Hoop is skaars

image_pdfimage_print

The fact that I think that I am following your will does not mean that I am actually doing so. But I believe that the desire to please you does in fact please you – Thomas Merton (Thoughts in Solitude)

 

Hoop is skaars

As ons praat van hoop is Sefanja nou nie ‘n boek waaraan ons onmiddellik dink nie. Nie minder as twee en ‘n half van die boek se drie hoofstukke gaan oor diegene wat ander gode as YHWH dien.

Hulle aanbid vir Baäl (1:4), die hemelliggame (1:5), Milkom (1:5). Niemand ontsnap die profeet se ontsteltenis nie – die afgodspriesters (1:4), amptenare en prinse (1:8), die handelaars (1:11). Kortliks: almal wat in hulle selftevredenheid dink: die Here doen nie goed of kwaad nie (1:12).

 

Wat gaan gebeur met hierdie mense wat God verwerp?  Hulle besittings gaan geplunder word, hulle huise verwoes word. Hulle sal huise bou, maar nie daarin woon nie, wingerde plant, maar nie die wyn drink nie (1:13). God verwerp hulle net soos hulle Hom verwerp het.

 

In Hoofstuk 2 val die profeet die aanbidding en praktyke van die nasies om Israel aan: die Filistyne, dan die Moabiete en Ammoniete, die Kussiete (antieke Etiopiërs) en selfs die magtige Assiriërs. In 3:1 – 7 keer hy na die sondes van Jerusalem terug, maar in 3:8 – 13 kyk hy weer wyer as Israel. Maar die toorn van God word deur sy vrede en rus gevolg. Dat rus en vrede sal kom, is seker; wanneer dit sal gebeur, is onseker.

 

Ons leef in ‘n wêreld wat nie van dié van Sefanja verskil nie. Ons kan 3:14 – 20 nie verstaan as ons nie die agtergrond van die voorafgaande hoofstukke het nie. Ook Jesus is in so ‘n wêreld gebore – die goddelose wêreld van die Romeinse Ryk – ‘n wêreld vol afgode en inhaligheid en vals gode.

 

As die profeet  dan sy lied in 3:14 sing, vergeet ons baie maklik die kwaai woorde wat die lied vooraf gegaan het. Luister net na sy lied: Sing, Sion! Juig, Israel! Wees met alles wat jy is, vrolik en bly, Jerusalem! Soos in 3:15 hoop ons saam met die profeet vir die dag wanneer die Here ‘n einde maak aan die straf en die vyande laat padgee. En dan die vreugde: Die Koning van Israel, die Here, is by jou; jy hoef geen ramp meer te vrees nie.

 

Die lied sluit af: Wanneer die tyd daar is, laat Ek julle kom, maak Ek julle bymekaar en gee Ek aan julle roem en eer onder al die volke op aarde; dit is die tyd wanneer Ek julle lot verander, julle sal dit met julle eie oë sien, sê die Here (3:20). As ons die Ons Vader-gebed bid en vra: Laat u koninkryk kom,  sê ons dat ons wil hê dat God ons lewens op aarde moet beheer. Ons leef nie tans in ‘n wêreld wat deur God beheer word nie – ons verlang en bid vir daardie wêreld; daardie wêreld is aan ons beloof.

 

Ons leef nog in die wêreld van Sefanja 1 – 3:7 – ‘n wêreld van oorlog en gierigheid; ‘n wêreld wat nie in God glo nie. Maar ons het nog die belofte en ons klou daaraan vas.

 

image_pdfimage_print

You may also like...