Die sondes van die vaders toegereken aan die kinders – vloek of eie toedoen? (Eksodus 20:5-6)

image_pdfimage_print

DIE SONDES VAN DIE VADERS TOEGEREKEN AAN DIE KINDERS – VLOEK OF EIE TOEDOEN? (EKSODUS 20:5-6)

Eksodus 20:5-6 word dikwels gebruik om God as ‘n toornige en onvergewensgesinde God voor te stel wat mense vervloek. En dan ly tot die vierde geslag daaronder, teen wil en dank. Niks is egter verder van die waarheid af nie. God is haastig is om te vergewe. Dis mense wat nie wil verander nie, en dan geslagte lank ly onder hulle hardheid van hart.

Daar word soms gesê dat daar ‘n vloek op individue of families rus. Hulle kan net niks reg doen nie. Selfs al probeer hulle wat, blyk dit telkens tevergeefs te wees. En dan word dit dikwels met die woorde van die 2e gebod in verband gebring, naamlik dat God die sondes van die vaders aan die kinders toereken tot in die derde en vierde geslag. Eers daarna word die “vloek” opgehef en is daar hoop op ‘n beter toekoms. Maar nie voor die tyd nie. Is dít die bedoeling van Eksodus 20:5-6?

Eers moet mens erken dat dit waar is dat ‘n situasie van geslag tot geslag kan voortduur. Dit geld van baie dinge, byvoorbeeld armoede, sekere siektetoestande (liggaamlik of geestelik), (slegte) gewoontes (soos vroue- en kindermishandeling), ensovoorts. En die rede hiervoor is gewoon dat kinders grootword in en blootgestel word aan gedragspatrone wat hulle dan na-aap wanneer hulle groot is en op hulle beurt weer oordra op hulle kinders. En so duur die bose kringloop voort.

Maar dit beteken nie dat so ‘n situasie aan God se vloek of, nog erger, aan die werking van demone toegeskryf mag word nie. Want dan kry dit die kleur van een of ander bo-natuurlike mag oor ‘n mens waaraan jy nie kan ontsnap en waaroor jy geen beheer het nie. So-iets ruik ook na determinisme – jy is voorbestem, gedoem tot mislukking; jy kan niks daaraan doen nie.

Maar dít is glad nie die bedoeling van Eksodus 20:5-6 nie. Kom ons let net eers op die gewone grammatika van die teks. Die werkwoorde wat hier voorkom, is nie in die “eindige” vorm nie, maar in die vorm wat voortgaande handeling aandui. Ons moet dus vertaal: “Ek is besig om die sondes van die vaders aan die kinders toe te reken tot in die derde en vierde geslag van dié wat besig is om My te haat.” God het dus nie eenmalig ‘n vloek uitgespreek en, kom wat wil, nou ly mense onder daardie vloek nie. Wat eintlik gebeur, is dat solank as wat mense volhard in sonde en God se wil minag, só lank vreet die kanker van sonde voort en ly mense daaronder. In ‘n sekere sin is mense dus die skeppers van hulle onheil. God verdoem nie by voorbaat ouers en hulle nageslag tot ‘n lewe van swaarkry nie. God vaardig nie onveranderlike dekrete uit nie, maar dis mense self wat volhardend téén God kies, wat weier om hulle weë te verander, en dan oor geslagte heen daaronder ly. En God “eerbiedig” mense se keuses, selfs hulle slegte keuses. En Hy ly net soveel daaronder as die mense self. Want dis nie sy wil dat mense moet swaarkry onder hulle sonde nie.

Maar mense kan verander, tot bekering kom, en dan word daardie bose kringloop deurbreek. En dan begin weer ‘n nuwe kringloop – ‘n goeie een waar mense God liefhet en sy gebooie gehoorsaam, en as gevolg daarvan die seën van God geniet, tot in die duisendste geslag.

Dis opmerklik dat God se liefde en genade veel oorvloediger en effektiewer is as sy “straf” (eintlik straf mense hulleself deur hulle ongehoorsaamheid). Want Hy reken die sonde toe slegs tot in die vierde geslag, maar sy liefde strek tot in die duisendste geslag, eintlik tot in die oneindigheid. Wat nogmaals die hart van God blootlê: Hy is haastig om te vergewe en traag om te straf; Hy bly nie vir altyd toornig nie, Hy reken nie vir altyd die sonde toe nie (vergelyk Psalm 103:8-14; Jesaja 57:16).

Die punt is: Mense is nie deur een of ander permanente vloek gedoem tot die voortsetting van ‘n lewe van haat teen God nie. Dit kan verander! God is nie haatdraend nie. Dink maar aan die gelykenis van die verlore seun (Lukas 15). Hoeveel leed en pyn moes hy nie sy vader veroorsaak het nie. En tog, toe hy besluit om terug te keer na sy ouerhuis toe het sy pa hom met ope arms ontvang.

Wie dus aan Eksodus 20:5-6 ‘n kleinlike beeld van God wil ophang wat links en regs vervloek en mense verdoem tot in die verre nageslag toe, doen ‘n onreg aan hierdie teks en aan God. Dis presies hoe Hy nie is nie.

 

Skrywer: Prof Hermie C van Zyl

 

image_pdfimage_print

You may also like...