Die Here wou vir Moses doodmaak!
Die Here wou vir Moses doodmaak! – Francois Malan
Yvonne vra:
Eksodus 4:24: Toe Moses-hulle een nag by ’n plek langs die pad geslaap het, het die Here daarnatoe gekom. Hy wou vir Moses doodmaak (Bybel vir almal). Waarom sou die Here vir Moses wou doodmaak?
Antwoord
Prof Francois Malan antwoord:
Die kort verhaal (Eks.4:24-26) van Moses se terugkeer na Egipte, nadat hy vir 40 jaar in Midian by sy skoonvader gebly het, is een van die moeilike tekste in Eksodus, soos Abraham wat vir Isak moes gaan offer (Genesis 22:1-19) en Jakob se worsteling met God die nag by Pniël (Genesis 32:24-32). Daar is ook in die verlede verskillende verklarings vir dié Moses-verhaal gegee. Hier word enkele opmerkings oor die gedeelte gemaak:
Moses is op pad terug na Egipte, deur die Here gestuur om die volk, met wie die Here reeds in Abraham se tyd ‘n verbond gesluit het, uit te lei uit Egipteland, waar hulle al 400 jaar lank woon, en nou slawe-arbeid verrig.
Dit is nie seker of dit Moses was wat nog nie besny is nie (toe hy as baba tussen die riete in die Nyl weggesteek is nie), of dat hy nie sy eerste of tweede kind besny het nie, maar Sippora het dadelik geweet wat die probleem is toe dit blyk dat Moses aan die doodgaan is. Moontlik was die besnydenis as teken van die verbond iets waaroor sy en Moses al vroeër gepraat het. Dit word nie gesê wat aanleiding gegee het tot die uitspraak dat die Here vir Moses wou doodmaak nie – moontlik ‘n skielike ernstige siekte wat hom op die pad oorval het?
Die probleem is die besnydenis, wat die teken is van God se verbond met Israel, en nou moet Moses as leier van die verbondsvolk gaan optree. Voordat hy Egipte ingaan moet die saak eers reggemaak word. Daarom stop die Here hom in sy spore om ook die uiterlike teken van die verbond in sy gesin reg te maak.
Nadat Israel, wat almal voor die uittog uit Egipte besny is, vir 40 jaar in die woestyn rondgeswerf het, omdat hulle nie wou luister en Kanaän binnegaan toe die Here so gesê het nie, moes al hulle kinders ook almal eers met klipmesse besny word voordat hulle Kanaän ingetrek het (Josua 5:2,3), soos Sippora met haar seun gemaak het.
Dat sy die voete van Moses aangeraak het met die seun se afgesnyde voorhuid is dan die bewys aan die sterwende Moses dat dit wel gedoen is (voete word soms gebruik as eufemisme vir die geslagsdeel).
Sy noem hom haar bloedbruidegom. Hy word in die lewe gehou, maar slegs deur bloedstorting.
Toe God sy verbond met Israel by Sinai gemaak het, is die helfte van die bloed van die offerdier
gesprinkel op die altaar, wat die Here verteenwoordig, en die ander helfte is op die volk gesprinkel, as teken die verbond, van hulle verbintenis aan die Here en sy gebooie (Eks 24:3-8).
In die nuwe verbond word Jesus met ‘n ‘bruidegom’ vergelyk (Mat.9:15; Mark. 2:19; 5:34; Joh.3:29). Met sy bloed sluit God sy nuwe genade-verbond met ons (Hebr. 10:19; 13:12; Efes. 1:7; Kol.1:20; 1 Petr.1:2,19; 1 Joh 1:7) By die nagmaal bely ons dat ons deel geword het van Jesus se kruisdood vir ons sonde, terwyl die brood ons herinner aan sy liggaam wat vir ons gebreek is, en die wyn ons herinner aan sy bloed waarmee God se nuwe verhouding met ons bevestig is, naamlik dat Hy ons aangeneem het as sy kinders, omdat ons aan sy Seun verbind is deur die geloof wat die Heilige Gees in ons harte bewerk het (Mat. 26:26-28; 1 Kor 11:25; Rom 8:9-17).
Skrywer: Prof Francois Malan