Jona
by Mitch Kalp ·
“A dead thing can go with the stream, but only a living thing can go against it.” – G. K. Chesteron
Jona
Jona het aanvanklik geweier om op God se roeping te antwoord (Jona 1 – 2). Hy kry nog ‘n kans. In Hoofstuk 1 maak Jona klaar om te vlug; in Hoofstuk 3 maak Jona klaar om te gehoorsaam. Jona het maar teësinnig gehoorsaam. Hy moes die inwoners van Nineve gaan waarsku oor God se naderende oordeel.
As gevolg van sy prediking glo die mense van Nineve – ook die koning – en toon in alle nederigheid berou oor wat hulle gedoen het. Jona word die instrument waardeur God een van die grootste herlewings in die geskiedenis teweeg gebring het.
Ons sou verwag het dat die verhaal hier met Jona se triomf eindig. Nee, Jona was baie ontevrede met wat gebeur het: Hieroor was Jona baie ontevrede en hy het baie kwaad geword (4:1). In ‘n gebed wat ons verstom laat, sê Jona hoekom hy van God se opdrag weggevlug het. Hy het weggevlug, nie omdat hy bang was dat die mense van Nineve hom sou verwerp nie, maar omdat hy bang was hulle sy boodskap sou hoor en hulle bekeer. Jona was kwaad omdat God die mense van Nineve vergewe het!
Let op die teenstelling tussen die God vol deernis (4:2) en ‘n ontevrede profeet (4:1). Hier sien ons iets van die menslike neiging om selfgesentreerd te wees en op selfbehoud te fokus – ons is ook maar stamgebonde.
In sy gebed beskryf Jona, heeltemal tereg, God as ‘n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het. Jona aanvaar dat God die goddeloses gaan straf, maar wat vir hom onaanvaarbaar was, was God se genade. Genade triomfeer oor oordeel en dit is wat Jona kwaad maak.
Die beeld van God staan teenoor Jona se bitterheid. God breek mure af en lei sy mense uit in die wêreld met goeie nuus: vergifnis is moontlik deur berou en geloof.