienis is dat daar wel babas in dié gesinne was nie. Trouens wat wel van hierdie gesinne geskryf word, dui eerder in die rigting dat daar inderdaad geen kindertjies was nie. Ons lees die woord is aan hierdie mense verkondig, hulle het geglo, en hulle was bly – alles dinge wat nie van babas geld nie
(Hand 16:32, 34).
Hier word verder graag verwys na allerlei vreemde argumente om tog kinderdoop in die Bybel te probeer kry. Indertyd het Willie Marais ’n boekie oor die kinderdoop geskryf waarin hy op vreemde maniere die kinderdoop probeer “red” het. Hy het byvoorbeeld selfs in Jesus se sendingbevel kinders probeer kry. Hy gebruik twee argumente. Die eerste een is dat die Grieks wys dat daar geen volgorde hoef te wees tussen dissipelsmaak aan die een kant, en doop en leer aan die ander kant nie. Mense sou dus ook eers gedoop kon word, en daarna geleer word, wat ruimte laat vir die kinderdoop. En die tweede argument is dat dit om “nasies” gaan, en nasies het tog babas. Hulle moet dus ook gedoop en geleer word. Sy gevolgtrekking is dan: “Matteus 28:19 bevestig daarom die vanselfsprekende vermoede dat ook suigelinge van die begin af gedoop is” (Die kinderdoop en besprinkeling, p 79).
FP Möller het destyds die onhoudbaarheid en selfs onwaardigheid van sulke argumente aangetoon (Die sakrament in gedrang, p 72 ev). Daar is ’n gedrongenheid in om iets te probeer sê wat daar eenvoudig nie staan nie. Dit is klassieke voorbeelde van die soort stryd waarna vroeër verwys is (1.3).
Die waarheid is dat daar geen duidelike verwysings na die kinderdoop in die Bybel is nie. En dit is tog vreemd. Die laaste boeke van die Nuwe Testament is waarskynlik baie na aan die einde van die eerste eeu geskryf. Dit is omtrent 70 jaar na Pinkster. Die dissipels was toe al omtrent almal dood. Dit was al die derde en vierde geslag na Christus. Kan ’n mens nie verwag daar moes toe al ’n verwysing na die kinderdoop gewees het as daar toe al kinderdoop was nie?
Kan ’n mens regtig met so ’n belangrike gebruik aangaan sonder enige noemenswaardige steun in die Bybel? Die Bybel is tog ons maatstaf en rigsnoer.
Mens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.
Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za
Skrywer: Prof Adrio König