Leef uit jou doop: 7.1 Die verlede

image_pdfimage_print

Leef uit jou doop: 7.1 Die verlede – Adrio König

7.1 Die verlede

Daar was altyd in alle kerkgroepe mense wat ’n tweede keer gedoop wil word. In die kerke wat naas die grootdoop ook die kinderdoop bedien, was daar altyd lidmate wat onseker geraak het oor hulle doop as babas, en weer gedoop wou word.

Ook by kerke wat die kinderdoop verwerp, was daar altyd lidmate wat grootgedoop is, maar onseker oor hulle doop geraak het. In die meeste gevalle was hulle oortuig dat daar iets by hulle doop verkeerd was. Sommige het nog nie regtig die Here geken nie, ander het besware ontwikkel oor die persoon wat hulle gedoop het of die omstandighede en gebruike tydens die doop. Ook hulle vra dan om weer gedoop te word.

 

Die kerke wat die kinderdoop verwerp, is nie eenstemmig oor hoe om hierdie lidmate te hanteer nie. Die groter kerke probeer die lidmate tevrede stel omdat hulle oortuig is dat die doop nie ’n tweede keer bedien behoort te word nie. Daar is egter kleiner Pinksterkerke wat so ’n lidmaat weer doop. En eintlik is hulle konsekwent as ’n mens onthou hoe die Pinksterkerke die doop verstaan. Die Pinksterwêreld het ’n ander siening van die doop as die een in hierdie boek. In hierdie boek word uitgegaan van die doop as die werk van God in ons lewe. Die betekenisse van die doop het in dié rigting gewys (hoofstuk 2). Dit is God wat sy naam (sy gesag) oor ons laat afkondig, wat ons met Christus verenig, wat ons sonde vergewe, wat ons in die verbond en in die gemeente opneem. Ons kan dit nie doen nie. Dis sy gawes. Omdat die doop sy werk in ons lewe is, noem ons dit ’n sakrament.

 

Maar die grootste deel van die Pinksterwêreld sien die doop anders. Hulle lê besondere klem op die feit dat dit gelowiges is wat gedoop is in die Nuwe Testament. Volgens hulle beteken dit dat die doop ons belydenis, of ons getuienis, of ons vereenselwiging met Christus is, of ons oorgawe aan God. Dit sou dus in die doop nie gaan oor wat God doen nie, maar oor wat ons doen. Daarom praat hulle graag van geloofsdoop, getuienisdoop, belydenisdoop. Indien dit die betekenis van die doop is, is daar natuurlik geen probleem om iemand ’n tweede keer te doop nie. As die persoon nog nie regtig die Here by sy/haar eerste doop geken het nie, was die doop dan ongeldig omdat die persoon nog nie sy/haar geloof kon bely nie. Dan moet sulke persone eintlik ’n tweede keer gedoop word om hulle ’n kans te gee om werklik hulle geloof te bely.

 

Trouens selfs al was die persoon al ’n kind van die Here by die doop, kan daar tog niks mee verkeerd wees om weer gedoop te word sodat jy weer jou geloof kan bely, jou weer met Christus kan vereenselwig, jou lewe weer aan God oor te gee nie. Hierdie kleiner Pinksterkerke is dus eenvoudig konsekwent as hulle sulke lidmate weer doop. Dis ’n goeie geleentheid vir nog ’n oorgawe en nog meer toewyding.

 

Maar die siening van die doop in hierdie boek maak ’n tweede doop ’n baie moeilike saak. As dit in die doop gaan om God se werk in ons lewe, om sy gesag oor ons, om sy werk om ons met Christus te verenig, om ons in die verbond op te neem, is dit tog moeilik om ’n tweede doop te regverdig. God hoef tog nie weer sy gesag oor ons te laat afkondig of ons weer met Christus te verenig en in die verbond op te neem nie. Wat Hy eenmaal gedoen het, is tog gedoen.

 

In terme van ons siening van die doop, is dit dus volkome konsekwent as ons huiwer om iemand weer te doop. Maar presies op hierdie punt het sake in die verlede dan erg skeefgeloop. Lidmate wat weer gedoop wou word, is dan veral deur die Pinksterkerke oorgedoop. En daar is waarskynlik niks wat in die vorige eeu die verhouding tussen die Pinksterkerke en die Gereformeerde kerke slegter beïnvloed het nie (hoofstuk 1).

