“The Bible tells us to love our neighbors, and also to love our enemies; probably because they are generally the same people.” – G. K. Chesterton
Bonhoeffer (23)
Ek wil enkele gedeeltes uit 40-Day Journey with Dietrich Bonhoeffer (Augsburg Books) hanteer.
Christene is mense wat nie langer hulle verlossing in hulleself soek nie, maar slegs in Jesus Christus. Hulle weet dat God se Woord hulle skuldig verklaar – al voel hulle nie skuldig nie. Hulle weet ook dat God se Woord in Jesus Christus hulle vry verklaar en regverdig al voel hulle niks van hulle geregtigheid nie.
Hulle honger en dors daagliks na geregtigheid en daarom verlang hulle na die verlossende Woord – weer en weer. In hulleself is hulle dood; hulp moet van buite kom. Dit het gekom en kom daagliks weer en nuut in die Woord van Jesus Christus. Hierdie Woord bring verlossing, vryspraak, onskuld en seën. Maar God het sy Woord in die monde van mense geplaas sodat hulle vir ander kan vertel. As mense diep geraak is deur die Woord vertel hulle vir ander daarvan. God het bepaal dat ons sy lewende Woord sal soek en vind – in die getuienis van ander Christene; uit die mond van ander mense. Daarom het Christene ander Christene wat hulle vertel van God se Woord nodig. Hulle het hulle veral nodig as hulle onseker of ontmoedig is.
Bonhoeffer gee weer twee Bybelgedeeltes om ons te help:
- Dink aan die voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Let op hulle lewenswandel tot die einde toe, en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het (Hebreërs 13:7).
- Ek wil getuig van U magtige dade, sodat die mense oor u wonderdade sal praat. Ek wil van u grootheid vertel. Sonder ophou moet hulle u goedheid verkondig en oor u reddingsdade jubel (Psalm 145:5 – 7).
O Heilige Gees, stuur die mense wat ek nodig het om die Woord van God aan my te bring en stuur die mense aan wie ek die Woord moet oordra. Amen.