Die Tien Gebooie as hoofwet
Die Tien Gebooie as hoofwet – Francois Malan
Jan Smith vra:
Die tien gebooie blyk vir my die “Hoofwet” te wees terwyl die ander by-wette en/of regulasies is wat die dag tot dag gedrag en lewenswandel van Israel gereël het. Ek verwys hier na die seremoniële wette, die morele wette en juridiese wette soos mens dit kry in Eksodus en Levitikus —- of vorm hulle almal saam die Wet van Here?
Jesus het gesê dat Hy nie gekom het om die wet tot niet te maak nie maar om dit te vervul. Het Hy nou hier na die Tien Gebooie verwys of was dit die totaal wat ook die by-wette en saamgestelde wette insluit. Nou was daar glo 692 (?) bykomende oorlewerings “wette” wat deur die leiers van Israel bygevoeg was.
In sommige kerke word die Tien Gebooie nog elke Sondag gelees maar daar is niks melding van die by-klousules en regulasies nie. Baie gelowiges voel erg oor die wet en daar is aanbieders van programme wat CD na CD dorp na dorp stad na stad vrystel/besoek om die reg van die Sabbat heringestel te kry.
Galasiërs handel oor die wet en hy sê: Die wet is onmagtig om te red maar dit lei ons na Christus.
Niemand word deur die wet by God geregverdig nie. Die wet was ‘n Tugmeester na God toe totdat die geloof gekom het om ons los te koop van die vloek van die kruis. Besnydenis of onbesnydenis het geen waarde by God nie. Slegs die geloof soos Abraham wat in God geglo het en die is hom tot geregtigheid gereken. Die wat besny moet die wet ten volle hou. Breek jy een breek jy almal.
Vrae: Is die Tien Gebooie dus die Hoofwet by die koms van Christus toe Hy dit kom vervul het?
Hoekom wil sekere Skrifuitlêers aandui dat die wet steeds geldig is en letter vir letter van toepassing is?
Is dit korrek dat Christus die wet gewysig het om te lees: “Jy moet die Here jou God liefhê en jou naaste soos jouself.
Indien die voorgaande waar is beteken dit, myns insiens, dat daar ‘n vloek oor die onderhawige gemeente uitgespreek word met die lees van die wet – omdat geen mens dit wel kan onderhou nie?
Antwoord:
Prof Francois Malan antwoord:
Daar is drie gebruike van die wet: (i) daaruit leer ek deur my hele lewe my sonde en ellende beter ken (Romeine 7:7), en dit dryf my tot Christus en sy genade (Galasiërs 3:24); (ii) dit het betekenis as riglyn vir die burgerlike orde van die samelewing; (iii) dit is die aanwysing vir die gelowige se lewe van dankbaarheid teenoor God vir sy verlossing en hoe ons ons moet gedra in die groot huisgesin van God, wat ons uit genade deur Christus se lewe en sterwe en opstanding aangeneem het as sy kinders, en ons deur God die Heilige Gees, wat in ons kom woon het, wil leer om as kinders van God, Jesus se voorbeeld en woorde te volg (2 Kor 3:18; Rom 8:9-17).
Jesus het nie die wet gewysig nie, maar saamgevat in die liefde tot God en tot my naaste (Matt 22:37-40). Die eerste vier van die tien gebooie handel bv. oor ons verhouding tot God, en die laaste ses oor ons verhouding tot ons medemens (Eks.20:1-17). Maar Jesus het ook op die wet en die profete uitgebrei in die bergrede (Matteus 5-7) om hulle hulle volle betekenis te laat kry (Matteus 5:17) en ‘n kort praktiese toets daarvoor gegee in die goue reël van 7:12 Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete (vgl. ook Paulus se uiteensetting van die wet in Romeine 12:9-21 en 13:8-14).
Christus het ons vrymaak van die vloek van die wet wat vereis dat ek my eie verlossing moet bewerk met my goeie werke om God te behaag. Dit was ook nie die bedoeling met die tien gebooie volgens Eks. 20 nie. Die tien gebooie begin met die verlossing van Israel uit die slawerny van Egipte (20:2) om sy volk te wees wat Hom liefhet (Eks 20:3-11; vgl. Deutr.6:5 Omdat die Here ons God is, moet jy Hom liefhê met hart en siel, met al jou krag), en mekaar liefhê (Eks. 20:12-17; Levitikus 19:18 ‘jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here wat so sê’; Jesus sê in Matt 5:43-48 Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir die wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel wat sy son laat opkom oor slegtes en goeies, en laat reën oor die wat reg doen en oor die wat verkeerd doen).
Die by-klousules en regulasies oor die offers vir die sonde is vervul deur God self toe sy Seun gesterf het vir die sonde van die hele wêreld (Johannes 1:29), vir die mense van die Ou Testament en van die Nuwe Testament. Die offers was maar ‘n skaduwee van wat sou kom, en wat nou deur God afgeskaf is (Hebreërs 10:1-10 ons is vir God afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd). Paulus sê ons moet onsself aan God gee as ‘n lewende offer, toegewy om in alles te lewe as God se kinders en toe te laat dat Hy ons denke vernuwe om te onderskei wat vir God goed en aanneemlik is (Rom 12:1,2).
Jesus het selfs die sabbat se betekenis verander en gesê: My Vader werk tot nou toe en Ek werk ook (Joh. 5:17; vgl. Mark 2:27 en 3:4; Kolossense 2:16,17; Romeine 14:5,6).
Dit is tog nodig dat die wet van die Here vir die gemeente voorgehou word as maatstaf vir ons lewe, nie slegs die negatiewe ‘jy mag nie’ van Eks 20 wat die grense vir ons optrede aandui nie, maar ook die positiewe vervulling van die wet met die liefde van God, waarin ons lewe gewortel en gegrond moet wees deurdat Christus deur geloof in ons kom woon (Efesiërs 3:17)
Skrywer: Prof Francois Malan