 

Maar ’n mens moet versigtig wees wat jy in hierdie verband skryf. Daar is verskillende sienings. Indien ’n mens die kinderdoop aanvaar, is jy oortuig dat hierdie lidmate  oorgedoop word, ’n tweede keer gedoop word. Maar ’n Pinksterkerk of ’n Baptistekerk wat nie die kinderdoop aanvaar nie, is oortuig dat hierdie mense nog glad nie regtig gedoop is nie eenvoudig omdat die kinderdoop nie regtig ’n doop is nie, en daarom meen hulle dat hulle hierdie mense nou eers regtig doop.

 

Maar hoe ’n mens ook al hierdie verskille verstaan, dit het erge spanning en verwydering tussen hierdie groepe kerke gebring. Die wyse waarop die Pinksterkerke die mense hanteer het, het verdere aanstoot gegee. In die meeste gevalle is hierdie mense eenvoudig gedoop en gelos. Daar is nie van hulle verwag om lidmate van die Pinksterkerk te word nie. Dit het beteken dat hierdie kerke opgetree het sonder veel respek vir die kerk van waar hierdie mense gekom het. Ironies was dit eintlik ook nie vir die Pinksterkerke nodig om hierdie mense as lidmate te probeer werf nie. Die kerke waaruit hulle gekom het, het so negatief teen hulle opgetree dat hulle eenvoudig oorgegaan het na die Pinksterkerke en later ook na die Charismatiese kerke.

 

Kom ons neem die NG Kerk se optrede as voorbeeld. Tot in die laaste dekade van die vorige eeu het die NG Kerk nog van hierdie lidmate verwag om hulle nuwe oortuigings te laat vaar, te bely dat hulle verkeerd gedoen het, en “terug te kom”. Hulle is uit sinvolle deelname aan die gemeentelewe uitgesluit. Hulle kon onder tug kom, dus van die nagmaal weerhou word, en selfs uit die gemeente en die “koninkryk” uitgesluit word met die kerklike ban! Indien jy nie verstaan presies wat dit beteken nie, is dit ook maar goed. Maar dis erg!

 

’n Mens moet jou die verwarring in die gemoed van hierdie “oorgedoopte” lidmate probeer voorstel. In ’n ondersoek na die redes waarom lidmate van die NG Kerk hulle laat oordoop ((Oor-)doop – Waarom? En daarna? 1997), is bevind dat 93% twee antwoorde gegee het:

♦   Hulle is gelei deur die Gees.

♦   Hulle doop was vir hulle ’n stap van gehoorsaamheid aan die Here.

 

Om nou van hierdie mense te verwag om te bely dat hulle verkeerd was, en boonop binne ’n kort tyd tot hierdie belydenis te kom, was nie net onsinnig nie, maar ook ongevoelig. Dit het geen begrip getoon van hoe mense se godsdienstige gevoelens en oortuigings werk nie. Dit het net so min respek vir hierdie lidmate getoon as wat die Pinksterkerke vir hierdie kerke getoon het. Kort voor die einde van die eeu het die NG Kerk ander besluite geneem. Daar sou voortaan net gepoog word om hierdie lidmate tot beter insigte terug te bring, maar hulle kon sinvol voortgaan in die gemeente. Dit is dan ook wat in die algemeen in die gemeentes van die NG Kerk gebeur, in elk geval in die vernuwingsgemeentes.

 

Maar intussen het die kerke wat die kinderdoop erken, honderd-duisende lidmate op hierdie manier verloor. Verreweg die grootste deel van die Pinksterkerke en die Charismatiese kerke se lidmate kom uit die NG Kerk, of is kinders van oud-NG lidmate.

 

Dit sal interessant wees om nou na twee sake te kyk.

♦   Waarom kry soveel lidmate probleme met die kinderdoop?

♦   Is oordoop regtig ’n doop?

In beide gevalle word gevra of ’n bepaalde vorm van doop  (oordoop en kinderdoop) regtig nog die ryk betekenis van die doop volgens die Nuwe Testament kan hê.

 

 

leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 

image_pdfimage_print

You may also like...