Affliction is often that thing which prepares an ordinary person for some sort of an extraordinary destiny. C. S. Lewis
Bonhoeffer (17)
Ek wil enkele gedeeltes uit 40-Day Journey with Dietrich Bonhoeffer (Augsburg Books) hanteer.
Kosbare genade is die verborge skat waarvoor mense met blydskap alles wat hulle het, sal verkoop. Dit is die kosbare pêrel waarvoor die handelaar alles sal verkoop. Dit is die oproep van Jesus wat maak dat ‘n dissipel sy nette verlaat en Hom volg.
Kosbare genade is die Blye Boodskap wat weer en weer gesoek moet word; die gawe waarvoor ons moet vra; die deur waar ons moet klop. Dit is kosbaar, want dit vereis dissipelskap; dit is genade, want dit vra dat ons Jesus Christus moet volg, Dit is duur, want dit kan mense se lewens opeis; dit is genade, want dit laat hulle leef. Dit is duur, want die veroordeel sonde; dit is genade, want dit koop die sondaar vry. Dit is veral duur, want God moes sy Seun opgee – Hy het ons vir ‘n prys gekoop. Niks kan tog vir ons goedkoop wees as dit vir God duur was nie. Dit is veral genade, want die lewe van sy Seun was nie vir God ‘n te groot prys om te betaal sodat ons kan lewe nie. Genade is duur, want dit dwing mense om God se juk te dra; dit is genade, want Jesus sê: My juk is sag en my las is lig (Matteus 11:30).
Bonhoeffer gee weer twee Bybelgedeeltes om ons te help:
- Julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik (1 Korintiërs 6:20).
- Roem sy heilige Naam, laat dié wat die teenwoordigheid van die Here soek, bly wees. Soek hulp en beskerming by die Here, soek gedurig sy teenwoordigheid (Psalm 105:3 – 4)
Duur genade beteken dat ek Jesus volg; goedkoop genade beteken dat ek sekere dinge aangaande Hom glo, maar Hom nie volg nie. Wat sou dit vir ons beteken as ons ons nette los en Jesus volg?
Dankie, o God, vir die duur genade wat U vryelik aan ons bied en wat my ‘n dissipel van Jesus Christus gemaak het. Amen.