Wit rook; swart rook
Self-image, the concept we have of ourselves, must begin not by looking in the mirror, but by looking into the face of God. —Sam Storms
Wit rook; swart rook
Baie mense het die afgelope tyd voor hulle televisiestelle vasgenael gesit met alle oë op die koper skoorsteen van die Sistynse kapel. Min mense het voor die afgelope paar dae geweet wat fumata nera en fumata bianca – swart rook en wit rook beteken het.
Hierdie rook kom deels van die verbranding van die stembriewe in ‘n spesiale stoof binne die kapel. Tradisioneel het die Vatikaan nat strooi (wit) of teeragtige pik (swart) bygevoeg om die verlangde kleur te verkry. Ons weet klam gras gee ‘n wit kleur aan rook en as jy bande verbrand, kry jy ‘n swart kleur.
Hoekom het die Vatikaan die prosedure verander? Tydens vorige verkiesings was die rook soms so ‘n vae grys – niemand was presies seker of dit nou swart of wit was nie. Daarom is in 2005 besluit om ‘n meer betroubare manier te gebruik om die kleur aan te dui – chemikalieë.
Vir swart rook word ‘n mengsel van kaliumperkloraat, swael en antraseen gebruik en vir die wit rook ‘n mengsel van kaliumkloraat, laktose en die hars van ‘n keëldraende plant. Hierdie hars is blykbaar dieselfde wat vioolspelers gebruik om hulle viole se snare voor te berei.
Die hele sisteem is daarop ingestel om foute uit te skakel. Die skoorsteen word elektries verhit en daar is ook waaiers om te verseker dat die rook uitborrel. Die chemikalieë en stembriewe word in twee afsonderlike stofies langs mekaar, maar met ‘n gesamentlike skoorsteen, verbrand.